Kaaps kry lewe in André Trantraal se stories

André Trantraal. (Foto: Verskaf)

André Trantraal, die man wat meestal in Kaaps skryf, het verlede jaar twee pryse gewen vir sy eenvoudige kinderstorie oor twee beste vriende, Keegan en Samier, wat sokker in ʼn parkie gaan speel saam.

Trantraal het Maroela Media se vrae oor sy kinderboeke, skryfwerk en dié taal wat hom na aan die hart lê in ware Afrikaaps beantwoord.

“Baie writers van kinneboeke dink stories moet funny wies of vol mystery wies of whatever. Maa ek dink daa is iets innie everyday nature van die Keegan en Samier-stories wat soes ʼn lekke koppie hot chocolate op ʼn riendag is,” is Trantraal se antwoord op die vraag oor waarom hy dink die boek so goed ontvang is.

“Die dinge wat ôs ken is comforting. Daa is safety in dit wat ôs ken want daa is soe baie dinge wat byte jou control is wanne jy ʼn kind is.”

Trantraal se Keegan en Samier: Die sokker-fiasko het in Augustus ʼn ATKV-Kinderboekprys in die selfleeskategorie vir graad 2 en 3 gewen, en dit is ook in November met ʼn Suid-Afrikaanse Letterkundeprys (Sala) bekroon.

Dit is die eerste keer dat hy sy hand aan stories vir kinders waag, vertel Trantraal. Benewens die Keegan en Samier-reeks, is hy ook verantwoordelik vir die illustrasies van Anzil Kulsen se Clint Fryer-reeks wat in 2021 by Lapa Uitgewers verskyn het.

Sy ander werk sluit ʼn verskeidenheid strokiesprentboeke, vertalings en illustrasiewerk in.

“Lank voo my eeste kinneboek gepublish was, het ek comics en cartoons collaboratively geskryf en geteken met kinnes as die main characters. Dai stories, Coloureds, Drome Kom Altyd Andersom Uit, en Ruthie was oo kinnes maa hulle wassie vi kinnes ie,” verduidelik Trantraal.

Hy het onder meer die strokiesprentboeke Stormkaap en Coloureds geskep en sy Kaapse en Engelse strokiesprente het al in Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus en Cape Times verskyn. Dit is ook in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal.

“My comics en cartoons is mostly in Kaaps geskryf, maa sommige vannit is comic book adaptations van academic texts in Engels en Crossroads, ʼn graphic history based op ʼn historian se doctoral thesis, is ʼn example van dai type van collaboration.”

Trantraal, wat op die Kaapse Vlakte in Mitchells Plain en Bishop Lavis grootgeword het, brei uit oor die temas wat in sy skryfwerk behandel word.

“Daa is baie different themes present in die wêk wat ek al oo die jare produce et en help produce et maa die theme wat al die stories in common het is undoubtedly poverty; al my stories gan oo mense wat min of niks het.”

Hy en sy broer Nathan werk gereeld saam en word as baanbrekers in die bevordering van Kaaps, oftewel Kaapse Afrikaans, beskou.

Volgens Trantraal is daar al ʼn groter ʼn bewustheid rondom Kaaps as sowat tien jaar gelede. Dit is toe te skryf aan die verskeidenheid literatuur wat in die afgelope paar jaar in hierdie variëteit verskyn het.

“Die perception van Kaaps het significantly innie laaste decade veanne, en dai is in no small part due to die exceptional quality vannie literature in Kaaps wat innie afgeloepe paa jaa veskynet, especially die poetry.”

Trantraal is ook een van die skrywers wat in Mei vanjaar aan gesprekke by die tweede Suid-Afrikaanse Kinderliteratuurfees deelgeneem het. Hy beskou dit as ʼn “n awesome initiative en deserving van ammel se support.”

Wanneer ʼn mens hom pols oor die toekoms van die plaaslike kinderboekmark is sy mening dat daar nog heelwat werk voorlê in die bevordering en uitbouing van die aanbod.

“Kinneboek publishing in Syd-Afrika wôd nog largely gesien as ʼn niche type van industry; it is niche want publishers speelit safe dee net vi ʼn established market te cater.

“It is veby tyd dat dinge veanne; ôs need boek in hystale wat alle South Africans represent, whether it in Kaaps of Sesotho is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.