Nóg ʼn toekenning vir kinderboekkoning

Moenie hierdie boek eet nie! Foto: Jaco Jacobs, jacojacobs.blogspot.co.za

Jaco Jacobs se rympieboek Moenie hierdie boek eet nie!, geïllustreer deur Zinelda McDonald Meiring, is pas as die wenner van die tweejaarlikse Exclusive Books IBBY SA-toekenning aangewys.

Die toekenning word onderskryf deur die Internasionale Raad op Boeke vir Jongmense (IBBY), ’n niewinsgewende organisasie wat ’n wêreldwye netwerk van mense verteenwoordig wat daarna streef om kinders en boeke bymekaar te bring. Die toekenning bekroon die skrywer sowel as die illustreerder van die wenboek.

Om vir die prys in aanmerking te kom, moet die skrywer en die illustreerder albei Suid-Afrikaans wees en die boek moet ’n oorspronklike werk in enige Suid-Afrikaanse taal wees. Die boek moet ook in Suid-Afrika gepubliseer wees. Die prysgeld van R10 000 word deur die skrywer en illustreerder gedeel.

Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar, uitgegee deur Lapa Uitgewers, is ’n versameling van 366 splinternuwe kinderverse uit die pen van Jaco Jacobs. Dit sluit lawwe rympies, haikoes, limerieke en tongknopers in.

Oor die illustrasies skryf die kinderboekkenner Lona Gericke: “McDonald se illustrasies is modern, verbeeldingryk, vol humor en maak ’n groot bydrae tot die algehele gevoel van ’n puik produksie. Haar werk kan vergelyk met van die beste internasionale bundels wat ek al beoordeel het.”

Colleen Whitfield, kinderboekbestuurder van Exclusive Books, sê: “Die primêre oogmerk met die Exclusive Books IBBY-toekenning is om erkenning te gee aan die ongelooflike Suid-Afrikaanse talent en om plaaslike skrywers en illustreerder aan te moedig om die internasionale standaard van illustrasies en stories te handhaaf. Hierdie genre van letterkunde het pragtig in Suid-Afrika ontwikkel en Exclusive Books sal graag wil toesien dat dit selfs verder groei.”

Jacobs het al verskeie ATKV-kinderboektoekennings ontvang en het ook al twee keer vantevore die IBBY-erelys gehaal met sy boek Suurlemoen! en vir sy vertaling van Willemien en die Geel Kat. Hy spog ook onder andere met die Alba Bouwerprys 2007 en die CP Hoogenhoutmedalje vir Wurms met tamatiesous, en die Maskew Miller Longman-letterkundeprys vir Verneukpan en die kykNET/Rapport-boekprys 2016.

In 2014 is ’n fliek gegrond op Jaco se jeugroman Suurlemoen! vrygestel. ‘n Fliek gegrond op Oor ‘n motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word is tans in fliekteaters (en binnekort by Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop) te sien as Nul is nie niks nie.

Besoek Jaco Jacobs se webwerf vir nog meer inligting.

Moenie hierdie boek eet nie!
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R280-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.