Die veelsydige François Bloemhof

Francois Bloemhof (Foto: Facebook)

Deur Maryke Roberts

Die skrywer François Bloemhof het geen bekendstelling nodig nie. Met meer as 80 boeke agter sy naam en elke moontlike skryfprys op sy kaggelrak, is sy stories volksbesit. Sy nuutste boek, Vergeet my nie – gegrond op Mardaleen Derks wat Die Huisgenoot- en kykNET-fliekkompetisie met haar en haar man se liefdesverhaal gewen het – het sy eie uitdagings gebring, vertel hy aan Maryke Roberts.

Mardaleen se kortverhaal, “Op ’n fiets deur die sneeu”, het die kompetisie-beoordelaars beïndruk en Tarryn-Tanille Prinsloo het daarna die draaiboek geskryf. The Film Factory se Danie Bester was in die regisseurstoel.

Dis die tweede keer dat François ’n roman skryf nadat ’n kortverhaal ’n draaiboek geword het. Die fliek Vir die voëls is gegrond op ’n kortverhaal, “Slim vang sy baas” wat Irma de Klerk geskryf het vir ’n leserswedstryd waarin gesoek is na ’n draaiboek. Die storie vertel haar en Sampie de Klerk van Newcastle se liefdespad.

Hy het ook romans geskryf ná die trefferrolprente, Pad na jou hart en Vir altyd. Hy sê: “Lief soos wat ek vir rolprente is, glo ek ’n boek kan jou soms méér bied. Met boeke kry jy ’n kykie in karakters se koppe wat die slimste regisseur en beste akteurs jou nie kan gee nie. Veral sekere soorte stories vra vir daardie dieper blik.”

Die verhaal van Mardaleen Coetzer en die hartebreker, Hugo Derks, begin in 1997 op Potchefstroom. Haar hart breek toe haar trouman ontrou is en sy fokus haar aandag op haar reis na Londen ná haar studies. Maar toe loop sy haar in die kaalvoetstudent, Hugo, vas.

Toeval is ’n snaakse ding en sy ontsnap nie so maklik as wat sy gedink het nie.

Hul reis strek van Potch tot Londen en maak ook ’n Kaapse draai voor sy die stilte van ’n Namibiese plaas in haar hart saamdra. Dit was voorwaar geen eenvoudige paadjie nie.

Die uitgewers skryf: “Met skerp karakterisering en fyn hantering van emosie het François Bloemhof dié gegewens omskep in die soort liefdesroman wat jy nie dikwels aantref nie.”

Hy skryf in die voorwoord: “Daar is net een manier om ’n roman op ’n draaiboek te baseer. Gryp die bal en hardloop daarmee. Soos met Vir die voëls was dit vir my ’n baie interessante proses.”

Maar dat hy nie vir ’n uitdaging skrik nie, is gewis. François skryf vir die volwasse-, tiener- en jeugmark. Hy is al in elke kategorie bekroon, onder meer ook vir sy eerste roman, Die nag het net een oog, waarmee hy in 1991 die De Kat-prys gewen het . Dit word beskou as die eerste Gotiese riller in Afrikaans en lui sy literêre loopbaan in.

Hoekom ’n Gotiese riller?

“Dink aan Dracula en dan dink jy aan die vader van alle Gotiese rillers! Dit is dáárdie soort storie. Dit word vreeslik, nee, gruwelik afgeskeep in Afrikaans, maar ek het al deur die jare ’n bietjie omtrent die saak kon doen.”

Dis ook die prys wat vir hom uitstaan, want “ek was toe nog nie eens seker Afrikaans is gereed vir iets soos ’n Gotiese roman nie. Deur te wen, kon ek seker wees dit gaan verskyn. Ek is glad nie oortuig dit sou andersins nie. Daardie prys het my ’n voet in die deur gegee en ek is die beoordelaars ewig dankbaar.”

Sy pryse sluit etlike ATKV-Veertjies in, waar jong lesers self hul wenboeke aanwys. Hy het ook reeds bundels vir verskeie uitgewers saamgestel.

Daarbenewens het hy sukses behaal met teaterstukke (’n kabaret, Die wêreld wil weet en tienerstukke, Die dae toe ek Elvis was en Hel op Hemel-en-Aarde) en radiodramas soos Sê my alles, asook die radiovervolgverhale Susters en skandes en Almal se storie. Hy is ’n vryskuttaalpraktisyn asook -kopieskrywer, -resensent en -joernalis. Hy was ook al verhaleredakteur vir ’n tydskrif en boekeredakteur by ’n dagblad.

In 2002 span hy en Alistair Ackerman kragte saam vir die eerste prenteverhaal in Afrikaans. Hy skryf die teks van die Agent Snoet-reeks en Alistair behartig die illustrasies. Die prenteverhaal handel oor Agent Snoet en sy troeteldier Felino, die Siamese kat. Felino is eintlik die slim een sonder wie se hulp die arme Agent Snoet nie kan klaarkom nie.

François vertel hy het as kind veral van strokiesverhale oor superhelde gehou. “Daarom verskyn my eie, Kaptein Pipskwiek, vanjaar nog.”

Hy woon in Durbanville met “vier katte, met die nukke van veertig. Dis in werklikheid húlle huis en hulle is eintlik net in ’n goeie luim wanneer ek kos inskep.”

Ek lees iewers dat hy begin skryf het nadat hy as graad 11-leerder aan die Hoërskool Tygerberg by sy Engelse onderwyser 97% vir ’n kortverhaal behaal het.

Hy lag as hy vertel: “As jy my punte vir wiskunde gesien het, sou jy geweet het ek moes ’n loopbaan met woorde volg! Ek is gek na stories en kon aanvoel dat ek ook goeies sal kan uitdink. Eers het ek gedink dit sal kortverhale wees, omdat ’n boek na ’n té groot taak gevoel het om aan te pak. Toe kom ek later agter hoeveel lekkerder dit is om met ’n lang intrige besig te wees.”

Sy roman, Hostis (1998), is die eerste Afrikaanse boek met ’n oorspronklike CD-klankbaan. Hy sê hy kan heeldag sit en musiek luister.

“Met hierdie boek wou ek my liefde vir intrige en melodie kombineer en dit was heerlik om bekende, begaafde sangers en ander musiekmense daarvoor bymekaar te kry.”

Die speletjie (1999) is die eerste Afrikaanse boek wat met sy eie rekenaarspeletjie verskyn het. Hy verduidelik dis opwindend om grense te verskuif.

“Grense in die literêre wêreld is vir my soos rooi doeke voor ’n bul, hoewel die arme bulle minder van ’n sê in die saak het. Ek het hiervoor ’n speletjie uitgewerk wat die een in die boek weerspieël, behalwe dat die speler darem nie iets sou oorkom nie!”

Hy het twee boeke vir volwassenes, Dinge met tande (1995) en Sprong (1998) onder die skuilnaam Leo Bekker geskryf. En vele van sy tydskrifverhale onder die skuilnaam Frans Bruwer. Hy sê hy het in ’n stadium gedink hy moet enigiets wat afwyk van hoe bemarkers meen hy gesien moet word, onder ’n skuilnaam aanbied.

“Dit was voordat ek vir myself die saak uitgemaak het, dat dit geen sonde is om uiteenlopende fasette te hê nie.”

François wissel tussen romans, misdaadfiksie en jeugboeke. Mens wonder of dit vir sy eie sieleheil is? Hy sê dit hang maar net af wat volgende in sy kop kom.

“Die wêreld se finansieel suksesvolste skrywers is dié wat ’n patroon volg, maar ek sal nooit ’n lekker storie die deur wys omdat dit nie inpas by my sogenaamde besigheidsplan nie. Ek gril vir die idee van ’n besigheidsplan, dis so kil.”

Hy voel ook nie meer gemaklik in een genre as ’n ander nie, hoewel hy erken: “Spanning bly my eerste liefde. Daar kan egter in enige soort storie-elemente van die ander wees. Ek het ’n sin vir humor en dit kan maar deurslaan.”

François sê egter dat hy vroeg in sy skrywersloopbaan ’n besluit geneem het om min van sy eie grootwordjare, of sy lewe in geheel, in sy boeke te sit.

“Ek het al dikwels gesien hoe sommige mense net een boek in hulle het omdat hulle as’t ware hul siel aan die publiek oorgee. Dan kan hulle nog boeke skryf, maar óf dit oortuig nie óf dis weer dieselfde hoofkarakter.”

Terug by die liefdesverhaal van Mardaleen en Hugo. François vertel die grootste verskil tussen die draaiboek en roman was dat hy op die hoofkarakter se emosies en gedagtes kon fokus.

“Ek moes vanselfsprekend streng en getrou by die verhaallyn, situasies en dialoog hou, maar kon dit laat klop met hoe ek die karakter sien.”

Hy erken hy skryf met voorbehoud as hy weet dis regte mense se lewens waaroor hy skryf – sy karakters kom vir ’n verandering nie uit sy verbeelding nie. “Jy het dan ’n verantwoordelikheid wat jy nie andersins het nie – jy kan hulle nie enige ding laat dink nie.”

Mens wonder of die verhaal dan nog enigsins hulle s’n nadat dit eers ’n draaiboek en nou ’n roman is?

“Interessante vraag! Mense vra dit al baie lank oor omtrent alle biografiese rolprente – niks is ooit heeltemal lewensgetrou nie. Selfs mense se outobiografieë is nie ‘die waarheid’ nie. Wanneer jy vertel van iets wat laasweek met jou gebeur het, besef jy soms hoe die feite al verander het. Dis een van die dinge wat my so lief maak vir stories – die karakters neem oor!”

Ek erken aan hom dat dele van dié roman by tye voel asof dit ’n fiksieverhaal is. Die heen en terug van die liefde; die weet-hulle-is-vir-mekaar-bedoel, maar dinge werk net nie uit nie. Ek wonder of dit sy handewerk is, of ’n geval van “die waarheid is soms vreemder as fiksie”.

Hy lag. “As daar een ding is wat ek nié glo nie, is dit dat die waarheid vreemder as fiksie is! Jy kan met fiksie mos altyd die gebeure ’n entjie verder voer. Die werklikheid is vanselfsprekend vol beperkings. As dit dus na fiksie voel, dankie!”

In die boek het Mardaleen die laaste woord: “Daar is ’n paar groot verskille tussen my en Hugo se werklike lewe, en hoe dit in die draaiboek en dus ook die roman uitspeel. Ek het met hierdie proses besef niemand se omstandighede kan sommer net so oorvertel word nie – daar is allerhande kreatiewe veranderinge om alles te laat klop!”

Maar dat die boek opkrul-lekker is, is gewis!

Hy beantwoord nog vrae:

As jy nie geskryf het nie, watter beroep sou jy kon volg?

Enigiets wat met woorde te make het. Selfs nou doen ek redigeer- en keurwerk vir uitgewershuise. Dis soos om gedwing te word om te lees, en watter beter verpligting kan daar wees?

Wat inspireer jou en hoe bly jy gemotiveerd deur lang maande van skryf?

Dit vat nie so lank nie. Ek beplan alles deeglik voor die tyd, dan skryf ek eenvoudig vyf bladsye per dag totdat die storie klaar vertel is. Dan lê dit ’n maand, dan gaan ek dit woord vir woord, sin vir sin deur en haal die bog uit.

Watter boek het die grootste indruk op jou as mens gemaak?

Dracula, al vind ek dit nou swaar om deur te worstel. Dis half kommerwekkend dat ek dit as skoolseun soveel makliker gevind het om te lees.

Aanstaande jaar skryf jy vir 30 jaar. Raak jy ooit moeg daarvoor, of dink jy ooit aan ’n ander loopbaan?

Omdat ek verskillende stories vir verskillende ouderdomme skryf, sal ek nooit moeg kan raak hiervoor nie. Dit voel elke keer vir my vars en nuut, en ek glo ’n skrywer straf homself – en verloën sy talent – as hy net variasies op ’n tema aanhou lewer.

Leef jy ’n kluisenaarsbestaan, of hoe hou jy kontak met die buitewêreld as jy so baie skryf?

Ek skryf nie meer as twee uur per dag nie. Ek het ’n vermoede ek doen meer ander dinge as omtrent enigiemand wat in ’n kantoor werk. En my gim- en drafsessies, glo ek, hou my psige gesond.

Wat maak jou bang?

Moreel korrupte mense wat mag het oor ander. Jy vind dit veral in die politiek.

Watter swakpunt moes jy in jou lewe oorkom om vooruit te gaan?

Ek het dit steeds nie – daardie vermoë om jouself te bemark. Te adverteer, eintlik. Dit kan iemand baie vinnig verder laat vorder, maar ek vind dit onaangenaam en sien dit dus eerder as ’n swakpunt as iemand dit hét.

As jy die hoofkarakter in ’n riller kon vertolk, wie sou dit wees?

Dit sou beslis Dracula wees.

Watter invloed het kritiek op jou?

Ek waag kanse, dus kan ek kritiek te wagte wees. Party mense hou nie daarvan as iemand nie in ’n boksie bly nie. Die eerste resensies van my eerste twee boeke was vernietigend – maar haai, toe vernietig dit my nie. Bygesê, geen boek is bo kritiek verhewe nie en ek sal my altyd eers afvra of die persoon ’n punt beet het.

Raak jy as skrywer soms te gemaklik en word dan in ’n resensie oor die vingers getik, wat jou as’t ware terugbring na die smalle weg?

Teen die tyd dat ’n resensie verskyn, is my volgende twee of drie boeke gewoonlik al rofweg klaar geskryf. ’n Skrywer wat hom deur ’n resensent van rigting laat verander, moet eerder ophou kreatief wees en hom dan ook maar by resensies bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.