Luister: Riaan Grobler gaande oor nuwe hoofstuk as skrywer

Die sanger en radio-omroeper Riaan Grobler se debuutboek “Geheime op Philadelphia” het pas verskyn. (Foto: Maroela Media)

“Enigiemand kan ʼn skrywer word, want elkeen het ʼn storie om te vertel,” meen Riaan Grobler, radio-omroeper en musikant, wie se debuut-liefdesroman, Geheime op Philadelphia, vroeër vanjaar die lig gesien het.

Sy boek het in Januarie die rakke getref en sedertdien is dié verhaal oor ʼn bekende sanger wat ná ʼn tragiese ongeluk byna doof is, met ope arms deur Afrikaanse lesers verwelkom.

In Geheime op Philadelphia verander Reghardt du Toit se lewe onherroeplik ná die ongeluk. Toe Reghardt se sangloopbaan nie kan voortgaan nie, besluit hy om hom in Philadelphia, ʼn klein dorpie in die Weskus, te gaan vestig waar hy ʼn boetiekrestaurant oopmaak en probeer om sy lewe te herbou.

Riaan, wat self sowat 18 jaar in die musiekbedryf betrokke is en wat net soos die hoofkarakter in sy boek ʼn klein begin as sanger gehad en die land al platgetoer het, sê die storie is nie outobiografies nie.

“Daar is talle raakpunte tussen die verhaal en my persoonlike belewings, maar dit is nie ten volle op my eie lewe gegrond nie. Ek het wel ʼn bietjie van myself daar ingeskryf,” verklap hy, en voeg by: “Ek droom self daarvan om eendag ʼn boetiek-koffiewinkel met die naam Die Nostalgie te besit en dit moet ʼn klein teater vir optredes hê.”

Die behoefte om ʼn boek te skryf, het onlangs eers by Riaan posgevat nadat hy een van Skryfnet se kursusse voltooi het. Hy het eintlik hiervoor ingeskryf met die doel om sy skryfkuns te verbeter.

“Ek het ongelooflik baie uit die Skryfnet-kursus geleer, trouens tot so ʼn mate dat ek agterna besluit het om ʼn boek, spesifiek ʼn roman, te skryf,” vertel Riaan.

So het dit gekom dat hy vir nog ʼn kursus, dié keer by SA Writer’s College, ingeskryf het. Dié twee skryfkursusse en die mentorskap van geliefde skrywer Elsa Winckler, het ʼn deurslaggewende rol in die slyp van sy vaardighede gespeel.

Riaan sê hoewel dit binne enigiemand se bereik is om ʼn boek te skryf, kan dit egter nie sonder ʼn goeie skeut harde werk en hulpbronne gedoen word nie.

“My raad aan aspirantskrywers is om net êrens te begin. Vir my was dit in die vorm van kortverhale wat ek op Facebook geplaas het wat tot my behoefte om die fynere kuns van skryfwerk te bemeester, gelei het. Oorweeg dit om ʼn skryfkursus te doen, al skryf jy nie dadelik ʼn boek nie.

“Ek het ook ondervind dat die skryfwerk vir my geweldig terapeuties is. Dit help my in die hantering van my depressie en dit is ʼn wonderlike nuwe manier om uiting aan my talente en kreatiwiteit te gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.