Luister: Feiteboek vir kinders gee stem aan SA baanbrekers

In Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika word baanbrekers se suksesverhale op informele wyse vertel. Feite en stories word verweef sodat jong lesers speel-speel leer.

Die skrywer Engela Duvenage is passievol oor navorsing en skryf. Dít het op interessante wyse neerslag in haar loopbaan gevind. Buiten dat sy ʼn bedrewe joernalis en navorser is, het sy onlangs dié boek vir jong leesgieriges saamgestel.

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika bevat stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het, met diere en plante werk, wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel en interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak.

Duvenage het in ʼn onderhoud met Maroela Media meer vertel hoe haar loopbaan ontwikkel het en waarom sy graag dié projek wou voltooi. Sy brei ook uit oor die proses om baanbrekers te identifiseer, hoe inligting verpak is en watter mense ʼn besondere indruk op haar gemaak het.

Oor die skrywer

Duvenage het ʼn meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Vir die afgelope twee dekades skryf sy gereeld vir koerante, tydskrifte en vir universiteits- en navorsingspublikasies oor Suid-Afrikaanse wetenskap en die mense daaragter.

Duvenage stel onder meer ʼn landbounavorsingsblad vir Landbouweekblad saam, en skryf ʼn maandelikse omgewingsrubriek vir die tydskrif Lig.

Sy het op Oudtshoorn grootgeword, en woon reeds byna twee dekades op Wellington in die Boland saam met haar man en twee dogters.

  • Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika kos R330 (prys onderworpe aan verandering) en is aanlyn by Lapa Uitgewers te koop. Dit is geskik vir kinders nege jaar en ouer.
  • Engela Duvenage se liefde vir feite en stories het op interessante wyse neerslag in haar loopbaan gevind. Buiten dat sy ʼn bedrewe joernalis en navorser is, het sy onlangs ʼn boek vir jong leesgieriges saamgestel. Maroela Media het met haar gesels oor Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika. Luister boaan die berig na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.