Krog, Myburg op kortlys vir 2023 UJ-prys

Die Departement Afrikaans by die Universiteit van Johannesburg (UJ) het onlangs sy kortlyste bekendgemaak vir die gesogte UJ-pryse, wat jaarliks in twee kategorieë: die UJ-prys en die UJ-debuutprys, en oor die grense van genres heen toegeken word.

Altesaam 49 boeke het in aanmerking gekom vir die UJ-prys, en eindelik het Antjie Krog se Plunder (Human & Rousseau), Johan Myburg se Narreskip (Protea Boekhuis), Loit Sōls se Moerstaāl (Kwela), en Kirby van der Merwe se Eugene (Human & Rousseau) die kortlys gehaal.

Byna die helfte van die boeke wat oorweeg is, was poësie wat deur digbundels verteenwoordig is. Ander inskrywings wat ook oorweeg is, was 21 romans, 3 nie-fiksie tekste (waaronder Dan Sleigh se magistrale verwerking en bywerking van die Van Steelant-joernaal uit 1713), 2 kortverhaalbundels (waarvan een ʼn versameling liefdesverhale deur verskillende outeurs), 2 bundels rubrieke of sketse (Tom Dreyer se Kodachrome en Chase Rhys se Misfits), 2 memoires (Herman Lategan se Hoerkind en Zarine Roodt se ʼn Dagreis ver), en 2 dramas (Wessel Pretorius se ont- en Philip Rademeyer se Opdrifsel).

Uit die 13 debuutwerke wat meegeding het, het 4 boeke die kortlys vir die 2023 UJ-debuutprys gehaal. Dié boeke is bottelnek breek bek deur Dianne Du Toit Albertze (Human & Rousseau), Die menslike dieretuin deur Francois Durand (Naledi), As die katjiepiering blom deur Audrey Jantjies (Kwela), en Bot deur Carien Smith (Tafelberg).

Volgens prof. Karen de Wet, voorsitter van die UJ-pryse vir Afrikaans, is dit opmerklik dat net meer as die helfte van die debute wat ingeskryf is, digbundels is. Nie een van hulle is deur sogenaamde gevestigde hoofstroom uitgewers uitgegee nie. Drie digbundels is deur Minimal Press uitgegee, twee deur Turksvy Publikasies, een deur Imprimatur en een deur Naledi. Die ander helfte van die debuutinskrywings wat ontvang is, is drie romans, twee kortverhaal bundels, en een nie-fiksie.

Die beoordelaars vir die 2023 UJ-pryse vir Afrikaans, was dr. Bibi Burger (UK), Ronelda Kamfer, dr. Amanda Marais (US), Ryan Pedro en De Wet (UJ).

Sedert 2000 word die UJ-pryse vir Afrikaans jaarliks aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke toegeken. Die UJ-pryse neem Afrikaanse boeke uit die vorige kalenderjaar in ag en sonder graag titels uit wat uitdagend met literêre styl, konvensies of temas omgaan, boeke wat boei en verras. Titels uit enige genre kom teen mekaar te staan. Waar die UJ-prys ʼn oop kategorie is, word die UJ-debuutprys spesifiek vir debuutwerk in Afrikaans geoormerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.