Trefferstories vir jou Kersfees-wenslys

Argieffoto (Foto: Matias North/Unsplash)

Speurverhale uit die pen van Rudie van Rensburg en Irma Venter, en romans deur Sophia Kapp en Hans du Plessis is van die leesstof wat boekwurms in 2022 geboei het.

Hier is agt voorstelle vir storieboeke wat vanjaar op elke leser se Kersfees-wenslys moet wees.

Doolhof deur Rudie van Rensburg (NB-Uitgewers) 

Omstrede en skatryk oudpolitikus Armand Deysel is vermoor, en Kassie en Rooi het nie minder nie as ses verdagtes. ʼn Britse ondersoeker is op die spoor van die waardevolle Doolhof-halssnoer, en ʼn platsakman steier telkens terug van die samelewing se dwarsklappe.

Kassie en Rooi pak hul ondersoek sonder forensiese rugsteun aan, en al die verdagtes hardloop kringe om hulle. Gaan iemand dié keer vir Kassie ore aansit … en met die perfekte moord wegkom?

Doolhof, die jongste Kassie Kasselman-roman uit Rudie van Rensburg se pen, volg op Hartedief, Merk en Slagyster.

  • Die boek kos R330 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Doolhof aan te skaf.

Eugene deur Kirby van der Merwe (NB-Uitgewers)

“Eugene ken van skollies, gangsters en crooks. Hy is streetwise, al lyk hy nou soos iemand uit die upper-middle class. Hy kom immers uit die ghetto se killing fields van die 60’s, 70’s en 80’s. Maar nou is dit baie jare later. En die ou alliances met sy kindervriende Alan, Huey en Jenny ná alles destyds in Hillbrow tussen hulle skeefgeloop het, bestaan nie meer nie, en Eugene word aangekla van moord.”

So beskryf die uitgewer Eugene deur Kirby van der Merwe, ʼn aangrypende roman oor vriendskap en verraad.

  • Die boek kos R310 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Eugene aan te skaf.

Hans hou sy lyf Sherlock deur Rudie van Rensburg (NB-Uitgewers)

In die jongste aflewering van Hans en sy manewales volg lesers die geliefde ouetehuiskommando tot by Paternoster se Panty Bar, en anderkant uit. Maar gaan hul beursies maer bly?

Hans hou sy lyf Sherlock is die vierde roman in Rudie van Rensburg se komiese reeks oor Hans van Kraaienburg en verlosser van Huis Madeliefie se oumense. Dit volg op Hans bars die bioborrel (2021), Hans gee Herklaas horings (2020) en Hans steek die Rubicon oor (2017).

Heimwee deur Sophia Kapp (Boekdiva Uitgewers)

Mart-Mari is Louisa Louw se oudste dogter, die een wat moes vergoed vir alles wat haar ma nie kon bereik nie. Nou moet sy terugkeer na die familieplaas, Heimwee, om Louisa te begrawe en haar los te maak van die gesin met wie sy nooit kon klaarkom nie. Maar haar planne word omver gegooi deur die oënskynlik onindrukwekkende knutselaar-nutsman-van-langsaan wat sy in ʼn ondeurdagte oomblik betaal om haar voorgee-boyfriend te wees, maar dan van haar eerlikheid oor haar menseverhoudinge en haar hart vereis. En uit die verlede ontvou daar ʼn storie, ontroerend en besielend, wat haar laat besef dat bloed mag kruip waar dit nie loop nie, maar dat liefde, veral die liefde van ʼn ma vir haar kinders, oor die ewigheid heen kan reik.

  • Heimwee kos R350 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

Inkommers deur Hans du Plessis (Penguin Random House)

“Ek, Plakker Prinsloo, weet nie of ek nou al gereed is om vir die eerste keer saam met Bennie Afrikaner uit te ry Kom toe nie. Ek was nog nooit ʼn reisiger nie, dit is nou as jy nie my en Ma se ewige getrek voor Pa se misdaadrekord uit reis kan noem nie.”

Hans du Plessis se jongste boek, Inkommers, word deur die uitgewer as ʼn eietydse verhaal beskryf. ʼn Kroniek van die Afrikaners – die familie, nie die volk nie – wat al van die Groot Trek se dae af wydsbeen oor die vuil Vaal in die Vredefortkoepel boer.

Is dit moontlik dat net gebore Kommers in die Kom hoort? Hoe gemaak met inkommers wat tot dusver nie juis welkom was nie? ʼn Mens moet versigtig wees vir vreemdelinge. Die Afrikaners is hoeka aan die min word en hulle wil hulle omgewing tot ʼn erfenisgebied verklaar kry. Dan is die liefde ook nog aan die uitsterf. Iemand moet daarop reageer, rebelleer selfs, maar rebelleer die ware rebel vir iets of teen iets?

Moer deur Michèle Meyer (Protea Boekhuis)

Dit is ʼn roman oor die aftakeling wat vrou- en ma-wees op gees en lyf kerf. Daar is ʼn ongewone, ontgogelde blik op swangerskap, ontdaan van blosende skoonheid, vreedsame afwagting en innige vervulling; eerder gekenmerk deur vrees, angstigheid en ongemak. Die bloedige slagveld van geboorte word ontstellend verwoord en daarna die allesoorheersende liefde vir die babas. Maar ook die onmoontlike gyselaarsituasie van ʼn ongelukkige huwelik: “Om ʼn ma te wees is onmenslik moeilik as jou gees gevlug het uit jou lyf.” Dit is ook die verhaal van die mooi vriendskap tussen ʼn ma en stiefma. Kylie en Katrin word mekaar se weemoed.

Stella se dogters deur Helene de Kock (Penguin Random House)

Stella Bennet van die plaas Ommekeer het drie dogters, Julia, Pauli en Teresa – en hulle het probleme.

Die drie dogters se lewens word verder gekompliseer deur vier manne: Frans de Wet, wat langsaan op Genotsfontein boer, Martin Joubert, die prokureur op die dorp, ʼn plaaslike dokter James Cameron, en dokter Michael de Waal, ʼn chirurg wat vanuit die buiteland terugkom om op sy tuisdorp te praktiseer.

Al drie Stella se dogters ly tot ʼn mate aan ontkenning, ontkenning van wat werklik is en van wat hulle regtig wil hê. Maar die lewe het ʼn manier om die erkenning van waarhede af te dwing.

  • Stella se dogters kos R320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

Die verkeerde vrou deur Irma Venter (NB-Uitgewers)

Liela Oloffson het alles wat die meeste mense begeer. Skoonheid, roem en ʼn blink loopbaan as aktrise. Maar dan verdwyn sy een Vrydagnag en die polisie moet die media se hulp inroep om haar te vind.

Gesoute misdaadjoernalis Ami Prinsloo volg Liela se spoor soos ʼn bloedhond van waar sy laas in Johannesburg gesien is, en selfs verder, tot by haar kinderdae. Kruip Liela weg of is sy gekaap? Of dalk ontvoer? En waaroor het sy en haar verloofde so hewig baklei net voor sy verdwyn het?  

Dit is in ʼn neutedop waaroor Irma Venter se jongste spanningsroman, Die verkeerde vrou, gaan. Dit volg op Minder as niks, die eerste boek in ʼn splinternuwe krimi-reeks uit Venter se pen, wat in 2021 verskyn het.

  • Die boek kos R330 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Die verkeerde vrou aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.