Slagveld waar Piet en Dirk Uys sterf word herbesoek

Van links na regs: Nico Harris, Ian Uys, Paul Smith, en drs. Gerrit Haarhoff en Danie Langner. (Foto: Verskaf)

Gerrit Haarhoff se navorsing oor die Slag van Italeni, waar Piet en Dirkie Uys 185 jaar gelede gesterf het, dui daarop dat gebeure soos dit voorheen gedokumenteer is, waarskynlik foutiewelik weergegee word.

In sy boek, Italeni, wat op 11 April in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal bekendgestel is, skets Gerrit ʼn ander verloop van gebeure. Hy weerlê vorige geskiedskrywers se weergawes met sy interpretasie wat meer geloofwaardig blyk te wees.

Met behulp van moderne tegnologie, onder meer in die vorm van hommeltuie en Google Earth, en die hulp van Paul Smith, wat in die omgewing van die slagveld grootgeword het, het Gerrit verskeie landbakens wat ter sprake is, herbesoek.

Paul en Ian Uys, ʼn bekende geskiedskrywer, het ook tydens die geleentheid oor hulle navorsing en interpretasie van gebeure by die Slag van Italeni gepraat.

Nico Harris oorhandig Dirkie Uys se stiebeuel aan dr. Danie Langner. (Foto: Verskaf)

“Elke spreker lewer ʼn unieke bydrae tot die geskiedenis. Dit is belangrik om hierdie verskillende weergawes te hoor, want vir Afrikaners gaan dit oor die waarheid van ons geskiedenis.

“Ons leef in ʼn tyd waar ons stories verdag gemaak of as onwaar uitgebeeld word, maar deur goeie navorsing soos wat hier ten toon gestel is, is dit duidelik dat ons nooit ophou soek het na die waarheid nie. Dit is belangrik om die egtheid en waarheid van ons geskiedenis te bevestig,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, gesê.

Nico Harris, ʼn Uys-nasaat wat naby Dingaanstat grootgeword het, het ʼn stiebeuel wat in die omgewing vermoedelik aan Dirkie Uys behoort het, aan Danie oorhandig.

Nog items wat Nico Harris aan die Voortrekkermonument geskenk het. (Foto: Verskaf)

Met sy navorsing uit verslae van ooggetuies en deelnemers aan die Slag van Italeni, asook verslae van HC de Wet, en met behulp van tegnologie, het Nico nie net die grafte van die Voortrekkers wat by dié slagveld gesterf het geïdentifiseer nie, maar vermoedelik ook die grafte van Piet en Dirkie Uys gevind.

Die stiebeuel wat Nico aan Danie oorhandig het, sal nou by die res van die Uys-versameling gevoeg word vir bewaring.

Italeni kos R120 (prys onderworpe aan verandering). Die boek kan bestel word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.