Elma Smit: ‘Daar ís ʼn plek vir jou pittige pampoenprofiel’

Elma Smit (Foto: Kevin Mark Pass)

Elma Smit, een van Suid-Afrika se voorste inhoudskeppers en meningsvormers, meen die gehalte van enige influencer se inhoud is belangriker as die hoeveelheid reaksie wat dit op sosiale media kry.

Smit het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dat ʼn mens ook nie jou geestesgesondheid ter wille van werk moet inboet of dink dat jy op jou eie suksesvol kan wees nie. Om ʼn meningsvormer te wees verg dat persone met vrymoedigheid ʼn produk lewer waarop hulle trots is – ongeag wie dit raaksien of hoeveel mense reageer.

ʼn Pittige pampoenprofiel met 3 000 (nano-influencer) volgelinge hoef dus nie terug te staan vir inhoudskeppers wat byvoorbeeld 50 000 (micro-influencer) ondersteuners lok nie, solank jy deurgaans ʼn bepaalde standaard handhaaf.

Smit het meer as 15 jaar gelede die vermaakwêreld betree toe sy as hoërskoolleerder by Radio KC (Koinonia Community), ʼn gemeenskapsradiostasie in die Paarl, begin werk het. Hoewel sy ʼn regsgraad by die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het die radiowese altyd in haar agterkop bly talm.

Dié kranige sportaanbieder was voorheen ’n nuus- en aktualiteitsaanbieder by kykNET se Dagbreek, ’n profielskrywer vir Netwerk24, en ’n MK- en 5FM-aanbieder. Sy het ook ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Elma Smit, saam met haar mede-aanbieders, Martin Bester en Liesl Laurie, van Jacaranda FM se ontbytprogram (Foto: Verskaf)

Smit het onlangs haar toetrede tot die skryflandskap gemaak met ʼn selfhelpgids vir meningsvormers. In Word ʼn influencer werp Smit die lig op hoe ’n mens ’n lojale gehoor opbou, hoeveel jy vir geborgde veldtogte kan vra en hoe om slaggate te vermy. Aspekte soos die gebruik van hutsmerke, hoe gereeld om inhoud te skep en hoe om van rigting te verander, word ook bespreek.

Sosiale media, nes roem en rykdom, is op sigself nie goed vir jou nie, maar ook nie noodwendig sleg nie, skryf sy. Party mense doen dit vir ʼn stokperdjie, terwyl dit vir ander ʼn obsessie kan word.

“Die fout wat sommige mense maak is om slaafs na reaksies te kyk,” sê Smit. “Of jou volgelinge die inhoud waardeer of nie, het niks met jou waarde as meningsvormer te doen nie.” Die fokus moet altyd op die proses wees en nie op die likes, kommentaar of shares nie.

Sy verwys hier na die proses om met unieke inhoud vorendag te kom wat tot jou teikenmark of gehoor spreek. Vergeet dus van die ou skoolvriend of familielid wat op die punt van hul stoel sit en wag dat jy ʼn kuberflater begaan.

Terselfdertyd is dit van kardinale belang om bewus van jou tekortkominge te wees, sê Smit.

“Dit is maklik om te dink dat jy alles van jou onderwerp af weet en self moet doen,” sê Smit. “Maar dit is nie waar nie – niemand ken al die aspekte van sosiale media nie.”

Haar raad is om uit te vind waar jou tekortkominge lê, aanvaar dit en kyk dan by wie jy vir hulp kan aanklop. “Hoe vinniger jy besef dat jy deel van ʼn gemeenskap is waarbinne jy kan groei, hoe beter.”

Net so behoort jou geestesgesondheid ʼn hoë prioriteit te geniet, sê Smit.

“As ek weet ʼn volgende week gaan druk wees en baie van my vereis, dan neem ek die naweek ʼn breek van enige vorm van sosiale media.” Dan hou sy haar graag met selfdoenprojekte of ander stokperdjies besig. Enige van haar volgelinge sal ook weet dat sy ʼn groot katliefhebber is wat nie skroom om haar eie troeteldiere se manewales af te neem nie.

Smit herinner dat haar werk as influencer nie ʼn volledige weerspieëling van haar lewe is nie. “Dit is nie wie ek is nie; dit is net wat ek doen.”

In 2019 het sy die hoogste sport as aanbieder bereik: sy is deur twee globale organisasies gekies om die verteenwoordiger van hul digitale inhoud by twee verskillende wêreldbekertoernooie in minder as ses maande te wees. Tóg het Smit in dieselfde tydperk meer munt daaruit geslaan om ’n meningsvormer te wees as uit enigiets anders.

“Toe ek die jaar se gebeure in oënskou neem, het ek besef dit was per slot van rekening nie die groot toernooie waar ek die meeste geleer het nie, maar wat ek terug op eie bodem besef het.

“Suid-Afrikaners hoef nie oomblik vir internasionale meningsvormers terug te staan nie. Ons kán met inhoudskeppers elders in die wêreld kompeteer.”

Smit het toe besluit om Word ʼn influencer te skryf waarin sy haar ervaring en kennis deel. Sy beskou dit as ʼn eerste tree om gesprekke aan die gang te sit en nooi meningsvormers, voornemend of gevestig, om hul idees, veldtogte en insigte met vrymoedigheid te deel.

  • Word ‘n influencer is deur Lapa Uitgewers uitgegee. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ratel ·

Elma, ek is meer as oud genoeg om jou pa te wees maar ek dink nog altyd jy is ‘n baie mooi vrou!

katerinadiekat ·

Ek het al gehoor van influencers maar stel nie belang nie. One can think for oneself and make up one’s own mind about things. Dit klink vir my maar skaaplik om ander mense op te soek, om jou eie opinies te vorm. Just sounds weird and pathetic to me.

Johannes ·

Ek koop nooit ‘n Afrikaanse boek met ‘n onnodige Engelse woord in die titel nie. Uitgewers behoort in hierdie opsig ‘n verantwoordelikheid jeens ordentlike Afrikaans te openbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.