Die trotse geskiedenis van Pretoria se oudste leeskring

leeskring-boeke

Pretoria spog met een van die oudste leeskringe in die land. Foto: Atterburytrust.org

Besprekings oor boeke is so oud soos die gedrukte woord self. Vandag het elke buurt sy eie boekklub, maar ernstige leeskringe bestaan al sedert die Franse literêre salonne van die 17de en 18de eeu. Die geskiedenis vertel ons van sulke byeenkomste in private huise in Parys, waar die gasvrou – dikwels self ’n skrywer – kunstenaars en literêre en politieke figure onthaal het om nuwe letterkunde te bespreek.

En hier in Suid-Afrika is die tradisie ook al ’n eeu oud, en dis niemand anders as ’n Pretoriase Afrikanervrou wat dit alles begin het nie. Mabel Malberbe het in 1912 die Afrikaans-Hollandse Leesunie in Pretoria gestig, en in 1940 het die Mabel Malherbe Leeskring ontstaan omdat die Leesunie nie meer lede kon aanvaar nie. Die Leeskring ontmoet steeds maandeliks om nuwe Afrikaanse letterkunde ernstig te bespreek. Dis nie elke dag dat ’n leeskring sy 75ste bestaansjaar vier nie, maar dit is presies wat onlangs in die Atterbury Teater gebeur het, by ’n gesamentlike byeenkoms vir al Pretoria se leeskringe. Atterbury en Atterbury Trust het ter ondersteuning van hierdie mylpaal ’n bydrae gelewer tot hierdie inspirerende byeenkoms.

Mabel-Malherbe

Mabel Malherbe. Foto: Atterburytrust.org

Maar wie was Mabel Malherbe, die historiese figuur agter een van Suid-Afrika se oudste leeskringe? Hierdie merkwaardige vrou was haar tyd vooruit en het in ’n era toe vroue se plek by die huis was, diep voetspore getrap as joernalis, parlementariër en voorvegter vir vroueregte en Afrikaans …

Heel profeties is klein Mabel Rex gebore op die hedendaagse Vrouedag, 9 Augustus 1879, die enigste dogter van Frank en Jess Rex, in Pretoria. Haar pa was ’n direkte afstammeling van George Rex wat Knysna gestig het en wie se herkoms die skindertonge van destyds aan die gons gehad het – die gerug was dat hy die buite-egtelike seun van Koning George III was, wat volgens oorlewering na Suid-Afrika verban is. Mabel se ma was die digter Eugene Marais se ouer suster.

Mabel was skaars 20 toe die Boereoorlog in 1899 uitbreek, maar het aangesluit by die Rooi Kruis as verpleegster. En toe die oorlog verby is, is sy Nederland toe om behoorlik as verpleegster opgelei te word.

Terug in Suid-Afrika ná drie jaar, het jong Mabel in 1904 met ’n prokureur, Kenne Malherbe, getrou, en in dieselfde jaar aangesluit by die splinternuwe Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Dit was die begin van haar lang en invloedryke betrokkenheid by een vroue-organisasie ná die ander. Oor die jare het sy ’n leidende rol gespeel in talle verenigings soos die Nasionale Vroueparty, die Bond van Afrikaanse Moeders en die Nasionale Vroueraad. In alles het haar geliefde, en duidelik verligte, Kenne haar ondersteun.

Uit haar liefde vir letterkunde het die Pretoriase Afrikaans-Hollandse Leesunie in 1912 ontstaan, waar Nederlandse en mettertyd ook Afrikaanse boeke bespreek is. En jare voordat Sarie Marais die lig gesien het, het Mabel die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boerevrou, in 1919 gestig. Sy het die tydskrif 12 jaar lank maandeliks uitgegee voordat dit onder toenemende finansiële druk gesluit is, maar daar is twee bundels met samestellings uit die tydskrif wat vandag nog as Africana-versamelstukke beskikbaar is – Die Boerevrou-boek van 1950 en Juwele wat steeds bekoor van 1951. Afrikaanse literêre ikone soos Miemie Rothman (M.E.R), Eugene Marais (Mabel se oom), FW Reitz, Jan Cilliers, AG Visser en Toon en CM van den Heever het bydraes gelewer in hierdie pioniersblad.

Afgesien van joernalistiek het Mabel ook baie in die politiek belanggestel, en in 1927 is sy aangestel as lid van die Pretoriase stadsraad, ’n rol wat sy ses jaar vervul het. In haar laaste jaar is sy selfs verkies tot burgemeester … die eerste vrou ooit in Suid-Afrika om dié pos te beklee! Haar politieke loopbaan het haar verder geneem, en sy was lid van die Transvaalse Provinsiale Raad en die Volksraad, waar sy haar beywer het om die lot van minderbevoorregtes te verbeter en vrouebelange te bevorder.

Mabel se toewyding tot haar moedertaal het haar voorts gelei om geld in te samel om in die dertigerjare die Transvaalse Universiteitskollege te help om ’n onafhanklike universiteit te word. Intussen het die Afrikaans-Hollandse Leesunie aanhou groei totdat daar 100 lede was en ’n lang waglys vir lidmaatskap … en dit is toe, in 1940, dat die Mabel Malherbe Leeskring gestig is. As 74-jarige, in 1953, het hierdie Afrikaner-heldin ter erkenning van haar uitnemende bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur ’n eredoktorsgraad in die Lettere van die Universiteit van Pretoria ontvang. Sy is in 1964 op Nelspruit oorlede.

Vandag, ’n hele 51 jaar later, gaan die leeskring wat haar naam dra steeds van krag tot krag. Volgens die huidige voorsitter, Irene Harmse, is daar altyd plek vir nuwe lede. “Ons is trots om die naam te dra van hierdie merkwaardige vrou, wat so baie vir die taal, vir vroue en vir liefdadigheid beteken het. En ons is ook geweldig trots om ná ’n driekwarteeu steeds voort te bou op wat sy begin het.”

Die leeskring vergader die tweede Donderdag van elke maand om 14:00 in die Alkantrant Biblioteek, hoek van Daventrystraat en Lynburnweg, in Pretoria. “Mense wat graag wil aansluit, kan sonder afspraak gerus net opdaag,” sê Irene. “Dit help wel om te weet watter boek ons volgende bespreek, so bel my of ons ondervoorsitter, Elmarie van der Walt, gerus. Ons deure is wawyd oop!”

Kontakbesonderhede: Irene Harms by 012 460 8110 of 083 305 8793 of [email protected]; of Elmarie van der Walt by 082 650 1953 of [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae