Jy kán jouself gelukkig dink, meen kenner

Dr. Pieter van Jaarsveld (Foto: nb.co.za)

Dr. Pieter van Jaarsveld, ’n kenner op die gebied van emosionele intelligensie en positiewe denke, het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media oor die fasette van geluk gesels.

Van Jaarsveld, wat onder andere Dink jouself gelukkig en ʼn Gelukkige kind geskryf het, deel tegnieke en vaardighede wat lesers help om ʼn lewe van geluk te lei. Hy praat ook oor die doelbewustheid van positiewe denke en die hantering van uitdagings.

Dié onderwerp word in verband gebring met moeilike en onseker tye soos die Covid-19-pandemie waar matrikulante onseker oor die toekoms blyk te wees, talle mense hul werk verloor het en moet raap en skraap om brood op die tafel te sit.

Van Jaarsveld se raad aan mense is om elke dag op te staan en doelbewus die reis na geluk te volg.

“Om gelukkig te wees, is ʼn reis,” sê hy. “En die strewe na geluk is iets waaraan ons elke dag moet werk.”

Navorsing het getoon dat 50% van ʼn persoon se geluk deur hul gene bepaal word en 10% deur hul omstandighede. Die oorblywende 40% is binne daardie persoon se beheer.

In Dink jouself gelukkig (bl. 440-443) deel Van Jaarsveld agt tegnieke wat mense sal help in hul reistog na ʼn lewe van geluk:

gelukkige Kinders_stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: pixabay.com)

  1. Begin jou dag reg
  2. Wees positief
  3. Geen negatiewes nie (om onnodig te kla of kritiseer)
  4. Voer jou geluk-aktiwiteite uit
  5. Verbeter jou verhoudings
  6. Gee aandag aan die fisieke
  7. Gee aandag aan die spirituele
  8. Evalueer elke dag

Hy sê dit is belangrik om negatiwiteit met positiewe denke te beveg deur ʼn sterk positiwiteitsratio te handhaaf: Vir elke negatiewe ding wat jy vir jouself sê, moet jy ten minste drie positiewe goed óók sê.

“Hoe meer jy negatief is, hoe meer gaan jy die lewe op daardie wyse interpreteer. Die geheim is om ten spyte van bekommernisse en frustrasie gelukkig wees.”

Van Jaarsveld benadruk dat negatiwiteit nie net ʼn invloed op menseverhoudings het nie, maar boonop ʼn invloed op ʼn mens se konsentrasievermoë het en tot ander simptome soos angs en depressie kan lei.

“ʼn Mens se gedagtes en liggaam is direk met mekaar verbind. Elke gedagte wat deur jou kop gaan, het onvermydelik ʼn invloed op jou liggaam.”

ʼn Hoë mate van blootstelling aan sosiale media het onvermydelik ook ʼn invloed op ons geestesgesondheid. Van Jaarsveld sê hoewel ʼn mens dit nie heeltemal kan vermy nie, is dit belangrik om die blootstelling te verminder.

Oor die hantering van uitdagings, veral in moeilike tye waar finansies, werksomstandighede en trauma ʼn rol speel, deel Van Jaarsveld die volgende raad.

“Skryf al jou uitdagings neer, deel dit in volgens wat jy kan beheer en waaraan jy niks kan doen nie. Fokus dan op dié goed wat jy wel kan verander,” stel hy voor.

Die beginsel is ook van toepassing op vakansieplanne wat vanjaar gekanselleer moet word. Wees bereid om moontlikhede wat binne jou bereik is te ondersoek.

“Kyk watter moontlikhede binne jou begroting pas en stel daarvolgens ʼn heerlike vakansieplan op.”

Sy boodskap aan lesers is om nooit sonder hoop te lewe nie. Moet ook nie gaan stilsit en voel of alles verkeerd gaan nie.

“Jy moet egter in gedagte hou: As jy ’n goeie sportman wil wees, moet jy hard oefen. Dieselfde geld ook as jy ’n suksesvolle deelnemer aan die daaglikse lewe wil wees. Dit vereis toewyding en harde werk. Dit is soos om ’n huis te bou: Elke dag bou jy steen vir steen (Dink jouself gelukkig, bl. 11).”

  • Luister bo aan die artikel na die volledige onderhoud met dr. Pieter van Jaarsveld oor die fasette van geluk, doelbewustheid van positiewe denke en die hantering van uitdagings.
  • Dink jouself gelukkig en ʼn Gelukkige kind is deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zandra ·

dis pragtig, ja
maklik gesê as jy lopende water het, ‘n SLK en stewige bank rekening

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.