Kinders is gek oor gril

(Foto: Verskaf)

Stel jou dit voor: ʼn teddiebeer wat lewend word en jou probeer begrawe, of ʼn snotmonster wat ʼn koshuis terroriseer, of wat van ʼn spookmeisie wat in die middel van die nag in jou oor fluister?

Gewilde skrywers Francois Bloemhof en De Wet Hugo het saamgespan om Hoe gril ek nou! te skryf.

Die bundel bevat 11 naelbyt-lekker kortverhale wat jou skoon hoendervleis gee, maar dit is net waarvan kinders tussen 9 en 12 hou. As hul ouers nie vir hulle grilboeke wil koop nie, lees hulle dit skelm-skelm in die skool se biblioteek.

Francois en De Wet het elkeen al minstens 15 jeugboeke geskryf. In Hoe gril ek nou! skryf hulle elkeen vyf kortverhale en dan is daar die aflosverhaal met die hartstilstandtitel, “Sussie Slagtand”, wat hulle saam geskryf het.

Hoe op aarde kry die manne wat beide vrygeselle is dit reg om al hierdie stories vir kinders uit te ryg? Het hul verbeelding dan ʼn bodemlose put geword en raak dit nie soms op nie, of kry jy meer namate jy dit meer inspan?

“Laat ek dit so stel: As jy met gewigte oefen, kry jy meer of minder spiere?” sê Francois terwyl De Wet sê hy sukkel selde met ʼn storie-idee: “Daarvoor gaan daar waarskynlik té veel lawwigheid in my kop aan, maar ek sukkel elke liewe dag om met dissipline voor die rekenaar te gaan sit en te skryf,” bieg hy.

Oor hoe hulle dit regkry om in kinders se koppe te klim, sê Francois: “Ek glo dis makliker om reg te kry as ’n mens nie self kinders het nie. Wanneer jy kinders kry, is dit maklik om te begin vergeet hoe kinders dink en waarvan hulle hou”.

De Wet Hugo (Foto: Verskaf)

Vir De Wet is dit ook hoegenaamd geen probleem nie. Hy is bedags ʼn laerskoolonderwyser wat hom dus byna heeldag in kinders se geselskap bevind.

“Daarom verstaan ek baie goed hoe hulle dink, waarvan hulle hou en waarvan hulle nié hou nie. Dit help seker ook dat ek eintlik maar net ’n kind in sy veertigs is.”

Hul nuwe boek word tot dusver goed ontvang, te oordeel aan die positiewe reaksies op sosiale media.

De Wet sê almal stem saam dat die stories lekker grillerig is.

Oor die eienskappe waaroor ʼn kinderboekskrywer moet beskik, sê Francois jy moet eenvoudig lief vir stories wees en jy moet soos ’n kind daaroor opgewonde kan raak.

“Dan is die ander dinge nie so moeilik om reg te kry nie.”

“Jy moet ’n goeie, kreatiewe verbeelding hê en glo dat enigiets in ’n storie moontlik is. Ek glo die heel lekkerste en gewildste stories het altyd so ’n titseltjie fantasie in,” voeg De Wet by.

Daar is natuurlik talle mites oor kinderboeke.

Francois meen beslis een is dat alles lig en vrolik moet wees. “Onthou mense dan nie hoe gruwelik lekker die storie van Rooikappie kleintyd vir hulle was nie?”

Nog ʼn gewilde mite is dat dit eenvoudige, maklike stories is om te lees én te vertel. “Kinders is superintelligente, kritiese denkers en moet absoluut nooit ooit onderskat word nie,” sê De Wet.

ʼn Mens wonder of daar nie volwassenes is wat dink hul boeke is te rof nie?

Daarop sê Francois daar sal beslis sulke volwassenes wees.

“Ek glo hulle vergelyk dit met die meer naïewe boeke van hulle jeug. Soms wil jy hê dinge moet net bly soos dit in die ou dae was. Daar is ook mense wat glo Harry Potter-boeke is goed en wel in die oorspronklike taal, maar wat dit nie in Afrikaans sou wou sien verskyn nie.”

De Wet stem saam dat daar beslis ouers is wat nie hulle kinders sal toelaat om grilboeke te lees nie.

“Maar ek het nuus vir hulle. As onderwyser sien ek gereeld kinders wat hierdie soort boeke in die skoolbiblioteek leen, in die klaskamer lees en dit dan die middag by die skool los tot môre toe. As kinders in iets spesifieks belangstel, gaan hulle een of ander tyd wel daaroor lees.

“Kom ons vier eerder die feit dat die kinders wel lees.”

Francois Bloemhof (Foto: Verskaf)

Francois en De Wet word dikwels na skole toe genooi. Hieroor het Francois vir ons goeie nuus.

“Mense wat glo kinders lees nie meer nie, weet nie watter sterk leeskultuur daar in sommige skole bestaan nie.”

Vir De Wet wat in Hangzhou, China, skoolgee, is sy skooltoere altyd ʼn hoogtepunt van sy vakansies in Suid-Afrika.

“Dit is heerlik om kinders te ontmoet wat vrae vra oor die karakters in my boeke. Dit verstom my nog elke keer wanneer ek besef hoe bevoorreg ek is om te kan doen wat ek doen.”

Oor die behoefte aan boeke vir kinders tussen 9 en 12 meen Francois dit is ʼn stadium wanneer die kinders nog bereid is om hulle met hart en siel by ’n storie in te leef.

“Ons raak almal te vinnig groot.”

De Wet: “Dis natuurlik die tyd in kinders se lewe wat hulle die meeste aangemoedig word om te lees – deur hulle ouers én onderwysers. Daar is ook ’n ongelooflike verskeidenheid van heerlike stories vir hierdie ouderdomsgroep beskikbaar, dus is dit eintlik heeltemal verstaanbaar dat soveel van hulle passievolle lesers is.”

Soos alle skrywers is hulle self ook geesdriftige lesers. Francois, wat al meer boeke vir volwassenes as vir jong lesers geskryf het, sê hy moet erken dat hy met die uitsondering van De Wet se boeke, lank laas jeugboeke gelees het.

De Wet lees weer deesdae amper net kinder- en jeugboeke.

“Wanneer ek wel volwasse boeke lees, is dit outobiografieë, biografieë of nie-fiksie oor ’n onderwerp waarin ek belangstel soos spookstories, natuurlik.’’

Oor wat die geheim van ʼn goeie jeugboek is, sê Francois dit moet oor ’n sterk storie, lekker karakters, spanning wat opbou en ’n goeie einde beskik.

Vir De Wet is kort hoofstukke, ook ’n sterk spanningslyn, ’n naelbyter aan die einde van elke hoofstuk en ’n paar kinkels aan die einde van die storie belangrik.

Nou ja, wat sal ʼn mens daaroor sê?

Lekker gril kinders, maar slaap liefs met die ligte aan. Die ouers sommer ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.