Rut en Boas: ʼn Eietydse liefdesverhaal

oring-koringare-landerye-son

Foto: Freestocks.org/Pexels.com

Hier volg ʼn uittreksel uit Rut en Boas – ʼn liefdesverhaal deur Barend Vos.

Josebed kreun toe sy orent kom. “Dis als goed en wel Samsi-hulle vat vandag so mis, maar dis rugbreek.”

By die watersakke vra Rut: “Gaan die baas van hierdie oes nie ons optelbondels terugvat nie? Al ons harde werk …”

“Hy sal nie!” sê Josebed heftig. “Nie Boas nie.” Sy laat sak haar kop. Skielik is daar ʼn rooi skynsel op haar wange en in haar nek.

Dis toe nooit Haran nie.

“Dié Boas,” sê Rut ná ʼn ruk, “hy is glo familie …? Dis wat jou ma tog gisteraand gesê het?”

“Hy is jou pa se neef se seun, ja. Dis nie jou ma se bloed nie, dis jou pa sʼn. En joune.” Josebed frons. “Het hy al met jou daaroor gepraat? Het hy al enigiets vir jou gesê?”

Rut skud haar kop. “Ek weet niks. Ek ken nie die mense nie. My ma praat nie oor hulle nie.” Sy trek haar kleed reg en staan op. “Ons kan seker nie heeldag hier sit nie.”

Toe sien sy die man wat vinnig nader kom en sy help Josebed orent. “Hier kom hy. Dis die man Boas.”

Hoekom jaag my asem so?

***

Hy is lank. Seker sterk ook, kyk dan die skouers wanneer hy so aankom. Die bene onder sy jurk.

Josebed se asem langs haar. Sy hoef nie te kyk nie, sy weet die gesig is reeds bloedrooi.

“Julle tel fluks op.” Boas lig een van die sakke en gooi water oor sy kop uit. Hy wys na die bonkige hopies wat agter die oggend se regop gerwe lê. “Nog net so vier, vyf dae se sny, dan pak ons mied.”

Hy krink sy nek agteroor en laat loop ʼn helder straal sekuur by sy mond in. “Julle moet maar optel solank daar is om op te tel. As dit eers op die mied is, is dit te laat. En dis lank na die volgende oes toe.”

Hy weet. Hy weet hoe baie are agterbly. Hy het gesien hoe lyk die hope wat ons bymekaargemaak het.

“Dankie,” sê Rut sonder om te dink. “Dankie dat ons hier kan optel.”

Hy kyk na haar asof dit die eerste keer is dat hy haar raaksien.

“Ja, ek sê ook dankie,” kry Josebed haar stem terug. “My ma is baie bly. Ons het mos mense wat by ons ingetrek het.”

Sy wys na Rut.

Boas sit die watersak neer en loop sonder ʼn woord na waar sy snymes lê. Hy buk, tel dit op en kyk nie terug nie.

En nou? Het hy hom bedink?

“Ons moet maar weer gaan optel,” sê Josebed. “Voordat hy van plan verander. Jy sien hoe is hy. Nou lag hy nog saam, netnou ken hy jou nie meer nie. Ek dink nie eens hy weet wie jy is nie. Dat jy familie is nie.”

Ek is nie familie nie. Ek is niks van hom nie.

Toe Rut later die bondel in haar arm op die nuwe hopie gaan neersit en vinnig na die man kyk wat met soveel drif buk en sny, buk en sny, sê sy sag: “Ek is jammer, Naomi.

“Ek is jammer, ma van Maglon. Ek is jammer dat ek vandag twee keer na ʼn ander man gekyk het.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Klik hier om Rut en Boas – ʼn liefdesverhaal aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.