Wenners van Sanlampryse vir Jeuglektuur bekend gemaak

Wenners van die Sanlampryse vir Jeuglektuur 2019 (Foto: Facebook via NB-Uitgewers)

Die wenners van vanjaar se Sanlampryse vir Jeugliteratuur is gisteraand in Johannesburg by Exclusive Books in Hyde Park Corner bekend gemaak. Sydney Mbhele, uitvoerende hoof: handelsmerk by Sanlam, en Michelle Cooper, hoof van die kinder- en jeugboekafdeling by NB-Uitgewers, het dié pryse oorhandig.

Derick van der Walt het sy tweede Sanlam-goud gewen met Toring van Jasmyn, ’n spanningsverhaal wat in die kleurryke, onstuimige strate van Istanboel afspeel. Van der Walt het in 2007 vir die eerste keer Sanlam-goud gewen vir sy klassieke Afrikaanse jeugroman Lien se lankstaanskoene.

Annerle Barnard het silwer verower vir haar aksiebelaaide reisverhaal Sindikaat wat beskryf word as ʼn “weldeurdagte, realistiese storie wat die leser tot op die laaste bladsy boei”.

In die kategorie vir Engelse fiksie is die goue prys aan Nerine Dorman toegeken vir Sing Down the Stars, wat deur die keurders as “’n briljant geskrewe distopiese verhaal” beskryf is. Toby Bennett het silwer gewen vir sy meesterlike fantasieverhaal The Music Box wat ʼn worsteling met die stryd tussen goed en kwaad uitbeeld.

Twee debuutskrywers, Thembisile Kundlwana en Mbedzi Nyelisani, is in die kategorie vir Afrika-tale bekroon. Kundlwana het goud gewen vir Tata sikuxolele (“Pappa, ons vergewe jou”), ’n isiXhosa-verhaal “oor ’n stille pandemie in Afrika”. Die silwer toekenning is aan Nyelisani oorhandig vir U kondelela (“Geduld”), ’n Tshivenda-fabel met “’n boeiende boodskap oor leierskap, magshonger, demokrasie, ware vriendskap en geduld”.

“Ons is opgewonde oor die verskeidenheid temas en genres in vanjaar se weninskrywings,” sê Cooper. “Hier is genoeg wat bekend is om Suid-Afrikaanse tienerlesers te boei, maar ook heelwat wat nuut en anders is om hulle koppe oop te maak en grense te skuif.”

Die Sanlampryse vir Jeuglektuur word sedert 1980 toegeken en is ingestel om oorspronklike en kreatiewe skryfwerk vir tienerlesers en jong volwassenes tussen die ouderdomme van 12 ot 18 jaar oud aan te moedig.

“Sanlam se 39 jaar lange borgskap van hierdie toekenning illustreer ons belegging in die jeug en om hulle toegang te gee tot die beste jeuglektuur in hul moedertaal,” sê Mbhele. “Ons erken en beloon die ses skrywers vir hul vermoë om as woordmeesters 26 letters te omskep in iets van groter waarde – ’n literêre meesterstuk wat jong mense op ’n emosionele reis neem, of na plekke wat hulle dalk nooit in hul leeftyd sal besoek nie.”

Die pryse word tweejaarliks vir nuwe manuskripte toegeken en dan word twee wenners (goud en silwer) in elk van drie kategorieë (Afrikaans, Engels en Afrika-tale) aangewys.

Inskrywings word nou ingewag vir die 2021-Sanlampryse vir Jeuglektuur. Inskrywingsvorms is beskikbaar by www.nb.co.za en die sluitingsdatum is 1 Junie 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.