Kinderboekkoning Jaco Jacobs nou deel van internasionale uitgewer

Jaco Jacobs (Foto: Jaco Jacobs Blog)

Pan Macmillan Suid-Afrika het ʼn opwindende belegging in plaaslike kinderboeke gemaak.

Pan Macmillan Suid-Afrika is deel van die Macmillan-groep, ʼn internasionale uitgewer wat in meer as 70 lande handel dryf. Die Suid-Afrikaanse maatskappy versprei bekende internasionale boeke (met ʼn sterk fokus op kinderboeke) en word ook as ʼn vooraanstaande plaaslike uitgewer beskou.

Die uitgewer het ʼn nuwe inisiatief van stapel gestuur om spesifiek op die bevordering en ontwikkeling van die kinderboekbedryf te fokus. Miemie du Plessis, plaaslike kinderboekkenner en veteraan uitgewer met 27 jaar ervaring in die bedryf, is as die kinderboekuitgewer aangestel en sal vanaf 1 September 2019 dié inisiatief bestuur.

Pan Macmillan Suid-Afrika het in ʼn verklaring Jaco Jacobs, bekroonde outeur, verwelkom. Sy eerste reeks boeke sal in 2020 vrygestel word. Jacobs en Du Plessis is ʼn gedugte skrywer-uitgewer-span en het al talle topverkopers die afgelope 18 jaar die lig laat sien.

Jacobs is ongetwyfeld die gewildste Afrikaanse kinderboekouteur en meer as 170 boeke het al uit sy pen gevloei. Sy boeke het plaaslik al meer as 1 miljoen eksemplare verkoop en is in Engels en Italiaans vertaal. Hy is al, onder andere, bekroon met die Alba Bouwer-prys, die Scheepers-prys, die CP Hoogenhout-prys en 29 ATKV-Woordveertjies. Hy was ook in 2018 op die langlys vir Engeland se Carnegie-medalje.

Du Plessis was ʼn bibliotekaris voor sy ʼn kinderboekuitgewer geword het. Sy het al honderde kinderboeke uitgegee en talle outeurs na sukses gelei. Sy is ʼn bekende in die plaaslike en internasionale uitgewersbedryf.

By Pan MacMillan Suid-Afrika sal Du Plessis fokus op ʼn groot verskeidenheid outeurs wat in Afrikaans, Engels en ander Suid-Afrikaanse tale publiseer.

“Ek is baie opgewonde om met die maatskappy saam te werk,” het Jacobs bygevoeg. “Dit is ʼn voorreg om my skryfwerk voort te sit onder die bekwame leiding van Miemie du Plessis.”

Du Plessis het gesê daar is reeds ʼn verskeidenheid opwindende boeke deur plaaslike outeurs vir volgende jaar. “Jaco Jacobs se aanhangers kan uitsien na die aksiebelaaide, skreeusnaakse avontuur van ʼn seun wie se oupa ʼn zombie-virus onder lede het en ʼn nuwe reeks stories vir jonger lesers. Die Zackie Mostert-reeks sal ook vir die eerste keer in Engels verskyn onder die titel ‘Zack Attack’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.