Jong skrywer duik tienerdieptes in met jeugfiksiedebuut

Joha van Dyk het haar skryfdebuut gemaak met die jeugroman ‘Branderjaer’ (Foto: Verskaf)

In Joha van Dyk se debuutroman Branderjaer ontmoet lesers vir Deidre, wie se lewe veilig en onder beheer is. Sy het egter nie op Louw gereken nie. Louw is een van dáárdie ouens. Waaghalsig. Windgat. Alles wat Deidre nie kan verdra nie. Maar sy besef gou hoe verkeerd sy was. Daar is iets aan hulle, die Branderjaers: vyf seuns in ’n hegte broederskap gesmee deur gedeelde pyn en skuld. Sý wil die een wees wat al Louw se geheime ontrafel. Want almal in Stormbaai het skuld. Bloedskuld. En die Branderjaers het elkeen ʼn enorme prys om te betaal.

Van Dyk het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hoe die verhaal mettertyd in haar kop ontwikkel het nadat sy sowat twee jaar gelede die woord ‘branderjaer’ op ʼn rooi toeristebus in Kaapstad gehoor het. Sy was saam met haar gesin toe ʼn medereisiger dit gebruik het.

“Toe ek dit hoor het die woord dadelik in my kop vasgesteek. Ek het eers gehuiwer of ek dit moet neerskryf, maar het tog, ten spyte van die woeste wind wat gewaai het, my notaboekie uitgehaal en dit neergekrabbel,” vertel sy.

Daarna het die woord vir lank in haar kop bly maal voordat sy besluit het om iets daarmee te doen. Soos wat enige skrywer maar oral rondsnuffel vir idees het Van Dyk ook op velerlei plekke gaan soek.

Sy het haar blokkiesraaiselwoordeboek nadergetrek en hoewel sy gek daaroor is om blokkiesraaisels in te vul, lê die woordeboek eintlik net en stof opgaar.

“Dit voel vir my eintlik soos kul om die woordeboek vir leidrade te gebruik,” skerts sy. “Maar dit is my persoonlike keuse. Ek kritiseer glad nie mense wat dit doen nie. Dit is tog immers waarvoor die woordeboek gebruik word.”

Van Dyk het begin om sinonieme vir woorde soos “brander”, “breek” en “jaer” op te soek. Op lukrake wyse het die soektog haar na die woord “ekstremis” gelei en die woorde wat gevolg het, het onmiddellik haar belangstelling geprikkel: “bittereinder”, “vuurvreter”, “kanniedood”, ‘klipvreter” en “stokebrand”.

“Toe ek daardie woorde sien het ek geweet dít is my karakters en toe het die storielyn van daar af begin ontwikkel,” vertel Van Dyk.

Dié 23-jarige skrywer het op ʼn plaas buite Kleinzee in die Namakwaland-distrik grootgeword. Haar verknogtheid aan dié dorp in die Noord-Kaap het ʼn groot invloed op Branderjaer gehad, wat ook op die platteland afspeel. Een van die sentrale temas wat sy in die verhaal ontwikkel is juis die soeke na identiteit binne so ʼn kleindorpse gemeenskap.

Ander tienerkwessies soos die druk om te presteer, boeliegedrag, bendebedrywighede, drank- en dwelmmisbruik en verhoudings kry ook aandag.

Van Dyk verklap dat sy reeds besig is om aan verskeie opvolgverhale vir die jeugroman te werk. Sy hoop om aan elke karakter ʼn groter stem te gee en om hopelik binnekort weer ʼn boek oor die Branderjaer-bende te voltooi.

Van Dyk het pas haar meestersgraadverhandeling in Engels aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy werk deeltyds in die universiteit se biblioteek en gebruik die res van haar tyd om stories te skryf en blokkiesraaisels in te vul. In 2017 is van Van Dyk se gedigte vir die studentebundel Penseel aanvaar en haar gedig “Polsslag” is onlangs in die bundel Die môre is jy opgeneem.

  • Joha van Dyk het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hoe haar liefde vir blokkiesraaisels gelei het tot die kies van karaktername in Branderjaer. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.

Kyk hier ook na ʼn voorsmakie van Branderjaer deur Joha van Dyk. Die lokprent is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.