Tobi Jooste pak die klein jakkalsies teen hoop in nuwe boek

Tobi Jooste het oor sy jongste boek met Maroela Media gesels. (Foto: Verskaf.)

Die sanger, skrywer, TV-aanbieder en sakeman Tobi Jooste sê die Covid-19-pandemie se afsonderingstyd het hom heeltemal onkant gevang. Wat eers net ’n week se wegbreek in Mosselbaai sou gewees het, het in sewe weke van grendeltyd verander terwyl sy konserte en ander werk soos mis voor die son verdwyn het.

Tobi het aanvanklik baie uitgesien na die ekstra twee weke by die see. “Maar skielik mag ons glad nie op die strande kerjakker nie. Na ʼn paar weke het ek ook al my pa se brandhout gebruik, want ek mag nie eens vir my warm klere gaan koop nie en dit terwyl ons elke aand vasgenael die nuus sit en kyk.

“Die grappies het al flouer begin word en die mense het mekaar al minder begin bel. Dit is toe dat ek een môre my ma bel en sê hier kom groot moeilikheid, want meer mense gaan emosioneel sterf van hierdie virus as van die virus self.”

Jooste het besef die pandemie tref hom swaar op ʼn psigiese wyse, dit terwyl hy homself glad nie as ʼn depressiewe mens sou beskryf nie.

“Ek het spore van depressie in myself begin waarneem. My konserte is in eendag uitgewis en my sakeonderneming is besig om op te droog. Ek het besef ons gaan op ’n manier emosioneel moet cope met hierdie situasie.”

Terug by sy huis in Johannesburg, na hy uiteindelik weer ʼn permit kon kry om te reis, het hy begin notas maak en boeke gelees oor positiwiteit, inspirasie en hoop. Hy het Victor Frankl, Brené Brown, Moeder Teresa en selfs die woorde van Winston Churchill en die Beatles-sanger John Lennon ingespan om hom deur die moeilike tyd te dra. As ’n slagspreuk hom geïnspireer het, het hy dit neergeskryf sodat hy dit later weer kon lees as hy gaan koffie maak.

Die navorsing wat hy aanvanklik vir homself gedoen het, is in ʼn boek omskep sodat hy die raad wat sy emosionele welstand gehelp het met ander mense kan deel.

En oor die titel wat sommige lesers met die eerste oog op slag kan ontstel, sê Jooste hy meen die tyd vir soetsappige mooi woordjies is nou verby.

“‘Byt net vas, alles gaan môre beter lyk’ of ‘alles is gemors’ of ‘deurmekaar’ gaan net nie meer werk nie. Ons is nou moeg, want ons president praat nie met ons nie, die regering is deurmekaar en ons leiers is soek; ons is almal bekommerd oor die toekoms en die planeet is gemors.

“Sê vir my wat is dan nou ʼn meer beskrywende woord in Afrikaans wat elke mens al gebruik het, of dalk net al gedink het, om die situasie tans te beskryf?”

Hy sê hy het daardie woord in die HAT gaan soek, en toe hy dié woord daar vind, het hy geweet dit mag maar deel van die titel van sy boek word.

“Daar is beslis geen beter woord om te beskryf wat met ons geldsake, die land en plaasmoorde aangaan nie.”

Jooste sê die inhoud van sy boek is egter ’n perd van ʼn ander kleur. “Ek het hier in sangkuns elkeen van daardie klein jakkalsies gaan aanvat wat tussen ons en ons geluk staan.

“Want ja, dit is ʼn gemors daarbuite, maar dan het jy nog altyd een keuse oor in die lewe en dit is hoe jy daarop gaan reageer.

“Wanneer ons nie meer in beheer van ons lewens is nie, en dit is wat nou met die pandemie gebeur het, kan ons net onsself verander deur onsself emosioneel sterk te hou.”

Emosionele drama dra fisieke gewig, sê Jooste. “Gaan staan ʼn bietjie op die skaal as jy die dag swaarmoedig is, maar klim weer op die skaal as jy goed voel. Jy gaan die verskil in kilogram sien, glo vir my.”

Hy glo vas as ’n mens net ’n paar van jou emosionele kwessies uitsorteer, gaan jy die lewe ligter en met veel meer moed aanpak. “Jy moet van hierdie kwessies kan los in die verlede, waar dit hoort, sodat jy plek kan maak op jou skouers om hulle regop te trek en aan te gaan.”

Jooste wil hê lesers moet sy boek gebruik vir inspirasie. “Trek die boek nader soos wat jy hom nodig kry. Onderstreep, krap notas daarin en trek groot kringe om dit wat vir jou iets beteken. Neem ’n foto daarvan en stuur dit vir ’n vriendin wat vandag moet hoor jy het aan haar gedink.

“Onthou as jy hierdie boek klaar gelees het, sal jy besef alles is nie ’n f-op nie, daar is altyd hoop.”

  • Als is ’n F-op, tawwe tye hou nie, maar tawwe mense wel word deur Naledi-uitgewers uitgegee. Die voorwoord is deur Steve Hofmeyr geskryf en die boek kan by die uitgewers bestel word.
  • Tobi Jooste het met Maroela Media oor sy jongste boek gesels. Hy verduidelik hoekom hy daardie titel vir die boek gekies het, en wat hy hoop die lesers sal weet as hulle dié boek klaar gelees het. Esté Meyer Jansen het met hom hieroor gesels. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.