Foto’s: Carina Stander vier boek met smulborde, harpmusiek

Carina Stander by die bekendstelling van ‘Die Waterplek: Afrika’. (Foto: Maroela Media)

Carina Stander het die Afrikaanse literêre wêreld in 2017 verras met haar Bergengel-trilogie, ʼn mistieke reisverhaal waarin sy ʼn fabelagtige sprokieswêreld, wat sy Gabriëllië noem, tot stand gebring het.

Ewe betowerend is die wyse waarop Stander telkens haar boeke bekendstel: met ʼn propperse boekpartytjie en ʼn uitstalling van haar eie kunswerke.

Stander het egter een voorwaarde vir dié boekpartytjies. “Ek hou van temapartytjies en daarom het vra ek al die gaste om soos karakters uit die Bergengel-boekreeks aan te trek,” sê sy, en hiermee het Stander haar lesers se verbeeldings behoorlik uitgedaag.

So is die eerste boek van die derde aflewering van Stander se Bergengel-trilogie, wat Die Waterplek: Afrika heet, die afgelope week by twee afsonderlike geleenthede in Gauteng saam met lesers gevier.

Op 25 September het ʼn uitgelese gehoor by DEKAT-studio in Johannesburg byeengekom en op 27 September is daar onder die liggiebome by Kleinkaap-boetiekhotel in Pretoria gekuier.

Gaste wat die bekendstelling by Kleinkaap bygewoon het, is met ʼn glas wyn en harpmusiek deur Renita de Villiers verwelkom. Hulle is later getrakteer op smulborde met ʼn keur van versnaperings uit Die Waterplek: Afrika.

“Een van die belangrikste karakters in die boek, heerseres Ulafi, is ʼn harpspeler,” verduidelik Stander. “De Villiers speel die musiek waarna ek geluister het terwyl ek die boeke geskryf het.”

Op elke smulbord was daar rooiboonsop met volgraanbrood en vars salsa, wildsvleispasteitjie met rooikoolpiekel, hoendersosatie met geroosterde witui en beethappies, pampoen- en soetpatatpoffertjie met kokosneut en kaneelsuiker, kool-en‑wortelroerbraai met dekadente papballetjie en tamatiesmoor, en ʼn donker, klam speserykoek met versoete roomkaas en gedroogde appelringe.

Nadat gaste aan “kos uit ʼn boek” weggelê het, het Stander haar plek ingeneem en gaste vir ʼn rukkie saam met haar op reis geneem. Sy het onder meer gesels oor haar inkskets wat op die voorblad pronk en die simboliek daarvan, die herverbeelde Afrikalandskap wat sy geskep het, karakters en wat sommige van hulle se name beteken, en haar benadering tot oorlogvoering as tema in Die Waterplek: Afrika.

“Ek het nou bykans 300 reisartikels geskryf en nagenoeg 30 lande besoek. Dit is uit daardie gegewe wat ek Gabriëllië, my denkbeeldige Afrika, en eilandgroep kon saamstel,” vertel sy.

Aanhangers van Stander se kunswerke sal egter nog ʼn rukkie moet wag vir ʼn tentoonstelling van sketse uit Die Waterplek omdat dit eers by die bekendstelling van Die Waterplek: Gabriëllië uitgestal gaan word.

Stander het in Maart vanjaar op Facebook met haar binnekring gedeel dat die slotboek in haar Bergengel-trilogie “uitgeswel het soos ʼn sampioen in ʼn bergwoud” en daarom het sy in oorleg met haar redakteurs besluit om dit in twee dele uit te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.