Digitale baadjie vir ‘Wêreldspektrum’ aangetrek

Boekdele uit die Wêreldspektrum-reeks (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Vir talle Suid-Afrikaners was Wêreldspektrum die soekenjin van ouds wat vir enigiets van skooltake tot navorsingsprojekte geraadpleeg is. Dié ikoniese hulpbron pronk nou nie net meer op ouma se boekrak nie, maar ook in digitale formaat op die Afrikaanse Wiki-boekrak.

“Kinders weet nie meer hoe om bronne, veral boeke, te raadpleeg nie,” vertel Elana Barker, Maroela Media se koördineerder van die Wikipedia-projek. “Om hierdie inligting op ʼn platform te plaas in ʼn medium wat vir kinders meer toeganklik is, maak daarvan ʼn uiters waardevolle bydrae tot die Afrikaanse kultuurerfenis.”

Barker verduidelik dat dit ʼn nostalgiese proses was om die Wêreldspektrum-boekereeks, wat ook ʼn groot deel van háár skooldae was, te digitaliseer. Sy onthou veral dat die hele klas biblioteek toe gehaas het om eerste die bronne, waarvan daar ʼn beperkte hoeveelheid beskikbaar was, uit te neem. Dit was voor die hand liggend dat almal se skooltake dan dieselfde inhoud bevat het, voeg sy skertsend by.

Die inisiatief om dié boekereeks te digitaliseer is in 2018 van stapel gestuur. Ná gesprekke met regskenners oor publikasieregte en duplisering van inhoud, het Maroela Media die nodige toestemming verkry om voort te gaan met die projek.

Wêreldspektrum bestaan uit 30 boekdele, waarvan die 30ste volume slegs ʼn indeks is. Elke boekdeel is afsonderlik deurgewerk. In die proses het Barker onderwerpe in twee kategorieë verdeel: dié wat reeds op Wikipedia gelys is en dié wat van nuuts af geskep moes word. “Ek het 617 onderwerpe bygewerk en 450 nuwes geskep,” voeg sy by. Van hier af is inligting verwerk en uiteindelik op Wikipedia ingevoer.

Feite is dikwels bygewerk om sodoende steeds relevant en noukeurig binne die hedendaagse konteks te wees. Hoewel diere se koninkryke verander het, spesies uitgesterf het, en besienswaardighede nie noodwendig meer bestaan nie, is en bly die Wêreldspektrum-erfenis veelseggend.

Wêreldspektrum is slegs die begin van Maroela Media se bydrae tot die Afrikaanse Wikipedia-versameling. Barker vertel dat sy reeds besig is om die Kennis-ensiklopedie te digitaliseer en dat ander bronne, soos byvoorbeeld die Erfenisstigting, ook in die toekoms genader sal word.

Die uitbouing van Wikipedia se Afrikaanse artikels word nie eksklusief deur Maroela Media behartig nie. Barker verduidelik soos volg: “Enigiemand kan inklim, moue oprol en aanpassings maak soos wat tegnologie, klimaatstreke, politiek, en so meer, verander. Oor 10 jaar gaan die inligting wat ek opgelaai het wéér verouder wees. Daarom is dit belangrik dat die Wiki-gemeenskap ook groei.”

Barker waarsku egter dat Wikipedia se administratiewe span geweldig streng is met die keuring van nuwe artikels of inligting wat bygevoeg word. “Geen artikel word sonder bronverwysings aanvaar nie. Dit word dan as ʼn ‘Wees-artikel’ gestoor, totdat die nodige bronne bygewerk is.”

Artikels moet in ʼn kliniese en akademiese styl geskryf word, geen emotiewe taalgebruik word aanvaar nie en die gebruik van voornaamwoorde word ook verbied.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig dat hy sedert 2016 aktief betrokke is by die uitbouing van Wikipedia se Afrikaanse artikels.

Indien jy sou belangstel om ʼn bydrae te lewer tot die Afrikaanse Wikipedia stuur gerus ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daan Erasmus ·

Ek het ‘n stel van “Wêreld Spektrum”. Ek kry dit nie eers weg gegee nie.

MH ·

Ek verstaan nie hoekom jy ‘n stel van Wêreldspektrum wil weggee nie. Myne pryk nog trots op my boekrak.

Wielspore ·

Ons het meer waarde uit die boekrak gekry wat saam met die stel boeke verskaf is. Ek moet daarem noem dat rekenaars bekend gestel is in SA net nadat ons die reeks gekoop het. Rekenaars het die soeke na inligting baie maklik gemaak as wat dit sou geneem het om dit deur die boeke na te slaan. Ons stel het ons weg gegee.

Kosie Kramer ·

Ek gebruik nou nog my Wêreldspektrum, alhoewel ek meer waarde vind in die “Nuwe Afrikaanse Kinderensiklopedie”, en wyle Koos Human se wonderlike “Kennis”.

Yolande ·

My seun het gister weer sy wêreldspektrum gebruik om inligting te kry vir ‘n skool taak…..ons kinders het verleer hoe om indekse en boeke te gebruik. Dis baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.