Inkleurboeke vir volwassenes – ‘kitsterapie’ by jou eetkamertafel

Argieffoto

Terapeute is effe verontwaardig oor inkleurboeke vir grootmense wat daarop aanspraak maak dat inkleur terapie is wat stres soos mis voor die son laat verdwyn. Dis allermins terapie, sê hulle – dit het hoogstens terapeutiese waarde. Intussen sit miljoene grootmense wêreldwyd vasgenael met hul inkleurboeke en potlode en inkleur, en getuig van die fisieke en geestelike voordele wat dit inhou.

“Gryp jou inkleurpotlode!” – argumente daarvoor

Dis algemeen bekend dat enige vorm van kreatiwiteit terapeutiese waarde inhou: kunsterapie is ʼn erkende terapievorm wat met groot vrug gebruik word. Maar, soos terapeute tereg sê: om ʼn prentjie in te kleur, kan nouliks as kuns beskou word.

Die manier waarop inkleurboeke vir grootmense egter die hele wêreld op hol het na die naaste boekwinkel wat hopelik nog voorraad het, het almal ʼn bietjie onkant gevang, sê die boekhandelaars. “By Graffiti Zambezi Junction was vyf of ses van ons 15 topverkopers in die afgelope vier maande inkleurboeke vir volwassenes,” sê Leonie van Rensburg van dié reeks boekwinkels. “Kreatiewe inkleurboek vir grootmense nr. 1 is steeds die gewildste, maar ons verkoop ook stapels van Lize Beekman se mandalaboek Colouring for adults.”

As jy met inkleur-entoesiaste gesels, blyk dit dat daar hoofsaaklik drie redes is waarom dit soveel gewilder is as vorige kunsstokperdjie-modes soos mosaïek, “scrapbooking”, decoupage en hekel: dis bekostigbaar, dis maklik, en dis nie tydrowend nie. Al waaraan jy geld hoef te bestee, is ʼn boek en ʼn pakkie inkleurpotlode om jou vir ure besig te hou. As jy iewers vyf minute het terwyl jy vir ʼn kind in die motor voor die skool wag, kan jy blitsig jou inkleurboek uitpluk en die tyd benut, want die opruim neem nie langer as die aktiwiteit self nie.

Inkleur is ʼn wonderlike manier om jou bloot te stel aan die konsep “bewustheid”, in Engels “mindfulness”: ʼn intense bewustheid van die hier en nou, reken terapeute wat inkleurboeke vir volwassenes voorstaan. Volgens hulle dwing inkleur jou om jou gedagtes te fokus op die huidige oomblik en om jou kop helder te kry. “Ek dink nie die waarde lê in die inkleur as sulks nie, maar eerder in die tyd wat jy jouself gun om te ontsnap,” sê Christo du Toit, een so ʼn inkleurder.

Argieffoto

Terwyl jy as volwassene inkleur, herleef jy jou kinderdae, wat op sigself ʼn ontspannende ervaring kan wees, meen hulle. By die behandeling van pasiënte met Alzheimers en demensie is inkleur as terapie ideaal, aangesien dit die brein oefen, hand/oog-koördinasie verbeter en die geheue stimuleer. Dit maak ook vordering maklik meetbaar, en plaas pasiënte in ʼn situasie waar hulle kwalik kan misluk.

Baie volwassenes wens dat hulle kreatief of kunstig was, maar sal dit nie waag om ʼn prentjie van nuuts af te probeer teken of verf nie. Wanneer daar egter ʼn reeds getekende prentjie voor hulle lê wat hulle net kleurvol hoef in te kleur om ʼn kreatiewe eindproduk te kry, maak dit die kreatiewe proses veel minder intimiderend. “Ek het geen kreatiewe geen in my lyf nie, maar ek geniet my inkleurboeke terdeë!”, sê Marie de Wet, ʼn inkleur-entoesias.

Boonop is daar dié wat dit wel waag om self te skep as hulle eers begin inkleur het. “Die verkope van inkleurboeke, feltpenne en ander inkleurpenne het die hoogte ingeskiet sedert ons inkleurboeke vir volwassenes begin verkoop het,” vertel Leonie van Graffiti Boeke. “Inkleurders huiwer nie om R750 en meer te betaal vir ʼn stel van 72 inkleurpotlode nie. Baie mense wat inkleurboeke gekoop het, begin later self ook teken en hul eie prente inkleur. Die kopers is meestal vroue in die ouderdomsgroep 40+, en dit lyk wel of Afrikaanssprekendes die Afrikaanse weergawes van inkleurboeke verkies, hoewel ʼn groot groep kopers nie ʼn taalvoorkeur het nie.”

Dié wat inkleur, getuig ook van die fisieke voordele wat dit inhou: hartklop wat verstadig, hoofpyn wat verbeter, bloeddruk wat verlaag en asemhaling wat rustig raak. Dit help ook goeie slaappatrone aan. “Inkleur is die beste manier om my gedagtes agter mekaar te kry. Dit help ook as ek sukkel om te slaap,” vertel Adele Changuion, nog ʼn volwasse inkleurder.

Volgens Erin Maynard, president van die groep PTSD Survivors of America, het hulle groot sukses wanneer hulle mense wat aan posttraumatiese stresversteuring ly, laat inkleur. Volgens haar werk inkleurwerk hiperaktiwiteit van die amigdala (die deel van die brein wat die vreesrespons beheer) teen.

Omdat daar geen tegnologie ter sprake is nie, skep inkleurtyd ʼn ruimte in inkleur-entoesiaste se dag waar hulle geïsoleer is van tegnologie en sosiale media. Dis ironies dat dié ingekleurde skeppings dan dikwels op Facebook- en ander sosialemediagroepe wat spesiaal vir dié doel geskep is, gedeel word.

En, les bes, is dit die ideale tydverdryf vir SA, sê Mylene West Baben, ook ʼn inkleur-entoesias. “Dis die beste ding om te doen tydens beurtkrag!”

Argieffoto

“Pak weg die inkleurpotlode!” – argumente daarteen

Terapeute se sterkste argument teen inkleurboeke vir volwassenes is dat daar geen werklike terapie ter sprake is, soos wanneer ʼn terapeut in interaksie met sy kliënt probleme in dié se lewe identifiseer en aktief werk daaraan om dit uit te sorteer nie.

“Die bisarre ding van die nuwe inkleurboeke vir volwassenes is dat dit min of meer onmoontlik is om hulle te voltooi. Die inkleurprente moet moeilik wees, want volwassenes voel nog steeds verleë as mense sien dat hulle hul besig hou met kleuter-aktiwiteite,” skryf Kate Mossman, kunsteredakteur van die Britse politieke en kultuurtydskrif New Statesman in ʼn artikel op www.newstatesman.com.

In die 1970’s het ʼn Amerikaanse kunsonderwyseres, Susan Striker, ʼn uiters gewilde inkleurboek met die titel “The Anti-Coloring Book” gepubliseer. Dis in 1982 gevolg deur “The Anti-Coloring Book for adults”. Die boek was vol halfleë bladsye en onderskrifte soos “Die kunstenaar is deur ʼn by gesteek en kon nie die prentjie klaarmaak nie. Kan jy dit vir hom voltooi?” Striker was van mening dat tradisionele inkleurboeke kinders in robotte verander en dat die streng gedefinieerde aard van ʼn inkleurboek, waar kinders presies tussen die lyne moet inkleur, skadelik vir kinders is.

Argieffoto

Striker se mening oor die beweerde terapeutiese waarde van inkleurboeke? “Mense is geleer om te glo dat hulle nie kunstig is nie,” sê sy. “ʼn Inkleurboek kan jou help om jou kop leeg te kry. Maar terapie gaan nie daaroor dat jy jou kop moet leegkry en moet ontsnap van jou probleme nie. Dit gaan juis oor die teenoorgestelde: Dat jy jou probleme moet pak en uitsorteer.” As jy jou eie prentjies teken, sê sy, is dit egter ʼn perd van ʼn ander kleur.

“Inkleurboeke vir volwassenes is dalk lekker ontspannend en kan maklik inpak om iewers heen saam te neem, maar ek beskou dit nie as terapie nie,” sê Sonja Bierman, ma en kunstenaar. “Skeppende kuns is beslis terapeuties; om iets uit niks te skep, doen iets vir jou siel. Of jy nou heke, skolder, skets of mosaïek – dís kos vir die siel.”

Rika Jansen van Vuuren, ʼn junior en preprimêre onderwyseres van Hartbeespoort, stem saam. “Kuns was een van my hoofvakke, en met dié agtergrond glo ek dat inkleurboeke taboe is. Dit inhibeer jou kreatiwiteit,” sê sy.

En vir party mense werk dit bloot glad nie. “Vir my is dit alles behalwe terapeuties. Dit stres my totaal en al op. Ek gaan myne weggee!” sê Christine Breet van Pretoria.

Om in te kleur, of nié?

As ʼn mens dink dat ʼn boek met sowat 128 prente in die omgewing van R200 kos, en dit jou gemiddeld so vier uur neem om een prentjie te voltooi, beteken dit R2.56 per “terapiesessie”. Glad nie slegte waarde vir geld nie. Besluit maar self of jy dit wil probeer.

Graffiti Boeke het ‘n verskeidenheid inkleurboeke vir grootmense beskikbaar.

Bronne:
Coloring books for adults: we asked therapists for their opinions
Experts Warn Adult Coloring Books Are Not Art Therapy
How Colouring Books Are Helping Adults Beat Stress And Anxiety
Colouring books used to be fun. When did they get so . . . mindful?

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Boeke, Goeie nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Marisa ·

“Dié wat inkleur, getuig ook van die fisieke voordele wat dit inhou: hartklop wat verstadig, hoofpyn wat verbeter, bloeddruk wat verlaag en asemhaling wat rustig raak. Dit help ook goeie slaappatrone aan. “Inkleur is die beste manier om my gedagtes agter mekaar te kry. Dit help ook as ek sukkel om te slaap,” vertel Adele Changuion, nog ʼn volwasse inkleurder.”

100% waar!!!!

Dit is glad nie waar dat boeke nie voltooi kan word nie – ek het al ‘n hele paar van voorblad tot agterblad voltooi. En wat ‘n plesier.

marianna ·

Ook een gekoop, maar van ontspan is daar nie sprake nie want my brein werk nog teen dieselfde spoed as voorheen. Het oorgegee, ek luister liewers na mooi musiek of ek lees.

Elize ·

Ek skilder graag, en die inkleurboeke help my baie om kleure bymekaar te sit en met kleure te speel. Ten minste mors ek nie elke keer ‘n canvas as die kleure nie reg lyk nie , gooi net die bladsy weg. Terapie? wel ek weet nie, maar ek kan glo dat sielkundiges dit nogal as ‘n bedreiging sal sien, want dan verloor hulle mos kliente. Hoekom nou alles oorkompliseer. Want is daar nou regtig ‘n verskil tussen sit en ‘n prentjie teken, of sit en ‘n prentjie inkleur?

Suur druiwe ·

Die terapeute wat ‘tereg’ sê dat inkleur nie kuns is nie het net suur druiwe omdat hulle dienste onnodig raak a.g.v. die terapeutiese waarde van inkleur. Die ‘artist’ van die inkleurboek verskaf net die lyntekening. Die ‘colourist’ gee die prent lewe! Gaan sluit gerus by ‘n paar inkleurgroepe op Facebook aan en kyk hoe kunstig is volwasse inkleurders! Ja, mens kan blokinkleur doen soos kinders – eenvoudig en vervelig – dit is inderdaad nie kuns nie. Maar begin ‘blend’ en ‘shade’ en kleurskemas uitwerk, en metale en juwele naboots met gewone inkleurpotlode en skielik is dit kuns. Kyk ook maar verby die nonsens-inkleurboeke wat in gewone winkels beskikbaar is met mandalas en ‘muurpapier’ (herhalende patrone) prente. Dié is baie vervelig om in te kleur en laat mens nie toe om kunstig wees nie. Suid Afrikaanse inkleurders moet maar deur Loot, Takealot, Amazon en Raru ordentlike inkleurboeke met lyntekeninge wat deur goeie kunstenaars geteken is bestel om hulle kunstig te kan uitleef in hul inkleurwerk. Goeie kunstenaars wie se boeke belanstellendes voor kan uitkyk: Hanna Karlzon, Marjolein Bastin, Maria Trolle, Monique Day-Wilde (die enigste goeie SA inkleurboek kunstenaar), Johanna Basford, Kerby Rosanes, Bennett Klein, Millie Marotta, Kanoko Egusa, Nicholas Chandrawienata, Tomislav Tomic

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.