Dié skrywers wen met kinderstories

Van links na regs is Ruan Smith, Karina de Kock, Jenny Boon, Rikus Fick. (Foto: Verskaf)

Uit nagenoeg 300 inskrywings is Jenny Boon en Katrina de Kock vanjaar as die wenners van die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) se Ken jou storie-kinderboekskryfkompetisie aangewys.

Met haar storie Willem die Witgatboom het Boon die kategorie vir 4‑ tot 6-jariges gewen. Sy het ook self die illustrasiewerk gedoen. De Kock se storie Henk se Avontuur met die Boseier het eerste in die kategorie vir 7‑ tot 9-jariges geëindig en die boek is deur Ruan Smith geïllustreer.

Die kompetisie is in samewerking met Pretoria FM en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) aangebied en die wenners is tydens ʼn spogfunksie by Aros se nuwe kampus in Montanapark, Pretoria, bekendgemaak.

Lees meer oor die wenstories:

Willem die Witgatboom

Willem die Witgatboom se wortels is baie diep. Selfs as dit droog is in die Kalahari bly sy blare nog groen. Hy beteken baie vir die mense en diere in sy omgewing, maar dan dreig daar gevaar…

In hierdie boek maak kinders op ʼn spannende en speelse wyse met die ongelooflike eienskappe van die witgatboom (Boscia albitrunca) kennis. Dit is die boom met die diepste wortels op aarde en behalwe dat dit heerlike skaduwee verskaf, besit sy blare ook geneeskragtige eienskappe. Reënwater word in sy hol stam versamel en ʼn mens kan koffie van sy wortels maak.

Henk se Avontuur met die Boseier

Henk en sy oupa bly in die Soutpansberg. Tydens een van hulle wandelinge in die bos vind Henk ʼn reuse-eier. By die huis sit hy dit in ʼn ou skoenboks en gooi ʼn handdoek bo-oor. Hy het by Oupa gehoor dat eiers warm gehou moet word as jy wil hê dat dit moet uitbroei. Watter eier dié ook al is, hy wil hê dat dit moet uitbroei.

Die boeke kos R100 elk (prys onderworpe aan verandering). Bestel die boek deur ʼn e-pos na Fontein Uitgewery by [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.