Dowe skrywer vat voor met bevordering van gebaretaal

ʼn Lewe sonder gehoor is die enigste werklikheid wat Annette, oftewel Atta, Humphries (62) en van haar geliefdes ken. (Foto: Humphries Atta/Facebook)

Doofheid, hetsy aangebore of weens ander faktore, is iets waarmee min mense kan vereenselwig. Net die blote gedagte daaraan om skielik nie meer soggens die voëls in jou tuin se getjirp te hoor of langs ʼn bosveldvuur na naggeluide te sit en luister nie, is ondenkbaar.

ʼn Lewe sonder gehoor is egter die enigste werklikheid wat Annette, oftewel Atta, Humphries (62) en van haar geliefdes ken.

“Ekself is van geboorte af stokdoof. My twee dogters en twee van hulle kinders is ook met doofheid gebore. Dit is reeds die vierde geslag waarin gehoorverlies voorkom,” vertel Atta aan Maroela Media.

Met haar jongste boek, Die verhaal oor ons lewe van doofheid, wil Atta op ʼn rou en eerlike manier bewustheid oor die uitdagings skep wat sy en talle ander dowe mense daagliks moet oorkom.

“Mense met doofheid het soveel verskillende behoeftes waarvan horendes nie weet nie. Daarom wou ek graag ʼn boek skryf waarin ek ons ondervindings deel, en ek fokus veral op die onsigbare uitdagings wat dowes ervaar.

“Die boek is daarop gemik om by mense wat kan hoor ʼn beter begrip van dowe mense se leefwêreld te skep. Daar word so dikwels neergekyk op mense wat nie die vermoë het om te kan hoor nie.”

Atta het van 1986 tot 1995 by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika as teksversorger gewerk. “Ek is baie trots om te kan sê dat ek betrokke was by die eerste vertaling van die Bybel in al 11 amptelike tale.”

Sy het intussen afgetree en woon nou in Milnerton, ʼn noordelike voorstad van Kaapstad. Haar boek is maar net een van die maniere waarop Atta haar beywer om bewustheid rondom doofheid te skep. Sy is verder ook aktief betrokke by die bevordering en opheffing van gebaretaal en die regte van dié taal.

“Gebaretaal is ʼn medium wat gebruik kan word om mense te verenig. As horendes op skool al gebaretaal as vak gehad het, sou ons nie so met kommunikasie tussen dié wat kan hoor en dowe mense gesukkel het nie,” meen Atta.

Volgens Atta word ʼn gedeelte van die boek se inkomste geskenk aan Handlab, ʼn Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT)-kurrikulumontwikkelingsprojek by die Universiteit Stellenbosch.

Die verhaal oor ons lewe van doofheid kos R62,78 (prys onderworpe aan verandering). Dit kan aanlyn op die uitgewer, Mecs Publishing, se webwerf bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.