Die dag toe dit krismiskoek gereën het

(Foto: Pixabay)

Deur Wendy Maartens

Wie sou kon raai dat dit 123 jaar gelede op Kersdag krismiskoek in Ladysmith gereën het?

Elke keer as ek aan hierdie besondere gebeurtenis dink, bevestig dit net weer vir my dat ons Boeremense se harte op die regte plek is. Daar word gesê ons trek dwars, ons stig graag af en partykeer is ons sommer net obsternaat. Maar van een ding kan ons nimmer as’t nooit beskuldig word nie – en dit is ʼn gebrek aan gasvryheid. En waar kry ʼn mens nou ʼn beter bewys as hierdie storie?

*****

Aan die begin van die Anglo-Boereoorlog het die handjievol Boere in die destydse Natal die een oorwinning ná die ander behaal. Mettertyd het hulle egter baie swaar teen die oormag Britse soldate gekry. Hulle moes maar eet wat hulle op die geplunderde plase of in die veld kon kry, terwyl daar met skepe en treine vir die Engelse soldate allerhande soorte lekker kos en vragte boeliebief aangery is.

Veral Kersfees is daar vragte lekkernye ingevoer sodat die Engelse soldate behoorlik kon feesvier.

Maar soos die spreekwoord sê: ʼn Boer maak ʼn plan. En dit was nie lank nie of die treine en konvooie ossewaens met lekkernye is in hinderlae gelei. Sommer gou het die Boere feesgevier, terwyl die Kakies maar net kon wonder wat van hul krismiskoek geword het.

Een van die konvooie het uit 56 waens en meer as 500 rydiere bestaan. Daar was ook ʼn klomp ammunisie by wat die Boere broodnodig gehad het. Boonop is al die Engelse soldate wat die konvooi bewaak het gevange geneem.

Soos ons boeremense nou maar eenmaal is, was daar altyd iemand wat die Kakies jammer gekry het. Sommer gou is die koek en tertjies in die gees van Kersfees met die gevangenes gedeel en het almal saam Kersliedere gesing. Daar is selfs oor en weer foto’s van geliefdes gewys en almal het saam gewens die oorlog was al verby sodat hulle kon huis toe gaan.

Desember 1899 was ʼn Kersfees wat die inwoners van Ladysmith nie sommer sou vergeet nie. Kommandant-generaal Piet Joubert se manne het die Engelse wat daar vasgekeer was, met Long Tom-kanonne bestook. Dié nuwe soort Franse kanonne was vuurvreters wat hul reuse-bomme tot 11 km ver kon skiet. Die Engelse kon skaars asemhaal soos die Boere hulle van ligdag tot saans donker gepeper het.

ʼn Paar dae later spring hul bevelvoerder, generaal White, net-net die dood vry toe hulle hoofkwartier platgeskiet word en die stadsaal se kloktoring met ʼn aardige ‘donggg’ kort daarna flenters geskiet word.

Oukersaand het generaal White glo vir een van sy kommandante gesê: “Ek is seker die Boere sal ons darem Kersdag ʼn blaaskans gee. Soos ek hierdie mense ken, sal hulle ʼn kerkdiens hou en die res van die dag vreedsaam deurbring.”

Die son het daardie Kersoggend skaars oor die spoggerige Kersboom opgekom wat generaal White spesiaal vir die inwoners van Ladysmith laat oprig het, of die dorp word deur die gedonder van ʼn Long Tom wakker geskud.

Generaal White, wat ʼn rustige Kersdag te wagte was, was so vies dat hy sommer in sy lang wit onderbroek uit die tent gehardloop het. “As ek daardie befoeterde Boere in die hande kry…” het hy glo eers gedreig voor hy besef het dat hy sy onderklere aan het en weer net so vinnig in sy tent verdwyn het.

Almal het plat geduik en gewag dat die bomme ontplof. Maar in plaas van dood en verwoesting, het daar ʼn doodse stilte neergedaal.

Eers was almal te bang om ʼn vinger te verroer. Later het een Kakie sy kop opgelig. En toe nog een. En nog een.

“Moenie nader gaan nie”, het ʼn rooikopoffisier beveel. “ʼn Mens weet nooit of dit ʼn nuwe Boeretruuk is nie!”

“Nog ʼn paar minute het verbygetik en steeds het daar niks gebeur nie.

“Kry gou die bomdeskundiges!” het ʼn ander offisier met spoggerige wangbaarde geroep. “Ons kan nie heeldag hier lê en wonder wat die Boere in die mou voer nie!”

Terwyl almal nuuskierig uit hul skuilplekke geloer het, het die bomdeskundiges stadig nadergekruip en van die bomme versigtig oopgeskroef.

Skielik het een ʼn hand vol van die dodelike plofstof geskep en dit in sy mond geprop. “Mmm… lekker!” is al wat hy kon uitkry.

“Moenie my vir die gek hou nie!” het die kwaai offisier met die wangbaarde geskel.

“Mmm…” is al wat die bomdeskundige steeds kon uitkry terwyl hy sy vingers een vir een afgelek het.

“Hier is nie ʼn krieseltjie plofstof in nie, Luitenant! Dis krismispoeding. Alles krismispoeding!,” het hy uitasem uitgeroep.

“Laat ek self sien,” het die offisier uitgeroep wat intussen uit sy skuilplek opgespring het om die bom uit die jonger man se hande te ruk. “En vee sommer die krummels uit jou snor!”

“So by my kool,” was al wat hy verbaas kon uitkry. “Dalk is al die stories wat ons oor boeregasvryheid gehoor het tog die waarheid.”

“Kyk, Luitenant, daar is iets op die omhulsel geskryf,” het die bomdeskundige hierdie keer versigtiger beduie.

With the Compliments of the Season,” het die luitenant die boodskap gelees wat ʼn Boerehand in skewe letters op die omhulsel uitgekrap het.

Vir die eerste keer vandat die Engelse soldate in hierdie vreemde land met sy bloedige son aangekom het, sien die kwaai luitenant se manskappe ʼn effense glimlag om sy mondhoeke. “Die Boerevolk mag klein wees,” het hy skaars hoorbaar geprewel, “maar hul harte is veel groter as wat ons dink.”

Net vir daardie een dag het daar vrede aan die gevegsfront geheers. Boer en Brit het eredienste gehou, met sport en speletjies ontspan en grappe gemaak omdat dit sowaar op Kersdag krismiskoek gereën het.

Die volgende dag het die Long Toms weer douvoordag die praatwerk gedoen.

Ons sal nooit weet wie die Boerekrygers was wat die res van die wêreld gewys het dat ʼn hand van vriendskap te midde van ʼn oorlog uitgereik kan word nie. Al wat ons weet, is dat hul eiesoortige dapperheid vir ʼn soete herinnering gesorg het waaraan menige Boer en Brit die res van die bitter stryd kon vashou terwyl tienduisende rondom hulle gesterf het.

  • Hierdie vertelling is ʼn gedeelte van die volledige verhaal wat in die bundel Suid-Afrikaanse helde en ikone (Lapa, 2013) verskyn. Die bundel is tans uit druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.