Resepteboek vir behoud van kinderhuis

Foto ter illustrasie. (Foto: Rawpixel)

Die President Kruger-kinderhuis in Villieria, Pretoria, het pas sy eerste resepteboek met 32 van die kinders se gunstelingresepte uitgereik.

Marlene Spies, skakelbeampte van die kinderhuis, het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat die projek tydens die afsonderingstydperk tot stand gekom het. Sy sê die pandemie het hulle genoodsaak om buite die boks te dink, veral met betrekking tot geldinsamelingsinisiatiewe.

“Ons het ʼn dinkskrum gehou oor moontlikhede om ekstra geld te maak, maar ook om vir die wêreld daar buite te wys hoe ons as groot gesin te midde van onsekerheid saamspan,” sê Spies. Talle van hul gewone projekte kan steeds nie onder die huidige afsonderingsregulasies voortgaan nie.

Volgens Spies was die resepteboek ʼn spanpoging danksy voorstelle van administratiewe, versorgings- en kombuispersoneel, asook insette deur die kinders.

“Die feit is dat ons eenvoudig finansiële hulp nodig het om aan ons 126 kinders se daaglikse behoeftes te voorsien,” sê Spies. Die kinderhuis moes dringend ʼn plan beraam om geld in te samel vir kontantbydraes vir hul daaglikse en maandelikse uitgawes soos munisipale water- en elektrisiteitsrekeninge, kruideniersware, terapeutiese dienste, vervoer, mediese uitgawes en instandhouding.

Verskeie dinkskrumsessies het gelei tot die idee om kinders se gunstelinggeregte uit die kombuis te identifiseer en dit in ʼn boek uit te gee. Dié resepteboek bevat 32 resepte, kook- en kombuiswenke, asook pittige sêgoed van die kinders.

Die President Kruger-kinderhuis in Villieria, Pretoria, het pas sy eerste resepteboek met 32 van die kinders se gunstelingresepte uitgereik. (Foto: Verskaf)

Op die vraag oor wat hul raad aan die kombuistannie sal wees, het een van die kinders geantwoord: “Ek sal voorstel dat ons definitief meer poeding kry!”, terwyl ʼn ander een voorstel dat hulle vir kinderhuishoofde wat saam eet “jellie en daai geel-goed wat die kombuistannie oorgooi” sal bedien.

Die Kinderhuis se voorkeur-resepte uit die mond van ons Kinders kos R150 (posgeld uitgesluit) en is slegs beskikbaar per bestelling. Om die resepteboek te koop, stuur ʼn e-pos na Marlene Spies by [email protected] of skakel 012 332 1366.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.