Wen: Dié stories ideaal vir jongspan se leestyd

Kaptein Onderbroek is heerlike leesstof vir jong boekwurms. Dit gaan oor George en Harold, twee skoolmaats, wat onhebbelike dinge doen soos om die skoolhoof te hipnotiseer.

“Elke keer wanneer die skoolhoof begin diep dink, verander hy in ʼn superheld met die naam Kaptein Onderbroek. Kaptein Onderbroek doen dan wonderlike en verkeerde dinge, en natuurlik loop alles verkeerd. Die twee seuns lag hulle ʼn papie vir die skoolhoof, maar op die ou einde verander hy weer terug in ʼn doodgewone skoolhoof.”

Só gesels Kobus Geldenhuys, wat Dav Pilkey se  Captain Underpants-reeks in Afrikaans vertaal het.

“Ek het werklik uit my maag uit gelag terwyl ek die Kaptein Onderbroek-stories vertaal het, en ek glo lesers gaan dieselfde genot daaruit put.

“Dieselfde met Die goorste week ooit! In die boeke gebeur die vreemdste, ongelooflikste en wonderlikste dinge met die hoofkarakter, Justin Chase, en ek het werklik heerlik gelag terwyl ek daaraan gewerk het.”

Kobus verduidelik waarom dit een van die goorste weke in Justin se lewe is. “Hy het geen vriende nie, hy is in ʼn nuwe skool en boonop boelie die hoofseun hom. Dan vermoed hy ook nog dat sy ma pas met ʼn vampier getroud is, en die trok waarmee sy loodgieter pa ry, is in die vorm van ʼn toilet. Gelukkig het Justin darem een vriendin.”

Met die oog op Wêreldboeke- en Kopieregdag wat jaarliks op 23 April gevier word, wil Maroela Media een boekwurm met ʼn paar van NB-Uitgewers se allerlekkerste kinderboeke bederf.

Die boekpak sluit die volgende boeke in: Die avonture van Kaptein Onderbroek, Kaptein Onderbroek en die geveg teen die tandetoilette, Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (én daarna die aanval van die ewe bose zombie-nerds), Goorste week ooit: Maandag, Goorste week ooit: Dinsdag, Goorste week ooit: Maandag en Platsak maak ʼn plan.

Platsak maak ʼn plan is die 24-jarige Anneke Langner se debuutboek wat pas verskyn het.

Dit gaan oor Ethan (14) wat daarvan droom om eendag ʼn rugbyster te word. Hy is baie geheg aan Leo, ʼn Jack Russell-hondjie wat hy by die DBV aangeneem het. Op ʼn dag kondig Ethan se pa aan dat hulle gesin Nieu-Seeland toe emigreer en dat hulle nie kan bekostig om Leo saam te neem nie. Ethan begin dadelik planne beraam om geld in te samel, want ʼn lewe sonder sy beste vriend is ondenkbaar. R40 000 is baie geld, en drie maande is baie min tyd …

Dié storie lê Anneke na aan die hart. “Die storie behandel relevante temas vir jong Suid-Afrikaners. Dit gaan oor emigrasie, vriendskap, drome, geld, wanneer om vas te klou aan iets en wanneer dit beter is om te laat gaan.

“Dit is my wens dat die storie iets vir iemand kan beteken, al is dit net om bietjie anders na jou geliefde troeteldier te kyk.”

Skryf nou in

Een Maroela Media-leser staan die kans om ʼn boekpak met die sewe bogenoemde kinderboeke van NB-Uitgewers te wen. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede op die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 2 Mei om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit op 2 Mei 2024 om 23:45.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • NB-Uitgewers hanteer die versending en sal direk met die wenner in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.