Vyf boeke oor Oubaas se honne

Dit is mos sommer gróót pret om boeke te lees waarin die mens se beste vriend ook verskyn en dikwels die held (en soms die skurk) is.

My eerste boek oor honde

Welkom by die wonderlike wêreld van honde! My eerste boek oor honde beslaan 64 bladsye met interessante en leersame inligting oor ons vierbeenhelde. Die boek is ook tjokkenblok vol pragtige foto’s. Nie net is daar wonderlike informasie oor agt gewilde honde (Golden retriever, Borderkollie, Dalmatiese hond, Worshond, Weimaraner, Bernse Sennenhond, Beagle, en Siberiese husky) nie, maar daar is ook ’n nuttige vraelys om jou te help om ’n nommerpas hond te kies.

Hoofstuktitels is onder meer: Superneus!, Oor-gevoelens, Karaktertrekke, Honde wat werk, Dapper honde, en Toertjies en bevele. Kinders leer oor honde se gewoontes en ook hoe om hulle gunstelingtroeteldiere te versorg. Het jy byvoorbeeld geweet dat party honde vir hul eienaars kan geld trek by ’n kitsbank? Daar is nog baie meer feite in hierdie pragboek wat jou jou ore sal laat spits.

My eerste boek oor honde deur Dorling Kindersley (vertaal deur Lydia du Plessis) word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Bestel dit hier.

Hondman

Hierdie wêreldwye blitsverkoper is ’n kleurvolle strokiesprentboek wat ’n allemintige 240 bladsye beslaan. Geskryf en geïllustreer deur David Murray “Dav” Pilkey Jr., ‘n Amerikaanse spotprenttekenaar wat veral bekend is vir sy kinderboekreeks Captain Underpants.

Ná ’n ontploffing aan diens gaan konstabel Ken se lyf en sy hond Ben se kop dood. Die dokter werk egter die hond se kop op die man se lyf vas – ’n splinternuwe polisieheld genaamd Hondman word gebore. Maak jou maar reg vir ongelooflike aksie, spanning, romanse, en lekker lag. Dis ’n verbeeldingryke boek wat op ’n oordrewe manier kinders se soms vreemde sin vir humor en pret sal prikkel. Hondman word voorgeskryf vir kinders 6 tot 9 jaar oud.

Hondman deur Dav Pilkey word uitgegee deur Human & Rousseau.

Bestel dit hier.

Die avonture van Speurhond Willem 3-in-1

Dié lekker dik omnibus van 368 bladsye bevat drie lekkerlees-avonture (Speurhond Willem op reis, Speurhond Willem en die seerowers, en Speurhond Willem en die wilddiewe) geskryf deur Elizabeth Wasserman wat ook onder meer die gewilde Anna Atoom-reeks gepen het.

Speurhond Willem, een van die Internasionale Speurdiens se top-agente, is ná ’n sending skeefgeloop het nou die twaalfjarige Adriaan Senekal se hond. Willem sal egter nooit net nóg ’n voorstedelike brak kan wees nie – daarvoor is daar net te veel skurke in die wêreld wat uitoorlê moet word. Avontuur roep! Willem en Adriaan maak ’n wonderlike span. Ek het heerlik aan hierdie drie prettige stories gelees. Die avonture van Speurhond Willem 3-in-1 word voorgeskryf vir kinders 9 tot 12 jaar oud.

Die avonture van Speurhond Willem 3-in-1 deur Elisabeth Wasserman word uitgegee deur Tafelberg.

Bestel dit hier.

Baster

Dit is duidelik waarom Baster as die naaswenner van Lapa se jeugromankompetisie 2019 aangewys is – hierdie grootword-verhaal sal enige hondeliefhebber aan die hart gryp.

Vermeulen is ’n gesoute jeugverhaalskrywer met titels soos onder meer Asem en Oopmond op sy kerfstok. Karel Zimmerman, ’n hondefluisteraar, is ontroosbaar nadat hy sy geliefde worshond, Potlood, moet begrawe. Hêppie die brak word van kleinsaf deur Dagger mishandel. Op ’n dag kry Karel ’n oproep en gaan haal hy vir Hêppie. Hy doop die maer, vlooibesmette hond Baster Zimmerman en beloof hom ’n nuwe lewe. Intussen word Ossie, Karel se vriendin, baie siek en kan hy nie baie aandag aan Baster gee nie. Baster word gesteel en gedwing om aan ’n hondegeveg deel te neem. Sal Karel die hond betyds opspoor of sal hy in ’n geveg doodgaan?

Die aaklige realiteit van dieremishandeling, geweld en straatgevegte word ondersoek, maar liefde maak tog heel. Baster word voorgeskryf vir tieners.

Baster deur Jan Vermeulen word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Bestel dit hier.

Eerste bloed

Nie honde nie, maar weerwolwe! Dís waaroor Fanie Viljoen, ’n bekroonde, geliefde en diverse Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer, se opwindende nuwe fantasieroman van 164 bladsye handel.

Op pad terug van ’n simpel konsert af, jaag ’n grommende ongedierte met goudgeel oë die veertienjarige Joshua Reinders in die donker. Hy haal net betyds die huis. Sy pa gaan uit om ondersoek in te stel. Kort daarna weergalm ’n skoot. Sy pa het iets (of iemand) geskiet. Hy strompel die huis binne en beveel Joshua om onmiddellik te pak – hulle moet wegkom. Ná dae beland hulle op Droomhoek en trek in ’n ou huis in. Maar iets aan Droomhoek is anders. Sal Joshua en sy pa veilig wees hier of begin hulle probleme nou maar eers?

Hierdie spanningsvolle, grillerige storie met ’n vinnige pas laat die leser se hare rys! Eerste bloed word aanbeveel vir tieners.

Eerste bloed deur Fanie Viljoen word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Bestel dit hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.