SA gebore sjef Prue Leith ken die kuns van kosmaak

Prue Leith (Foto: Prue Leith/Instagram)

Die Suid-Afrikaans gebore sjef Prue Leith het die kuns van kosmaak vervolmaak en sy meen kinders moet so vroeg as moontlik in die kombuis geleer word.

Maroela Media het by Prue gaan inloer met haar toer in Suid-Afrika om haar jongste resepteboek, Bliss on Toast, te bemark. Prue lê aan die einde van die maand ook ʼn besoek af by Prue Leith Sjefs-akademie, ʼn kulinêre sentrum in Centurion.

Prue (82) is ʼn geliefde aanbieder op die program, The Great British Bake Off, waar passievolle amateur-bakkers teen mekaar meeding om uiteindelik as die Verenigde Koninkryk se Beste Amateur Bakker aangewys te word.

Sy het gematrikuleer aan St Mary’s School, Waverley in Johannesburg bygewoon – ʼn Engelse onafhanklike privaat kosskool vir meisies. Sy het aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer, maar kursusse in drama, kuns, argitektuur en Frans het haar gou verveel. Sy het haar ouers oorreed om haar toe te laat om in Frankryk te gaan studeer. Dit is in Parys dat sy ʼn liefde vir kos en kosmaak ontwikkel het.

Met ʼn graad van die Cordon Bleu Cookery School het sy met spyseniering begin en dit het uiteindelik tot haar eie Michelin-ster-restaurant, ʼn uiters suksesvolle sjefskool in Engeland, talle resepteboeke en TV-verskynings gelei.

Sy is sedert 2021 ’n Engelse dame ná sy deur koningin Elizabeth II vir haar bydrae tot kookkuns, die uitsaaiwese en liefdadigheid vereer is.

Boerewors en melktert

In die Cape Grace-hotel in Kaapstad bespreek Prue met die gasvrou hul ete vir die aand. Ek wou by haar weet wat sy eerder graag sou wou bestel het. “Boerewors en melktert!” lag sy. “Die mense saam met wie ek eet is egter almal Suid-Afrikaans, so hulle kry dit gereeld. Ons sal iets anders moet eet.”

Sy is egter dankbaar vir ʼn Suid-Afrikaanse slagter in Londen wat wel boerewors maak.

Sy maak graag bobotie en herderspastei by die huis. Sy sê die Britte is dol daaroor en dit is die perfekte gereg vir ʼn gesin. “Dit is heerlik koud of warm. Dit is heerlik saam met ʼn slaai of saam met rys.”

Leer hoe om kos te maak

Volgens Prue is dit baie belangrik om mense te leer hoe om kos te maak. “Dit help jou as jou vriende onverwags by jou opdaag om in die kas te kan kyk en vinnig iets aanmekaar te slaan.”

Sy sê mens hoef net basiese vaardighede te hê om te kan kosmaak. “Dit is iets wat jou soveel plesier kan gee – en ʼn sin van tevredenheid as jy iets reggekry het. Ek weet nie van enigiets anders wat só getrou mense laat glimlag nie. En mense is vriendelik met jou as jy vir hulle iets te ete kan voorsit en dis lekker!”

Sy meen kinders moet ook so vinnig as moontlik geleer word hoe om kos te maak, sodat hulle ook ʼn liefde daarvoor kan kweek.

Saam aan tafel

Prue Leith (Foto: Prue Leith/Instagram)

Prue meen dit is baie belangrik om aan tafel met jou kinders te gesels. “As jy nooit met jou kinders gesels nie, of selde tyd het om met hulle te gesels, dan, teen die tyd wat hulle tieners is, is hulle vriende hulle raadgewers – nie jy nie. Die beste tyd om met jou kinders te gesels, is om die tafel.”

Sy sê tydens etes kan mens selfone en skerms verbied – dit is ʼn tyd waar jy dit kan beheer. “In die verlede het mens ook in die motor met jou kind gesels, maar nou het hulle selfone, en mens het ook nie meer daardie gesprekke nie.” Sy onthou met nostalgie hoe sy voor langs haar ma in die motor gesit en lang gesprekke gehad het.

“Etenstye is gewyde tye, en dit is jammer dat dit verlore gaan. Ek voel dit is baie belangrik dat ons so lank as moontlik daaraan moet probeer vashou.”

Grootste flaters in die kombuis?

As ʼn beoordelaar sê sy die grootste flater wat sy opmerk is dat die deelnemers iets te veel klits. “Ek wens soms ek kon vir hulle sê hulle moet ophou, maar ek mag nie!”

Nog iets wat sy opmerk? “As iemand ʼn vleisie nie in ʼn wárm pan braai as jy dit op die stoof gaarmaak nie!”

Bliss on Toast

Bliss on Toast is gebore in die grendeltyd, toe sy en haar man John twee jaar lank alleen by die huis was, sonder dat vriende kon kom kuier. “Ek is ʼn spysenier en ʼn restaurateur. Ek haat dit om vir twee mense kos te maak!” lag sy. “Wel ek haat dit nie, ek geniet dit, maar dis asof ek nie in staat is om net vir twee mense kos te maak nie. Ek sal dalk ʼn hele hoender gaarmaak en dan is daar altyd oorskietkos.

“Ons sal oondhoendergereg hê, dan weer oondhoendergereg. Teen die derde keer weet ek ek moet iets anders uitdink. Dan sit ek maar ʼn degie om en maak daarvan ʼn pastei. En ek het begin besef wat ek gereeld doen, is om oorskietkos op ʼn broodjie te sit.”

Sy sê sy het gou begin besef enigiets wat lekker is, is selfs lekkerder op ʼn broodjie!

“ʼn Goeie brood gee vir jou krakerigheid; ʼn ander geur; en mens hoef nie rys of aartappel of enigiets anders te maak nie.”

Sy het besef baie van dit wat sy doen, is om net goed bymekaar te voeg en het gedink dat dié tipe resepte ideaal sou wees vir ouer mense. Sy het die resepte met The Oldie-tydskrif begin deel. “Dit is ideaal vir ʼn Sondagaand. My teorie is: minstens een keer per week moet jy iets doen wat absoluut heerlik is, wat baie mooi lyk, wat baie maklik is en wat jou nie baie lank vat om voor te berei nie.”

Haar plasings was baie gewild in The Oldie en haar uitgewer was gou aan boord om ʼn boek saam te stel.

  • Koop Bliss on Toast hier en lees meer hier. Die resepte is gesond, hartlik, sout en soms soet. Dit is vir ʼn besige kok wat ʼn vol en gebalanseerde bord wil voorsit.
  • Volg Prue op Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.