Wen: Milanie Vosloo inspireer duisende lesers met geestelike dagboeke

Milanie Vosloo. (Foto: Verskaf)

Geestelike dagboeke uit Milanie Vosloo se pen is uiters gewild onder lesers. Met haar oordenkings kon sy al duisende mense, veral vroue, se harte aanraak en hulle inspireer.

“Ons almal het daagliks ʼn stuk inspirasie nodig en met oordenkings kan jy lesers op ʼn kort, kragtige manier vir die dag toerus.

“Dagstukkies bied die geleentheid om ʼn wye verskeidenheid menslike ervarings as onderwerpe te hanteer. Op so ʼn manier word wysheid, raad, ondersteuning en aanmoediging bondig aan mense oorgedra,” meen Milanie.

Sy het op 23 haar eie onderneming, Uppe Marketing, van stapel gestuur en eers op 40 begin skryf. Nadat haar eerste boek, Gebeboek vir vroue by die werk, gepubliseer is, het nog 22 boeke gevolg.

“Ek skryf op enige tyd of plek. Menige idees het al op ʼn vlug tussen Johannesburg en Kaapstad gestalte op papier gekry terwyl ek vir werkdoeleindes gereis het. Ook op naweke en as ons met vakansie is, het ek tussen die ontspanning deur tyd aan skryfwerk bestee,” vertel Milanie.

Nader aan die finale manuskrip se spertyd bring sy meer tyd aan die afronding van haar skryfwerk deur. “In daardie tye werk ek dae aaneen ongestoord aan die boek. Ek plaas myself in lesers se skoene en probeer om dit te ervaar soos wat ander mense dit sal beleef.”

Krag vir elke dag, haar sewende geestelike dagboek wat in 2021 by die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) verskyn het, is reeds in die proses om herdruk te word, en meer as 35 000 eksemplare van Moed vir elke môre is al verhandel.

Moed vir elke môre het in 2008 by CUM verskyn en sedertdien is die boek al drie keer heruitgegee. Die jongste uitgawe het in 2022 met ʼn splinternuwe voorbladontwerp en enkele aanpassings die rakke getref.

Milanie is werklik een van die min skrywers van Afrikaanse boeke in Suid-Afrika wat kan sê dat derduisende eksemplare van haar boeke verkoop word.

“My gawe om te kan skryf kom van God af. Dit is eintlik regtig wonderlik om te weet dat Hy my op hierdie manier as instrument gebruik om sy Koninkryk uit te bou en te verheerlik,” sê Milanie.

Oor die boek

Die boek bevat 366 oordenkings wat vroue wil inspireer om elke dag met nuwe moed aan te pak. Met temas soos moed om weer te begin, moed om vróú te wees, moed om te glo, moed om te huil, moed om vas te byt, moed om te kniel en nog vele meer, lei Milanie vroue om hulle ware vrouwees daagliks moedig uit te leef.

Moed vir elke môre is bedoel vir elke vrou wat vasgevang en oorweldig voel. Dit sal haar inspireer om die lewe weer reguit in die oë te kyk.

Moed vir elke môre kos R249 (prys onderworpe aan verandering) en dit kan by CUM Boeke aangeskaf word.

Skryf nou in

Vyf Maroela Media-lesers staan die kans om ʼn heruitgawe van Milanie Vosloo se dagboek, Moed vir elke môre, te wen. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Donderdag 13 April om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit op Donderdag 13 April om 23:45.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Wenners moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners sal kontak maak.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.