Foto’s: Eiland-avontuurboek onderwater bekendgestel

Riaan Manser tydens die bekendstelling (Foto: Maroela Media)

Riaan Manser is bekend daarvoor dat hy gek is oor avontuur.

In September 2003 het hy met sy fiets uit Kaapstad vertrek en hy was vasbeslote om die eerste persoon te word wat reg rondom Afrika met ʼn fiets toer. Hy het gedink dit sal hom ʼn jaar neem, maar dit het eindelik meer as twee jaar gevat om dié reis te voltooi. Aan die einde van 2005 het hy terug Kaapstad toe gery. Riaan was 14 kg ligter ná sy reis van 36 500 km deur 34 lande.

In Julie 2009 het Riaan ʼn volgende wêreldrekord gestel toe hy die eerste persoon was wat die wêreld se vierde grootste eiland, Madagaskar, per kajak omseil het – ook alleen en sonder hulp.

Hierdie kolossale reis van 5 000 km, wat hom elf maande geneem het, was volgens hom aansienlik meer veeleisend, beide fisies en geestelik. Hy moes uiterste eensaamheid oorwin terwyl hy verraderlike toestande verduur het, soos donderende golwe, siklone en ʼn skroeiende son wat, gekombineer met soutwater, hom amper lewendig gepekel het.

Tydens sy omseiling het hy baie onvergeetlike noue ontmoetings met Madagaskar se seelewe gehad – boggelrugwalvisse wat meters van sy kajak af deur die oppervlak gebreek het, reuse-leerskilpaaie wat langs hom geswem het, en sy boot wat deur ʼn haai gestamp is.

Riaan het in ʼn tydperk van uiterste politieke onrus in Madagaskar rondgereis en hy het vyf keer in die tronk beland, die laaste keer drie nagte op vermoede dat hy huursoldaataktiwiteite uitgevoer het.

In April 2010 is Manser se pogings beloon met sy tweede toekenning, “Out There Adventurer of the Year 2009”. Around Madagascar on my Kayak, die boek waarin hy van sy wonderlike prestasie vertel, het ook lof ontvang.

In 2023 is ʼn splinternuwe kinderboek, My eerste wilde eiland-avontuur, beskikbaar. In dié boek deel Riaan wonderlike feite oor Madagaskar en nooi hy kinders om deel te word van dié avontuurreis.

Sy stories word opgevrolik deur die oulikste tekeninge van Marthinus van Tee.

Die boek is by die Twee Oseana-akwarium by die V&A Waterfront in Kaapstad bekendgestel. Soos wat dit ʼn avonturier bekwaam, het hy die boek onderwater voorgelees.

Kinders wat tydens die skoolvakansie dié vrolike ervaring kon meemaak, het geskater oor Riaan se pogings om op die stoel te bly sit en hulle ingeleef in die soektog na ʼn skat wat in die sand versteek is.

Skaf gerus My eerste wilde eiland-avontuur vir enige jong avonturier aan – hulle gaan dol wees daaroor! Die boek is beskikbaar by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.