Dagbeplanner inspireer, help behoeftige vroue

Benette Welman, die FroueVonds se projekorganiseerder, Demi Lee Moore en René Roux, Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie. (Foto: Verskaf)

Die FroueVonds*, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, het pas ’n dagbeplanner vir 2021 vrygestel.

Dié A5-grootte hardebandbeplanner word deur Finesse Voelgoed-tydskrif uitgegee en bevat daaglikse inspirasiestukkies deur Lynette Beer, ʼn lewensverrykingspesialis.

Benette Welman, die FroueVonds se projekorganiseerder, sê die FroueVonds Dagbeplanner 2021 kombineer styl en inspirasie, met ’n bladsy per dag vir afsprake om ’n vrou in staat te stel om elke dag haarfyn te beplan en haar tyd optimaal te benut. Daar is ook genoeg skryfplek vir notas, verjaarsdae, vergaderings en ’n inkopielys.

“Aan die begin is daar ’n jaarkalender sodat jy met ’n oogopslag kan sien wat alles moet gebeur, asook kalenders vir 2021 en 2022, openbare vakansiedae, skoolkwartale en méér.

“Deur die FroueVonds se dagbeplanner aan te koop verseker jy terselfdertyd dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik maak. R50 van elke dagbeplanner word in die FroueVonds teruggeploeg. Vir ons is dit ’n sleutel in die hand om ’n deur tot ’n beter toekoms vir iemand anders oop te sluit,” voeg Benette by.

Demi Lee Moore is ’n trotse ambassadeur van die FroueVonds en moedig vroue aan om die dagboek aan te skaf.

“My gunstelingdeel is die blokkies vir verjaarsdae, want ek is baie sleg daarmee om verjaarsdae te onthou. Ek is ook gaande oor die daaglikse inspirasiestukkies! Lynette Beer inspireer jou om te fokus op wat regtig saak maak, asook om geloof deel van jou daaglikse roetine te maak,” sê Demi Lee.

Die boek is tot die einde van Oktober teen ’n spesiale aanbod van R159 per boek beskikbaar – daarna is die boek die gewone prys van R199. Mense wat twee boeke gelyktydig aankoop, kan dit teen ’n spesiale aanbod van R298 (R149 per boek) doen.

Besoek www.frouevonds.co.za vir meer inligting en om bestellings te plaas.

*FroueVonds word doelbewus verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.