Kobus Olivier vlug met honde, Hauser se musiek uit Oekraïne

Kobus Oliver saam met een van sy honde. (Foto verskaf)

Die aangrypende verhaal van Kobus Olivier se vlugtog uit Kiëf in die Oekraïne tot in Zagreb, Kroasië, waar hy deesdae woon, word vertel in die boek wat Kobus saam met die joernalis Hilda van Dyk geskryf het. Met my honde vertel hoe Kobus hardnekkig geweier het om sy honde in die oorloggeteisterde hoofstad van die Oekraïne agter te laat, en hoe hy met groot moeite en baie ontberings, oplaas kon vlug van die oorlog. Wat ʼn reis van 16 uur in ʼn motor sou wees, het uiteindelik ontaard in ʼn vlugtog van vier weke, gevul met angs en onsekerheid. Dié boek het uit die dokumentêre program gespruit wat Stefan Enslin verlede jaar vervaardig het. War Dogs and I is in Desember 2022 op M-Net uitgesaai en is steeds op Catch Up beskikbaar.

Aan die einde van hierdie dokumentêr, klink die weemoedige, maar melodieuse klanke van ʼn tjello op. Dit is niemand anders nie as die wêreldbekende Stejpan Hauser, ʼn tjellis van Kroasië, se musiek wat ʼn mens daar hoor. Kobus vertel dat mense se goedgesindheid, hulp en barmhartigheid reg deur sy vlugtog met die honde hom verstom het. Die geleentheid om Hauser se musiek in hierdie dokumentêre film te gebruik, is deel daarvan, sê Kobus.

Kobus in die ateljee met die musikant Hauser op die groot skerm. (Foto verskaf)

“Ek is iemand wat al baie lank vir Hauser en sy musiek volg want ek is mal oor sy musiek. Ook my honde luister graag na Hauser en dit maak hulle besonder rustig in die aand voordat hulle aan die slaap raak. In die tien dae wat ons in Kiëf in die badkamer van my woonstel geskuil het, het ek Hauser se musiek oor my selfoon en partykeer op my skootrekenaar gespeel. So hard soos wat ek kon om die ergste geluide van die ontploffings daar buite uit te skakel sodat die honde dit nie kan hoor nie. Ek het omtrent dwarsdeur die nag vir hulle musiek gespeel en dan het dit hulle kalmeer en hulle kon rustig slaap.

“Die dag of twee wat ons in Hongarye in my motor moes slaap, het ek dieselfde gedoen en vir hulle Hauser se musiek oor die selfoon gespeel. Dit is eintlik ongelooflik om die uitwerking van die musiek op hulle te sien. Die oomblik wat ek die lig afskakel, en Hauser se mooi tjelloklanke word gehoor, dan slaap hulle binne vyf minute,” vertel Kobus.

Kobus het vir Stefan Enslin, die vervaardiger van War Dogs and I vertel van die honde wat so saam met hom na Hauser se musiek luister. Hy het vir Stefan gesê ʼn mens kan byna nie die dokumentêr maak as jy nie na Hauser se musiek verwys nie. Dit het Stefan aan die dink gesit en hy het begin om navorsing te doen oor hierdie gerekende tjellis. Hy het gou uitgevind dat Hauser een van Sony Records se musikante is, en om sy musiek in die dokumentêre film te gebruik, sou onbekostigbaar wees. Dit het gelyk na ʼn saak van onmoontlikheid.

Nadat Kobus in Zagreb kom woon het, het die storie oor sy liefde vir krieket, maar ook die merkwaardige verhaal van sy en die vier honde se vlug uit Oekraïne die plaaslike nuus gehaal en Kobus is uitgenooi om ʼn televisieonderhoud vir HRT, Kroasië se hooftelevisiekanaal, te doen. Terwyl die joernalis met Kobus gesels het en hy sy ervarings in Kiëf en onderweg na Kroasië met haar gedeel het, het hulle die hele tyd Hauser se musiek in die agtergrond gespeel. Die Kroate is immers baie trots op hierdie topmusikant wat mense van reg oor die wêreld se harte verower met sy mooi musiek. Na afloop van die onderhoud, het Kobus aan haar gevra of sy vir Hauser ken. Nee, het sy aan hom gesê, maar sy ken wel sy broer Miron Hauser wat die dirigent van die televisiekanaal se orkes is. Miron is self ʼn baie begaafde tromboonspeler. Sy het daarop aangedring dat Kobus vir Miron moet ontmoet, en het vir hom Miron se nommer gegee.

“Ons het ʼn paar keer saam koffie gedrink en ek het hom ook vir ʼn braai genooi. Toe waag ek maar ʼn kans en vra hom hoe ons dit kan regkry om Hauser se musiek in die dokumentêr oor my en die honde te gebruik. Hy het toe ook aan my verduidelik dat dit baie moeilik gaan wees en dat hy nie daarmee sal kan help nie. Maar hy gee toe vir my Hauser se agent se direkte nommer. Ek het aan hom ʼn boodskap gestuur en hom vir sy e-posadres gevra. Stefan Enslin het in ʼn e-pos aan die agent verduidelik dat ons met ʼn dokumentêre program besig is, maar die geld is beperk. Tog sou ons bitter graag Hauser se musiek in die dokumentêr wou gebruik, juis omdat dit so baie vir my en die honde beteken het. “Kan ons nie asseblief net een snit gebruik nie,” het Stefan gevra.

“Ons kon byna nie glo toe die agent reageer op die e-pos nie. Hy het ʼn baie mooi brief geskryf, en gesê hy het die saak met Sony bespreek en hulle het toestemming gegee dat ons heeltemal verniet hierdie musiek van Hauser, net een snit, in die dokumentêr mag gebruik. Hoe ongelooflik is dit nie? Sony is ʼn maatskappy wat met miljarde dollars ʼn jaar werk, maar iewers was daar iemand wat na ʼn e-posversoek gekyk het, en nog dieselfde dag besluit het om toestemming te gee. Is dit nie ʼn wonderlike storie nie? Ons is voorwaar geseën,” sê Kobus.

Kobus saam met sy honde. (Foto verskaf)

Al wat toe oorgebly het, is om uit al Hauser se fantastiese musiek, een snit te kies. Kobus en Stefan het op “Song from a Secret Garden” besluit. Nie bloot omdat dit beeldskone musiek is nie, maar ook omdat hierdie een van Kobus se gunsteling-Hausersnitte is. Eersdaags, in Oktober, hou Hauser ʼn konsert in die Zagreb Arena. ʼn Suid-Afrikaner wat daardie aand beslis in die gehoor sal wees, is Kobus Olivier. Dit is een konsert wat hy nie gaan misloop nie.

  • Met my honde – ʼn Suid-Afrikaner se vlug uit Oekraïne is geskryf deur Hilda van Dyk en Kobus Olivier en deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Die boek wat Kobus oor sy ervaring geskryf het. (Foto: NB Uitgewers)

10 Feite oor Kobus Olivier en sy vlugtog:

  1. In Oekraïne was Kobus Olivier vóór die Russiese inval die skoolhoof van die Astor School indie Mezjigirja Nasionale Park.
  2. Hy was ook die direkteur van dieOekraïniese Krieketfederasie en het hard gewerk om krieket in Oekraïne ook op skolevlak te bevorder.
  3. Nadat Rusland Oekraïne in Februarie 2022 binnegeval het, was Kobus en sy vier honde – Tiekie, Jessie, Kaya en Ollie, vir tien dae vasgekeer in ʼn woonstel op die sewende verdieping in Kiëf, reg langs die roete waarmee die Russe sou opmars.
  4. Dit sou onmoontlik wees om met openbare vervoer uit Rusland te vlug, juis omdat daar vier honde by hom was.
  5. ʼn Oekraïniesevriendin van Kobus het hom gehelp en gereël dat ʼn jong sokkerafrigter, Igor, vir Kobus en die honde per motor na ʼn bestemming naby die Poolse grens vat.
  6. In Pole het Kobus verblyf gehad, maar die Poolse regering het die wetgewing verander en met sy Suid-Afrikaanse paspoort, het Kobus nie die grasie gehad om vir ʼn jaar daar te woon nie. Hy moes dus ook uit Pole vlug.
  7. Kobus het in die middel van die nag ʼn tweedehandse motor gekoop waarmee hy verder kon reis.
  8. Op die Hongaarse grens het die grenspolisie geweier dat hy na Kroasië gaan omdat hy nie ʼn Schengen-visum gehad het nie.
  9. Danksy die hulp van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Oekraïne, André Groenewald, wat ook ʼn vriend van Kobus is, het die grenspolisie hom uiteindelik toegelaat om deur te beweeg na Kroasië.
  10. Kobus woon tans gelukkig in Zagreb, Kroasië, waar hy aan die FrenchInternational School klasgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Ek het dit gekyk. Baie mooi kortfilm. Die man het sy honde deur al die ontberinge gebring na veiligheid.

trotsNAMSA ·

Ek sien op TV die Ukraniers is lief vir hul diere. Ek hoop daar is ander mense wat agtergeblewe diere versorg. My hart breek wanneer ek van konflikte hoor, wat word van die diere ? ):

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.