Jou omvattende vleisgids

Vleis, ’n omvattende boek oor vleis deur Annelien Pienaar, word deur Human & Rousseau uitgegee.

Annelien Pienaar, skrywer van Boerekos met ’n twist, se langverwagte volgende boek, Vleis, is tans beskikbaar tot haar volgelinge se grootste vreugde. Pienaar, ’n voedselwetenskaplike, dosent, boervrou en ma, se Facebookblad, Boerekos met ’n Twist, het oor die 44 000 lede. Haar webblad is ook ’n fees van praktiese raad, wenke, aanlyn klasse, produkte en resepte. Haar gewildheid is deels daaraan toe te skryf dat sy toeganklik is en gereelde interaksie het met haar getroue ondersteuners. Sy sê dan ook plegtig dankie aan haar lesers in Vleis: “Sonder julle sou nog ’n boek nie moontlik gewees het nie. Kom ons twist voort, dié keer met vleis!”

Vleis (272 bladsye) bevat ’n volledige inleiding asook ’n afdeling wat handel oor algemene inligting, gaarmaakmetodes, terminologie en omskakelings, en sewe hoofstukke getiteld “Beesvleis”, “Lam en skaap”, “Vark”, “Pluimvee”, “Afval”, “Wild”, en “Marinades, souse en soute”. Daar is ook raad met oorskietkos.

Pienaar skryf in die inleiding: “Vleis as voedsel kom al van die oertye saam met ons en die verwerking daarvan is deel van ons tradisie. Suid-Afrika, vir baie ’n land van melk en heuning, het geen tekort aan vleis van ’n wye verskeidenheid dierlike bronne nie. Wie anders kan immers spog met iets soos iets soos biltong, wat onlosmaaklik deel van ons kultuur is?”

Die uitgewersbrief lui: “Dié boek bevat alles wat jy ooit oor vleis wou weet – die snitte, voedingswaarde, veroudering, faktore wat die sagtheid bepaal, gaarmaakmetodes, bevriesing, terminologie – om net ’n paar aspekte te noem. Met resepte vir van bees, lam en skaap, vark, pluimvee, afval en wild tot marinades, gegeurde soute en olies om die snitte te komplementeer, sal dié boek sy plek volstaan op jou kombuisrak.”

Die lokteks op die agterblad lees: “Die omvattende gids is ’n moderne ensiklopedie wat ’n ereplek verdien in die kombuis van almal wat graag vleis eet en gaarmaak. Afgesien van resepte vir smullekker vleisgeregte vir elke okkasie bevat dit hope inligting oor die beste manier om die verskillende snitte en soorte vleis te berei, hoe om vleis te vries of tot perfeksie te verouder, tesame met talle wenke om geur en sappigheid te verseker – alles sonder preserveer- en ander kunsmatige bymiddels.”

Hier is die onderskeie hoofstukke en twee voorbeelde van smaaklike vleisdisse by elk:

Beesvleis (Geurige gerookte borsstuk oor die kole en Prima rib met ’n balsamiese uiebottersous)
Lam en skaap (Portugese vlamgeroosterde skaapboud en Skaapkerrie)
Vark (Varklies met bros krakeling en Heuninggemarineerde kortribskywe)
Pluimvee (Geurige gestopte werfhoender en Eend Confit)
Afval (Skaapafval in tamatiebredie en Skilpadjies met netvet en spekvleis)
Wild (Wildspastei en Wildsvleis-souttert)
Marinades, souse en soute (Stasiesous-bêremengsels en Parmesaan-en-knoffelsout)

Pienaar het se luukse, atmosferiese kleurfoto’s verleen ekstra luister aan die disse. Dit sou ’n bonus gewees het indien Vleis ’n hardeblad omslag kon hê omdat ek glo die boek baie hanteer sal word in kombuise. Die indrukwekkende verskeidenheid resepte nooi tuiskokke én professionele kokke om die resepte uit te toets – vleis is immers lekker én voedsaam.

Vleis is in Engels te kry as Meat. Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.