Eietydse sprokie wen PEN se Afrikaans-skryfkompetisie

skryfblok_vuurvreters_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

PEN Afrikaans het pas die wenners van sy kortverhaalkompetisie met “Toegang” as tema bekend maak.

Die wenner is Hendie Grobbelaar met haar verhaal “Die rooi tekkies”. Volgens die keurders het Grobbelaar se verhaal ʼn verrassende invalshoek wat uitgestaan het “tussen soveel inskrywings oor ellende, teleurstellings en die dood”.

In “Die rooi tekkies” maak ʼn engel sy verskyning in die storie en so ook by die huis van ʼn vrou wat in ʼn stryd met ʼn dikvellige boerpampoen gewikkel is. Die engel bied aan om te help en rondom die pampoenkokery begin hulle gesels. Selfs al vergeet die engel vir geen oomblik waarom hy gekom het nie, flonker die humor tussen hulle sinne deur.

“ʼn Eietydse sprokie dus? Miskien. Want wie kan nou anders as om Aspoestertjie se koets te onthou? En ook Martin Versfeld se essay oor die pampoen; een van die nederigste en gewoonste groentesoorte?” skryf die keurders.

Grobbelaar ontvang prysgeld ten bedrae van R6 000, ʼn eksemplaar van PEN International se eeufeesboek en die verhaal sal op RSG se Kortom voorgelees word.

Maretha Maartens het tweede geëindig met “Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde” en in die derde plek is Anton Döckel met sy verhaal “Wind”. Die ander twee verhale in die topvyf is “Duine” deur Johann Crous en “Hipoksie” deur Adelle van Wyk.

Maartens se verhaal beskryf met bedrieglike eenvoud presies dit waarna die titel verwys, meen die keurders. Nietemin vervleg die skrywer die alledaagse en herkenbare versigtig met dit wat die sleutel tot Nonnetjie se lewe en laaste ure bied.

“Nonnetjie som die bittersoet so ráák op. Die skrywer verstaan hoe om inligting met die leser te deel, net genoeg op net die regte tyd, en ook dat fyn tydsberekening die lewensaar van die kortverhaal is.

“Die slot van die verhaal verras ongeforseerd en illustreer terselfdertyd die aard van hierdie aardse bestaan van ons suiwer en moeiteloos.”

Maartens en Döckel ontvang onderskeidelik prysgeld ten bedrae van R4 000 en R2 000, elkeen wen ʼn eksemplaar van PEN International se eeufeesboek en albei verhale sal op RSG se Kortom voorgelees word.

Volgens ʼn verklaring deur PEN Afrikaans het prof. Heilna du Plooy die eerste keuringsproses met groot kundigheid en deeglikheid behartig. Daarna het ʼn bekwame beoordelaarspaneel, wat uit Brian Fredericks, Madré Marais en JM Gilfillan bestaan, die uitgesoekte verhale gelees, herlees, oorweeg en bespreek om gesamentlik die wenners aan te wys.

Die paneel sê tussendeur die vindingryke stories, aangrypende vertellings en verskeie baie slim uitgewerkte verhale het die wenverhaal, en die paar wat ’n kortkop agter hom was, egter iets heel anders reggekry.

“Dié handvol inskrywings het met hul eerlikheid en deernis in al drie lesers se gedagtes en gemoed bly vassteek. ʼn Verhaal wat met deernis na die mens kyk en met eerlikheid vertel word, bereik presies dit wat ʼn goeie kortverhaal moet: tydloosheid.”

Die kompetisie word met die steun van PEN International aangebied, met medewerking deur LitNet as publikasievennoot, Nicky Grieshaber as teksversorger en Wilna Combrinck as ontwerper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.