Gaan saam op reis met Bakkes

Johan Bakkes (Foto: Verskaf)

Om ʼn boek van C Johan Bakkes te lees, voel soos ʼn kuier in sy huiskroeg in die Paarl. Informeel en sonder vertoon. Selfs al is hy ʼn afgetrede professor en geoktrooieerde rekenmeester.

Hy het al gesê dat hy nie hogere letterkunde beoefen nie, maar tree hy by ʼn kunstefees of boekbekendstelling op, is daar nie plek vir ʼn muis nie. (Ook maar goed want bieg hy, hy het ʼn doodse vrees vir rotte en muise is mos ook knaagdiere).

Sy gewildheid gaan sekerlik ook oor sy persona. Soos sy vrou, Nanna, altyd opmerk: “Gaan jy wraggies weer uit ʼn koek spring?”.

Hy is ʼn groot, indrukwekkende figuur met sy kenmerkende velhoed, los hemde, kleurryke armbande en Simson-lokke.

“Ek is die mees onbekroonde skrywer in Suid-Afrika. Eintlik is ek nie ʼn skrywer nie, maar ʼn reisiger wat skryf.”

Sy aanhangers kan nou weer deur hoogte- en laagtepunte saam met hom in Samoe(r)sa Reis saamgaan wat oorspronklik in 2010 uitgegee is. Die nuwe 2023-weergawe, wat nou op die rak is, is nie bloot ʼn herdruk nie, maar ʼn heruitgawe; “bygewerk en bygereis” met nabetragting. Elke bydrae het ook ʼn voetnota wat die afgelope 13 jaar se gevolge en invloed op die oorspronklike avontuur opdateer.

Johan is bekend daarvoor dat hy bestemmings aandurf wat ander liefs mis sal loop – soos die warmste, koudste en mees ongerieflike plekke op aarde.

Die bestemming, vertel hy is nooit die belangrikste nie, dis die reis.

Sy gunstelingplekke is die Kalahari met sy rooi duine, die Savanna-vlaktes en Rusland. Maar hy sit nie weer sy voete in Indië nie.

Een van sy aakligste ervarings was rotmis en opgekoude papier in ʼn pakkie Simba-tamatiesousskyfies in Indië.

Hy skryf dat ʼn olifant al bo-oor hom geloop het en ʼn leeu al sy vuil asem in sy gesig geblaas het. Hy was al byna dood van die dors en verstar van die koue, is al met vuurpyle bestook en was midde-in ʼn mortieraanval.

“Dis alles orraait, maar moet net nie ʼn rot naby my bring nie. Ek is skrikwekkend vreesbevange vir ʼn rot”.

Hy is gek oor die Iere wat hom in ʼn Ierse kroeg in die Katolieke deel van Derry groet met ʼn hartlike: “Ah, the people who gave the Brits all their hell during the Boer War!”

Mense wat “ondanks eeue se swaarkry en miskenning aanhou lag en sing en weier om te gaan lê.”

Vir die Britte het hulle, nes hy, geen ooghare nie.

Daar is ook diepsinnige oomblikke in die boek wanneer hy die dood van 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe bepeins, dat Stalin toegelaat het om 25 miljoen van sy eie mense na hul dood te stuur en dat Hitler 6 miljoen mense vergas het.

Dis vir hom onverstaanbaar dat Rooms-Katolieke kwansuis nie in die hemel kan kom nie. Hy kan hom nie indink dat hy nie ʼn hemel met Moeder Theresa sal wil deel nie. Op een van sy reise het hy haar Spartaanse slaapkamer besoek.

Hy glo aan ʼn Skepper van liefde.

Oor die keuse van reisgenote sê hy dis baie belangrik.

“My kriteria sou wees, gee mekaar ruimte binne dieselfde reis en wees gebou vir ongerief. Jou reisgenoot moet tevrede met homself wees.

Hy het ʼn wye en hegte vriendekring en beskryf Bontes op reis as iemand met “boggerôl finesse”, Dok se “bedmaniere laat veel te wense oor en kom dit by geriewe, sukkel hy soms om die minste te wees.” Van sy vriende loop al dekades lank die pad saam met hom.

Hulle kom as ʼn span en gaan as ʼn span.

“Vriendskap vereis lojaliteit en liefde. Dis soos die huwelik. As jy jou huwelik wil laat werk sal julle mekaar se nonsens moet kan opvreet.”

En wat sê hulle van hom?

“Hier sal jy hulle moet vra. Ek is bewus dat ek tans ʼn iesegrimmige ou ballie vol fieterjasies is, wat sy bedanking as homo sapiens ingedien het en uit die samelewing wil onttrek… of moontlik nie.”

Oor sy menswees vertel hy dat hy “oraal gefikseer” is.

“As ek nie drink nie, dan rook ek, of ek eet of ek praat strooi. My DNS-samestelling het my toegelaat om die ‘houe’ te vat. Die konsep ‘fiksheid’ was nooit vir my belangrik nie, ongeag dat ek op skool vir Noord-Transvaal se landloopspan gekies is. Fietsry, draf en gim-besoeke het met my orale fiksheid ingemeng.

“Ek moet egter ruiterlik erken dat soos die tyd aangestap het, moes ek ʼn rugsak vol bakstene pak en teen Paarlkop uitbeur om die ou liggaam min of meer in orde te timmer met die oog op die klim van vreemde berge of ʼn staptog die woestyn in.”

ʼn Kroeg is vir hom die hart van ʼn gemeenskap en die eerste plek wat hy in elke dorp besoek. Baie van sy stories kom uit kroeë uit.

Oor sy vele omswerwinge sê hy: “ʼn Mens moet jou eie plek binne die konteks van ʼn huwelik en vriendskap hê. Jou eie ruimte. Dis hoekom ek baie van die huis af wegloop, in my bakkie klim en vir 10 dae weggaan. Upington toe ry of na die suide van Namibië waar ek elke gat ken.

“Elke mens het sy eie wegbeweegplek nodig. ʼn Mens moet soms uit ʼn huwelik of vriendskap onttrek om alleen te wees. Ek het my eie plek en Nanna hare. Vir flippen seker. Hierdie is myne”, verwys hy na sy kroeg.

Samoe(r)sa reis se voorblad (Foto: Verskaf)

Hy vertel dat sy skryfproses eenvoudig is.

“Ek het nie stilte nodig nie. Ek maak ʼn bottel wyn oop en skryf met die langhand in my eie kroeg.

As daar een ding is wat hy nog wil doen, is dit om ʼn rum en Coke en ʼn sigaar met sy Kubaanse vriend Richardo Machado in Havana te nuttig

“Afrika en sy kleurvolle inheemse bevolking en sy diversiteit van natuurskoon bly my gunsteling-boemelplek. Om die waarheid te sê, het ek geen behoefte om weer uit my kontinent te beweeg nie. My emmerskoplys is afgemerk.

“Ek verstaan lobola, toi-toi, braaivleis, rugby, jag en Xhosa-ma’s wat so jil as hul kinders graad kry.

“Wat ek nie verstaan nie is dat Hindoes hulself ‘suiwer’ in die septiese Ganges, ʼn toneel waarvan ek weggestap het.

“Ek is tans 67 jaar oud. Die reis sal nooit ophou nie, alhoewel die tempo ietwat aangepas sal moet word. Die laaste reis en avontuur sal wees as die Valkyries my oor die Styx vat!

“My longe is aan flarde en my are is vernou omdat ek geleef het soos ek moes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Seerot ·

“My longe is aan flarde en my are is vernou omdat ek geleef het soos ek moes.”

Uitstekend gestel. Ek het op 30 harder geleef, meer gesien en nog meer gedoen as wat “normale” mense in ‘n leeftyd van 70 jaar sal sien, doen of droom.

Ek het geleef, en dit geniet. God was altyd daar. Is steeds hier.

Ek leef steeds. Nou net alleen.

Heeltemaal.

Dis lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.