Misfit: stories vannie anne kant

Misfit: stories vannie anne kant deur Chase Rhys word deur Kwela Boeke,’n druknaam van NB-Uitgewers uitgegee.

Rhys het met sy debuutnovelle getiteld Kinnes (2018) onder meer die kykNET-Rapport-boekprys (2019) in die rolprentafdeling ingepalm. Sy skryfstyl is deur die beoordelaars as filmies geloof.

In Misfit: stories vannie anne kant is 48 van Rhys se verwerkte rubrieke en kortverhale, wat voorheen in Rapport verskyn het, saamgebundel om 176 bladsye se leesplesier in hoendervleislekker Kaaps te verseker. Die skrywes getuig van ’n baie talentvolle skrywer se eiesoortige aanslag, fyn waarnemingsvermoë, benydenswaardige mensekennis en ook pittige tong-in-die-kies humor.

Ek het dit geniet om hierdie skrywes te lees. Sommige is vermaaklik, soos byvoorbeeld Kô, lat ôs braai waar ’n gesellige gesinsamekoms tydens die grendeltyd ontaard in ’n wilde eskapade waar die ouma hospitaal toe is vir ’n tetanus-shot, die Braaimaster saam is vir bloedtoetse en die hond is veearts toe. Ander is weer diepsnydend, soos byvoorbeeld Sexy Eyes waar tikverslawing se effek op ’n gemeenskap uitgelig word. Rhys, ook ’n dramaturg en draaiboekskrywer van formaat, skryf: “Ôs het ammel met horror gekyk hoe die liggame van ôsse vrinne en familie vinnag voor ôsse oë begin krimp. Hulle tanne het soema net soe ytgeval en hul vel het soe dun gewôd dattie klee van bruin na maroen veannerit.”

Nataniël beskryf die boek só op die voorblad: “Die omgewing is spesifiek, so ook die titel en die heerlike taal, maar glo my, die stories is oor ons almal en vir almal.” Hiermee stem ek saam. Rhys hou outentieke en byna lewensgroot karakters aan sy lesers voor sonder om vir hulle verskoning te maak of om hulle aan te prys. Hulle ís net. En in dié eenvoud word lesers getrakteer op ’n onverwagse buffet fynproewersgeregte wat in hulle verhemeltes ontplof. Lank nadat mens die boek neergesit het, huiwer die gebeure en karakters – randfigure of dan nou misfits as jy wil – op die drumpel van jou onderbewussyn.

Die lokteks op die agterblad lui: “Hierie stories onnesoek issues van identiteit, seksualiteit, gesinsdinamika ennie daaglikse lewe van mense aan die rand vannie samelewing – die misfits. … Die bundel is ’n treffende portret van Kaapstad en al haar misfits, geskryf met deernis en humor.” Die skrywes is kort, knap en besonder lewendig. Elke woord en sin hoort daar. Die Kaaps lees onverwags vlot; dis naderhand asof ek die kleurvolle woorde in my ore hoor klink soos wanneer ’n radio aan is. Rhys se werk lewer sosiale kommentaar op ’n manier wat lesers wil-wil aan eie bas voel, al het hulle dalk nog nooit ’n voet in Ocean View gesit nie.

Uittreksel:

“Die inperking hêrit net nog dydeliker gemaak dattie Kaapse Vlakte ’n matriargale gemeenskap is. Soes altyd, issit vroumense wat op ’n belangrike manier bydra; vrouens doen wonnewêke om ôs uit hul eie wil te voed. Vroue is biesag om mense innie strate te educate, en as ôs siek wôd sal it vroue wies wat na ôs kyk en vi ôs sôg” (Fern, bl. 39).

Misfit: stories vannie anne kant is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar. Bestel dit gerus ook hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.