Uittreksel – Groete, Fran

Die engele om ons (‘n ware verhaal)

Regardt gaan sit langs die vrou wat besig is om ʼn kers mooi af te werk. Hy sien plekkies op haar hande waar die warm kerswas haar gebrand het.

“Is dit nie seer nie?” vra hy.
“Nee, Meneer, die lig is belangriker,” antwoord sy. Dan staan Regardt op en stap tussen die vroue rond, elkeen besig met kerswas.

Wanneer hy loop, sleep Regardt se regterbeen effens. En soms, wanneer hy te vinnig praat, val hy oor sy woorde. Hy lyk na ʼn eenvoudige man, maar in sy oë kan jy die wêreld sien. Hy gaan sit by ʼn tafeltjie in die hoek en trek ʼn stuk papier nader. Wanneer hy teken, is sy hand doodstil, ander kere bewe dit bietjie.

Na ʼn rukkie is daar drie ronde kerse en twee langes op die papier geteken. Dan skry hy ʼn paar woorde daarby.

“Wat is dit, Meneer?” wil een van die vroue weet wat pas by hom verbygeloop het. “Sjoe,” sê sy dan, “dis baie mooi!”

Regardt voel skielik ongemaklik met die kompliment. Vreemd. Want vir jare lank was staande toejuiging iets waaraan hy gewoond was.

“Ag,” antwoord hy. “Ek probeer sommer aan ʼn advertensie vir julle kerse dink.”
“Regtig, Meneer?” vra die vrou verbaas. “Op TV?” wil sy grootoog weet.
“Nee, nee,” keer hy en glimlag. Hoewel hierdie vroue ʼn hele televisieprogram verdien. “Sommer net eers net op papier. Net ietsie wat ons verder kan versprei… sodat mense van julle weet.”
“Sjoe, Meneer. Dink Meneer hulle sal van die kerse hou?” wil sy weet.
“Beslis,” antwoord hy. “Hulle sal sommer baie daarvan hou.”

Net die vorige week het ʼn vrou opleiding vir vrywilligers op die dorp kom gee. Regardt het probeer om so stil as moontlik in te sluip. Hy wonder altyd wat mense van hom sal dink. Hy weet hy lyk maar gehawend. Daardie tipe verniel wat jy nie met skoon klere en netjiese hare kan wegsteek nie. Hy wens hy het geweet wat met sy lyf gebeur het, maar al die dokters wonder ook daaroor. Een dag was hy nog gesond. Trouens, hy was on top of the world! Letterlik. Die toneelgeselskap wat hy bestuur het, was wêreldwyd ʼn sukses. Dit was moeilik om ʼn gaatjie in sy dagboek te kry vir ʼn paar dae se rus. Maar toe besluit sy lyf hokaai! Tot hier toe en nie verder nie.

Eers het hy net olik gevoel. En later in die hospitaal beland. Toe hy daar opstaan het hy besef sy dae van die wêreld vol reis is vir goed verby. Sy dierbare suster het aangebied om hom te versorg. Versorg. Hy haat dit om so daaraan te dink. Die meeste dae kan hy gelukkig alles vir homself doen. Maar daar kom af tye.

Regardt het besef hy moet iets doen, anders gaan die groot swart hond hom insluk. Daarom het hy sy dienste as vrywilliger gaan aanbied, al moet hy dan help om die strate skoon te maak. “Ek moet iets doen,” het hy vir die dame in die kantoor gesê. “Ek is besig om my selfwaarde te verloor.” Dis sy wat hom vertel het van die vrywilligeropleiding en dat hy welkom is om dit by te woon. En daardie dag, terwyl die vrou so praat, het hy besef wat hy kan doen. Hy kan hierdie kersmakers help om hulle produkte te bemark. Dink net hoeveel dit sal beteken as mense buite die grense van hierdie dorpie ook begin kerse bestel. En hy weet dit gaan gebeur.

Regardt sal nooit die vrou se woorde by die opleiding vergeet nie. “Volunteers don’t get paid, not because they are worthless… but because they are priceless!”

Hy het na die tyd na haar toe gegaan en gesê: “Jy sal nooit weet wat hierdie dag vir my beteken het nie.” …want daar is twee maniere om die lig te versprei. Deur die kers, of deur die spieël wat die kers reflekteer.

Lees meer oor die boek hier of lees nog uittreksels hier en hier.
Lees Fran se blog hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae