UJ-pryse, wenners vir 2020 aangekondig

Etienne van Heerden en Ruan Kemp is Vrydagoggend onderskeidelik as die wenners in die twee kategorieë van vanjaar se UJ-pryse aangewys.

Dit word jaarliks aan gepubliseerde werke in Afrikaans toegeken.

Die UJ-pryse is vanjaar vir die twintigste keer aangebied. Die kompetisie word in twee kategorieë verdeel en maak voorsiening vir debuuttekste sowel as ʼn oop kategorie waar nie-debutante vereer word.

“Vanjaar se inskrywings het weer eens ʼn wye verskeidenheid tekste verteenwoordig,” het dr. Karen de Wet, voorsitter van die UJ-pryse, gesê.

Verskeie opkomende en gevestigde digters, kortverhaalskrywers, romansiers en dramaturge het hul werk ingeskryf. Altesaam 83 titels, waarvan 17 debuutwerk is, is ingeskryf.

Die UJ-debuutprys word toegeken aan boeke deur skrywers wat vir die eerste keer in enige genre debuteer.

Kemp het dié prys vir sy debuutroman Gedeeltelik bewolk ontvang.

Die keurders meen dat Kemp se roman ʼn indrukwekkende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer. Dit is veral sy vernuwende aanslag tot die grensroman, intertekstuele verwysings na ikoniese tekste in Afrikaans en treffende omslag, wat vermeld word.

Om vir die UJ-prys in aanmerking te kom word boeke deur nie-debutante oorweeg wat tussen 1 Januarie en 31 Desember in die voorafgaande jaar verskyn het.

Van Heerden, skrywer van Die biblioteek aan die einde van die wêreld, het met die louere weggestap.

Dié boek is ʼn vervlegging van aktuele kwessies, uiteenlopende karakters en tog ʼn meesterlike uitbeelding van Suid-Afrika se diverse werklikheid, meen die beoordelaars. Onderwerpe soos die onlangse studenteprotesbewegings, die mate waartoe landsburgers se privaatheid gekontroleer word en ander ongerymdhede in die samelewing word in ʼn narratief omskep en as spieëlbeeld vir lesers voorgehou.

Die keurders sluit in prof. Marné Pienaar, drs. De Wet, Frederick J Botha, Bibi Burger en Amanda Lourens, asook Jolyn Phillips en Heindrich Wyngaard.

Die pryse is die eerste keer in 2000 toegeken en het tot in 2004 as die RAU-pryse bekend gestaan voor die naam na UJ-pryse verander is. Dit is die eerste keer aan Antjie Krog toegeken vir Kleur kom nooit alleen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.