Phoebe Abrahams vertel oor ’n lewe saam met Jakes Gerwel

Haar lewe was nie ʼn storie van “rags to riches” nie. Dit word duidelik op die agterplat van Phoebe: ʼn Lewe saam met Jakes Gerwel gestel.

Phoebe Abrahams se mense, van Grassy Park op die Kaapse vlakte, het status en styl gehad en Phoebe was boonop mooi en slim.

Jakes Gerwel, wat van Kommadagga in die Oos-Kaap afkomstig was, het haar sommer dadelik op die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se kampus raakgesien.

Sy het aanvanklik nie gedink dat hy juis ʼn beeld van ʼn man was nie – sy naam was destyds boonop Gert – maar toe sy hom in die filosofieklas met digterdosent Adam Small hoor praat het, het haar kop geswaai.

Tien jaar na sy dood wou Phoebe haar verhaal vertel. Toe het Theo Kemp, medeskrywer en vriend, Rachelle Greeff genader om die boek te skryf. Sy noem dat die boek heeltemal onafhanklik van die Jakes Gerwel-stigting waarvan hy uitvoerende direkteur is, aangepak is.

Jakes wat ʼn nagmerrie vir die destydse apartheid-regering was, het buitengewone opgang in die akademie en politiek gemaak. Hy is later as visekansellier van die UWK aangestel wat ʼn tuiste vir intellektuele “linksgesindes” was, asook direkteur-generaal in die kantoor van Nelson Mandela waar hy ʼn enorme rol in ons politieke oorgang gespeel het.

Die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie het hom in hul visier gehad en hul telefone is afgeluister. Hy is selfs in ʼn stadium vyf dae lank in Victor Verster aangehou.

Na Nelson Mandela se eerste ontmoeting met Phoebe in die stadsaal nadat hy vrygelaat is, het hy aan Jakes gesê hy kan nou verstaan hoekom Jakes die wêreld wil verander.

Phoebe Abrahams saam met wyle pres. Nelson Mandela. (Foto: Verskaf)

Jakes is Madiba se “fluisteraar” genoem.

Phoebe wat onopgesmuk en lewenslustig was wanneer die bipolêre gedrog haar daardie geleentheid gegee het, was nommerpas vir die rol van sy vrou en bekend vir haar partytjies waar soms deurnag gekuier is.

Die kollig het haar, anders as in Jakes se geval, soos ʼn handskoen gepas.

Sy was ook gek oor mooi goed, lappe en rokke.

Daar was egter soms “ʼn donker derde party” in hul huwelik, haar bipolêre gemoedsversteuring wat ʼn ongeneeslike geestestoornis is. Met genoeg ondersteuning en mediese hulp, kon sy dit gelukkig bestuur.

Sy het openhartig met Rachelle daaroor gepraat omdat sy wou hê mense moet weet daar is lewe ná so ʼn diagnose.

Rachelle vertel dat Phoebe se pa, Peter Abrahams, ʼn gesiene onderwyser in die gemeenskap was. Haar twee oudste susters het ook naskoolse opleiding gehad.

“Dit was vroeg duidelik sy is ʼn universiteitskandidaat. Dit was vir bruin mense kompleks tot gewoon onmoontlik om jou gedurende die apartheidsjare verder te kwalifiseer as standerd tien. Maar die Abrahamse was vasbeslote oor na-skoolse kwalifikasies. Come hell or high water.”

Op ʼn vraag of sy dink dit was in Phoebe en Jakes se geval ʼn kwessie van teenoorgesteldes wat mekaar aantrek, sê sy: “Ek het Jakes nie persoonlik geken nie, en is huiwerig om hierdie vraag te beantwoord. Maar, volgens alles wat ek oor en van hom gelees en geluister het, was hy ʼn intellektuele uitblinker, besonder wel ter tale, nederig en ontdaan van aanstellerigheid. Hy het, lei ek af, gehou van ʼn glasie, ʼn tjoppie en ʼn grappie.

“Phoebe is in alle opsigte ʼn tuisteskepper. Lief vir mense, onthale en kuiers. Sy kan met enigiemand ʼn gesprek aanknoop. Sy was op haar dag ʼn voordanser, maar Jakes het nie gedans nie. Jakes het van wyn gehou, sy nie.

Phoebe Abrahams en Jakes Gerwel. (Foto: Verskaf)

“Teenoorgesteldes trek mekaar soms aan – die liefdeschemie bly ʼn raaisel in ʼn spieël. Hulle het mekaar ongetwyfeld aangevul.”

Oor die feit dat Phoebe vandag in ʼn rolstoel is, 24 uur per dag versorging nodig het en twee versorgers het, sê Rachelle dis weens ʼn slegte val en ʼn knie wat daarna nooit weer wou saamwerk nie.

“Die eerste val is ʼn tragikomiese storie op sy eie, maar ek laat dit aan die nuuskieriges oor om dit in die boek raak te lees,” sê sy.

Dit kom duidelik in die boek na vore dat Jakes haar rots was. Al was hy dikwels weens sy werk weg van die huis af en al moes sy partykeer in psigiatriese klinieke opgeneem word.

Die stilgeboorte van hul eerste kind was uiters traumaties en Phoebe is van mening dat dit ʼn rol in haar bipolariteit vertolk het. Destyds is babas eenvoudig na ʼn stilgeboorte weggeneem.

Hulle het wel later ʼn seun, Hein, gehad en ʼn aangenome dogter, Jessie. Almal en hul nasate is soos bloedfamilie en met gelyke liefde behandel.

Oor die skryfproses sê Rachelle sy en Phoebe het lekker saam gewerk.

“My motor het vir ʼn jaar toe-oog Belhar toe en terug gery. Dikwels twee keer per week.”

Phoebe Abrahams gesels met Rachelle Greeff. (Foto: KR Jeffrey Abrahams)

Oor watter eienskappe dink sy moet ʼn skrywer beskik?

“Die vermoë om in onsekerheid te leef. Die vaste wete dat goeie skryfwerk die produk is van herhaalde oorskryf en herskryf, en ʼn goeie uitgewer.

“ʼn Aanvoeling en blywende fassinasie met die taal waarin jy skryf. Aanpasbaarheid. Nuuskierigheid. Verbeelding. Ook moet jy sonder omhaal van woorde kan sê nee dankie, ek kan nie dit of dat doen of bywoon nie.

“Jy moet die talent ontwikkel, as jy dit nie het nie, om op jouself aangewese te wees. Vir weke, soms maande.”

Het Phoebe die uitnodigings en sosiale byeenkomste na Jakes se dood gemis?

“Die afwesigheid, die stiltes, ja, dit was opmerklik. En ook te begrype. Sekerlik het dit haar geraak (dis nou ná haar intense periode van rou verby was; toe het sy nie aan paartie gedink nie), maar sy het dit mettertyd met wysheid en grasie aanvaar,” meen Rachelle.

  • Phoebe: ʼn Lewe saam met Jakes Gerwel kos R300 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.