Luister: Nog stories uit die lêers van ’n forensiese sielkundige

“Dit is een ding om ʼn moordenaar te vang; maar om hom of haar in ʼn hof skuldig bevind te kry, is ʼn heel ander saak,” meen die forensiese sielkundige dr. Gérard Labuschagne.

Labuschagne het in Maroela Media se ateljee onder meer gesels oor die sake wat hy in sy jongste boek, The Profiler Diaries: From Crime Scene to Courtroom, bespreek, hoe sy skryfproses was en watter saak in die boek hom die meeste fassineer.

In hierdie boek neem hy lesers op ʼn reis van misdaadtonele na regsbanke deur te onthul wat dit verg om ʼn moordsaak suksesvol op te los.

“Mense en speurders vergeet dat jy op die misdaadtoneel nie net moet dink oor wie dit gedoen het nie, maar jy moet ook dink oor hoe, waarom en wat die verweer van die beskuldigde in ʼn hof sal wees.

“Jy kan enigiemand arresteer en jy het dalk die regte persoon, maar as jy nie die bewyse het nie, beteken dit niks. As jy nie die skuldigbevinding in die hof kry nie, beteken jou arrestasie niks nie,” verduidelik Labuschagne.

Hy sê dat alle bewysstukke wat in die vroeë fases van die ondersoek versamel word met die oog op ʼn hofverskyning gedoen moet word. “Jy moet altyd daaraan dink hoe daar in die hof na bewysstukke gekyk gaan word.”

Die sake wat in The Profiler Diaries: From Crime Scene to Courtroom van naderby bekyk word, is die Knysna-reeksmoord, die reeksmoord op sekswerkers in Port Elizabeth, die swaardmoord by Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp, die ondersoek van Brian Harvey wat sowat 40 vroue bekruip het, die moord op Michael van Eck in Welkom, en die assessering van ʼn verdagte wat gedreig het om oudpres. Barack Obama te vermoor.

In sy eerste boek, The Profiler Diaries: From the Case Files of a Police Psychologist, het Labuschagne teruggekyk op die sowat 110 reeksmoorde en talle ander bisarre misdade wat hy in sy loopbaan van 14 jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontleed het.

Labuschagne is die voormalige hoofprofielsamesteller van die SAPD en opvolger van Micki Pistorius.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met dr. Gerard Labuschagne, skrywer van onder meer The Profiler Diaries: From Crime Scene to Courtroom.
  • Ten tyde van Labuschagne se onderhoud met Maroela Media het die vonnisoplegging in die Andrea Venter-saak nog nie plaasgevind nie. Gerhard Jansen van Vuuren is wel op 5 Augustus tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van voorbedagte moord op sy gewese meisie, Andrea Venter (25). Lees alle vorige berigte oor die Andrea Venter-saak op Maroela Media.
  • The Profiler Diaries: From Crime Scene to Courtroom word deur Penguin Random House uitgegee. Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.