Video: Kinderboek oor Kaapse luiperd bekendgestel

Die boek “Voetspore in die fynbos” sal help om die bewaringwerk van die Kaapse luiperdstigting selfs nog wyer voort te sit. (Foto: Verskaf)

Die Kaapse luiperd is die enigste lid van Suid-Afrika se Groot Vyf wat nog wild in die Wes-Kaap voorkom. Daar is vandag minder as 1 000 van dié skugter karnivore oor en lokvalle wat op plase gestel word, is dikwels die diere se grootste bedreiging.

Dit maak die werk van die Kaapse luiperdstigting uiters noodsaaklik, maar vanjaar kon lede van die stigting se omgewingsonderrigprojek skole weens die Covid-19-pandemie nie besoek nie en kon leerders nie op kampuitstappies geneem word nie.

Skrywer Liza M Roux en illustreerder Judy Maré het in die afsonderingstydperk saamgespan om ʼn boek met die titel Voetspore in die fynbos te skep, wat kinders op ʼn ander wyse aan die seldsame luiperd bekendstel. Die hoop is dat dié kinderboek, wat in Afrikaanse en Engels beskikbaar is en die avonture volg van Leeto, selfs nog meer kinders sal bereik en onderrig oor natuurbewaring vir jare vorentoe moontlik sal maak.

“Voetspore in die fynbos” is op 29 Oktober tydens ‘n geleentheid in die Dylan Lewis-beeldhoutuin op Stellenbosch bekendgestel. ‘n Voorlesing uit die boek het in die tuin se amphiteater plaasgevind. (Foto: Verskaf)

Hierdie boek is verlede week tydens ʼn intieme geleentheid in die Dylan Lewis-beeldhoutuin op Stellenbosch bekendgestel. Volgens die stigting verkoop die boek tans soos soetkoek. Nog ʼn bonus is dat vir elke boek wat wel verkoop word, ʼn eksemplaar van die boek aan ʼn minderbevoorregte kind geskenk word.

Die boek is geskik vir lesers van die ouderdom 7 tot 14 en is ʼn font geskryf wat vriendelik is vir lesers met disleksie. Verder hoop die stigting om die boek later in Xhosa te laat vertaal en die plan is om oudioboeke ook nog later uit te reik.

Voetspore in die fynbos kan direk by die Kaapse Luiperdstigting bestel word teen ʼn koste van R160 (posgeld uitgesluit). Die boek sal later vandeesmaand in uitgesoekte boekwinkels beskikbaar wees.

Besoek www.capeleopard.org.za vir nog inligting.

  • Die insetsel is deur Nadine Theron van eNuus vervaardig. Kyk eNuus op kykNET, DStv-kanaal 144, elke aand om 19:00.

Kyk die video oor die projek hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.