’n Riller wat jou wakker hou

Liewe Mamma is geskryf deur Esther Verhoef en word uitgegee deur LAPA Uitgewers.

Hierdie ysigwekkende riller is net bedoel vir die heel dapper lesers onder ons wat daarvan hou om vrekbang te wees en ook nie omgee om slaap in te boet nie. Boonop is die teks so soomloos en visueel geskryf dat dit voel of die leser óf ’n eerstehandse ooggetuie is van die skrikwekkende gebeure, óf dalk na ’n gruwelfilm op TV kyk. Die krimi beslaan 368 bladsye in grootdrukformaat wat sorg vir ’n gerieflike leeservaring – dis nou ás jy daarin kan slaag om vir een oomblik te vergeet dat jou broek bewe.

Esther Verhoef, ’n internasionale megaster as dit by boekverkope kom, onderwerp haar lesers in Liewe Mamma aan ’n onverwagse situasie wat noodlottige gevolge het. Die leser bly deurentyd die vrae vra: “Wat as dit met mý sou gebeur het? Wat sou ék in dieselfde situasie gedoen het?” Dis juis hierdie emosionele betrokkenheid van die leser wat die verhaal soveel trefkrag gee. Jy word deurgaans daarmee gekonfronteer dat die gebeure heeltemal moontlik is en dat die karakters eg menslik is en wel geloofwaardig optree.

Helen, ’n verpleegkundige in ’n sorgeenheid en ma van drie tieners, is getroud met Werner, ’n skatryk en uiters suksesvolle besigheidsman wat ’n spysenieringsonderneming besit, betrap ’n inbreker in haar huis waar hy pas haar man vasgebind het. Sy skiet hom uit selfverdediging met die pistool wat op die bed lê nadat hy nie gehoor gee aan haar waarskuwing om te stop nie. Hy beswyk minute later aan sy noodlottige wonde. Buite wag die inbreker se agttienjarige medepligtige, Ralf, tevergeefs dat sy maat weer by hom aansluit. Werner dring intussen daarop aan dat Helen nie die polisie bel nie, want die pistool waarmee sy die inbreker geskiet het, is sýne, en hulle kan nie nou ’n mediasirkus bekostig nie. Hulle beter van die lyk ontslae raak voordat die kinders tuis kom. Niemand sal weet nie. Maar dinge is nooit so eenvoudig soos dit lyk nie. En vir Helen en die jonge Ralf sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie.

Uittreksel:

“Ek dink soms …” Sy skud haar kop. “As ons die polisie nou bel, dan …”

“Dan sal ons die paartjie wees wat ’n inbreker met ’n ongelisensieerde vuurwapen doodgeskiet en sy lyk twee dae in ’n vrieskas weggesteek het” (83).

Liewe Mamma is oorspronklik as Lieve Mama uitgegee deur Uitgeverij Prometheus, Amsterdam. LAPA gee met dankbaarheid erkenning aan die Nederlands Letterenfonds vir hul ondersteuning. Joanita Fourie het die boek in Afrikaans vertaal, en die teksredakteur is Jeanette Ferreira. Ek kon die boek nie neersit nie en sal beslis op die uitkyk wees vir nóg boeke uit Verhoef se pen.

Meer oor die skrywer: Esther Verhoef is ’n veelsydige topverkoperskrywer. Daar verskyn ’n indrukwekkende 38 van haar boeke op Goodreads. In Nederland alleen is daar reeds meer as 2,5 miljoen eksemplare van haar sielkundige rillers en romans verkoop. Sy word ook in verskeie ander tale uitgegee, en haar werk word gereeld bekroon en benoem vir toekennings. Sy het ondermeer al die NS Publieksprijs, die Hebban Crimezone Award en die Diamanten Kogel gewen.

Skaf Liewe Mamma gerus hier aan. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.