Sketse vir vyfjarige nou ʼn volwaardige boek

Eric Burger se “Wiele en Masjiene”-boek

Eric Burger, oorspronklik van die Koo-vallei in Montagu, het nooit kon dink dat hy ooit sy sketse vir ʼn vyfjarige in sy familie, in boekvorm sou sien nie.

Burger se familie het hom egter aangepor om dié oulike sketse en ook later stories wat by die sketse pas, in boekvorm uit te gee en só het Wiele en Masjiene uiteindelik die lig gesien.

Hy verduidelik hy wou stadsjapies ook meer oor die plaaslewe leer. “Baie kinders, veral seuns, word nie meer aan goed met wiele – hedendaags of uit hul ouers se grootworddae, blootgestel nie. Watter dorpskind weet wat ʼn stroper is; dat water met ʼn windpomp gepomp word; dat lande geploeg en gesaai word; dat beeste op ʼn veiling verkoop word?”

Die prentjjies het te doen met alles wat wiele en masjiene het – van motors tot swaarvoertuie en plaasmasjienerie.

Die volkleur-illustrasies in die boek is gedoen met potlood, kleurpotlood en pen.

Een van Eric Burger se sketse in sy boek “Wiele en Masjiene”

“Hierdie boekie is bedoel vir die manne onder ons. Die manne wat belangstel in alles met regte wiele en masjiene – en nie so baie hou van stories oor kabouters en feetjies en prinsesse in kastele nie … Die prinsessies kan ook maar die boekie lees, só sal hulle ook kan leer van die goeters waaroor die manne praat. Elke prentjie en storie vertel van ʼn spesifieke situasie, en elkeen het óf ʼn bietjie humor óf ʼn lewensles.

“Lees dit vir jou kinders as hulle te klein is om self te lees, of laat hulle die prentjies kyk en hulle eie storie opmaak en vertel. Laat hulle dit lees wanneer hulle kan, dit sal hulle help om nuwe woorde en terme aan te leer. Daar is selfs ʼn woordelys indien hulle nie ʼn woord ken nie!” vertel Burger verder.

Die sketse is aanvanklik gemaak vir Burger se skoonsuster se kleinseun, Marco Visser van Windhoek. “Hy was in daardie stadium die enigste kleinseun in die familie met wie ons gereeld kontak gehad het en hy is gek oor goed met wiele.”

Burger skilder al meer as 14 jaar lank landskappe sedert sy aftrede.

Uitgewer: Publishing World
Prys: R120-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by BooksDirect

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

B ·

Ag, dis is werklik fantasies! :) (Die twee sketsies ‘spreek’ nogal tot ‘n mens :) )

Eric Burger ·

Dankie. Die kinders geniet ook die prentjies, al kan hulle dalk nie lees nie maak hulle hul eie stories op.

Penellope Jones ·

Absoluut wonderlik-beskrywende sketse, so realisties! –
My kinders is nou al groot en uit die huis, maar ek moet die boek aanskaf vir moontlike kleinkinders eendag maar tot dan kan ek en wederhelfte die boek lees!

Eric ·

Jy sal verbaas wees hoeveel pa’s en oupa’s die boekie skelm lees ! Kry gerus en geniet dit.

Lienka ·

Oulik gedoen Eric! Ek het weer n hekelkombers met karre, trekkers en swaar masjinerie vir my kleinseun gehekel! En dit boonop n wiele kombers genoem.
Voorspoed met hierdie oulike boekie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.