Feestyd-oordenking: Dít is waarvoor Hy op aarde gebore is

(Foto: Walter Chávez/Unsplash)

En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. – Lukas 2:4-7

Esté Geldenhuys, skrywer van Laat u Naam geheilig, skryf so oor die geboorte van Jesus:

Het dit jou ook al opgeval – die woorde van vers 5 – “Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.” Nie “sy vrou” nie. Nee, die vrou aan wie hy hom verloof het.

Dit beteken tog dat hy nooit by haar ingegaan het nie en dat sy daarom waarlik steeds ʼn maagd was.

Die Woord, die Bybel, is die waarheid, ons moet met aandag lees om die waarheid raak te lees.

Die volgende gedagte wat ʼn kosbare profetiese boodskap inhou, kry ons in vers 7: “Maria het Hom toegedraai in doeke…” Die woord doeke word in die King James-vertaling van die Bybel vertaal met “swaddling clothes”.

In die Hebreeuse kultuur is die liggaam van ʼn persoon wat gesterf het, met repe lap toegedraai. Ons het waarskynlik almal die prentjie in die kop van Lasarus wat uit die graf kom, van kop tot tone in doeke toegedraai. Daardie doeke was “swaddling cloth” want dit is waarvoor “swaddling cloth” gebruik is.

Hoekom sou Maria sulke doeke gebruik het om die baba in toe te draai? Is dit al wat sy by haar gehad het? Of was dit juis, dalk sonder dat sy dit besef het, ʼn profetiese handeling? Hierdie fraai klein seuntjie in die krip moes immers sterf as ʼn Koning aan ʼn kruis. Dít is waarvoor Hy op aarde gebore is.

En hierdie Koning sou sterf ter wille van die verlossing van elke mens wat ooit op aarde gebore sou word. Maar ons moet kies om te glo dat hierdie verlossingsdaad ook vir my en jou gedoen is, anders is Jesus se geboorte op aarde en ook Sy sterwe aan die kruis – ter wille van my en jou – tevergeefs.

Wian Vos sing mos: Weet jy dat Jesus jou liefhet? Weet jy dat Hy baie van jou hou, sommer net soos jy is. Jy is kosbaar en spesiaal vir Hom! Sy liefde vir jou het Hom gedring om ter wille van jou aan die kruis te kon hang. Het jy al die keuse gemaak om Hom as jou verlosser aan te neem?

Gebed:

Here Jesus Christus, Seun van God, wees ons genadig. Help ons om die belangrikste keuse van ons lewe te maak. Begelei ons en help ons om opreg te wees daarin. Dankie dat U dit vir my gedoen het omdat U liefde is.

  • Laat u Naam geheilig word is deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee. Lees meer oor die boek hier op Maroela Media.
  • Die podsending en boodskap word in samewerking met Lux Verbi en die skrywer aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.