Enigmatiese Engelenburg: beskermengel, baanbreker vir Afrikaans

Engelenburghuis se vooraansig. (Foto: Verskaf)

Net duskant die Uniegebou staan ʼn huis wat ʼn paar belangrike geheime bewaar. Geheime wat eintlik algemene kennis behoort te wees, maar waarvan ek bitter weinig geweet het voordat ek die Engelenburgmuseum besoek het. Want in dié huis het ʼn man gewoon wat baanbrekerswerk vir Suid-Afrika, en spesifiek vir Afrikaans, gedoen het.

Engelenburghuis was die tuiste van die eertydse eienaar en hoofredakteur van De Volksstem, dr. Frans Vredenrijk Engelenburg (1863-1938). Voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het Engelenburg in 1898 twee erwe teen die hange van Meintjieskop, Arcadia, aan die buitewyke van die destydse Pretoria gekoop en in 1900, net voor die Engelse Pretoria ingeneem het, het hy die derde erf gekoop waarop hy in 1903 ʼn herehuis gebou het.

Toe sy pa sterf, het Frans die familie se rykdom geërf. In 1903 bou hy die huis om al die besondere erfstukke, wat van Nederland na Suid-Afrika gebring is, te huisves. In 1922 vergroot hy die oorspronklike huis. Hier sou hy en sy vrou tot en met sy dood woon.

Wie was dr. FV Engelenburg?

Dr. Frans Vredenrijk Engelenburg was ʼn regsgeleerde en het in 1889 uit Nederland geëmigreer. Hy het hom in Pretoria gevestig en werk as die hoofredakteur van die eerste Nederlandse dagblad, De Volksstem. Kort nadat hy in Pretoria aangekom het, het hy as raadgewer en soms ook as sekretaris vir president Paul Kruger opgetree tydens sy reise in die Transvaalse platteland.

(Foto: Verskaf)

Prof. Jaap Steyn vertel dat sy eerste kennismaking met Kruger nie alte gelukkig was nie. Die president was op sy stoep en die jong Hollander het, toe hy die trap opstap, met elke tree diep gebuig en sy pluishoed afgehaal en geswaai, soos dit destyds formaliteitshalwe nodig was as ʼn mens ʼn staatshoof besoek het. Toe die besoeker sy derde buiging maak, het Kruger gesê: “Man, as jy dit weer doen, slaan ek jou op die kop!”. Maar Engelenburg en die president het goeie vriende geword en Engelenburg het altyd as sy verdediger opgetree.

Hy was sedert sy aankoms in 1889 betrokke by skoolopleiding in die destydse Transvaal en in die vroeë 20ste eeu was hy lid van die Onderwysraad van Transvaal en die Raad van die Universiteitskollege van Transvaal (vandag die Universiteit van Pretoria).

Hy was ook lid van die Raad van die Staatsbiblioteek en het self ook boeke aan dié biblioteek geskenk, in lewe en ook na sy dood. Engelenburg was ʼn stigterslid in 1909 van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Lettere en Kunst (vandag die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns), vir jare ʼn raadslid en vir twee termyne voorsitter van die Akademie.

Stryder vir Afrikaans

Engelenburg was ʼn groot voorstander van Afrikaans, al het hy self Nederlands bly gebruik. As gebore Nederlander het sy liefde vir die Afrikaanse taal geleidelik ontwikkel en na die Anglo-Boereoorlog het hy aktief Afrikaans op verskeie fronte help bevorder en ontwikkel, onder andere die Afrikaanse taalkunde, literatuur, skryfvaardigheid en om ʼn leeskultuur in die land te help vestig.

Sy koerant De Volksstem was ook ʼn spreekbuis vir sy sienings oor Afrikaans. Hoewel die publikasie in 1900 na die val van Pretoria gestaak is en Engelenburg gevang, beboet en gedeporteer is, het Louis Botha en Jan Smuts egter moeite gedoen om dit te hervestig. Toe hy in Maart 1903 toestemming kry om De Volksstem weer uit te gee, het hy Preller ʼn pos as subredakteur aangebied. Preller en Engelenburg was gou goeie vriende en het saam die taalstryd gevoer. Toe Preller se betoog in 1905 as brosjure verskyn (“Laat’t ons toch ernst wezen! Gedachten over een Afrikaanse schrijftaal”), het Engelenburg die voorwoord geskryf.

Spanning tussen voorstanders van Afrikaans en Nederlands het nog lank voortgeduur. Melt Brink het die Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1911 gevra om gestandaardiseerde spelreëls vir Afrikaans op te stel. Sy voorstel is op die jaarvergadering bespreek, maar die bespreking is gestaak uit vrees vir ʼn twis tussen die twee groepe. Sterk weerstand teen die bevordering van Afrikaans bo Nederlands het van veral teoloë en predikante gekom, wat dit nie as ʼn geskikte kanseltaal beskou het nie.

Engelenburg en DF Malherbe het ʼn belangrike rol gespeel om die spanning tussen die twee groepe te ontlont, toe hulle aanbeveling aanvaar is dat die statute en dokumente van die Akademie so geïnterpreteer moet word: oral waar die woord ‘Hollands’ voorkom, sluit dit ook outomaties Afrikaans in.

Die huis, sy vertoonkas

Engelenburg se huis oorrompel my die oomblik toe ek dit betree. Die ganse huis is vol vertoonstukke uit verskillende periodes – Barok, nieuklassiek, Victoriaans, Edwardiaans. Die groot keramiekversameling wat uitgestal word getuig ook van die familie se status. Die badkamer in die huis was ʼn absolute luuksheid in daardie jare.

Sommige van die meubels wat vandag in die huismuseum staan, is oorspronklik en die res is getrou aan die tyd aangevul en die vertrekke heringeklee. By die voordeur se ruit pryk twee familiewapens pragtig in loodglas – dié van die Engelenburg-familie en ook die Koopmans-familiewapen, omdat hulle verwant aan mekaar was. Johan Koopmans was sy neef en hy het gereeld aan huis van die Koopmans De Wet-familie gekuier.

Die kleurvolle versameling en interieur van die Engelenburghuismuseum getuig volgens die SA Akademie van Engelenburg se artistieke en kosmopolitiese belangstellings. Daar is skilderye, silwerware, tapisserieë, porselein- en glasware, en verskeie beelde deur bekende kunstenaars, asook ʼn versameling Afrika-kunswerke en -artefakte.

(Foto: Verskaf)

Die materiaal vir die binnehuisversiering het Engelenburg hoofsaaklik uit die buiteland ingevoer. Die duur muurbehangsels, pragtige houtpanele met Franse koperbeslag op die ingeboudekaste, ontwerpte vuurherde en muurversierings, die oorvloed kunsskatte en oudhede uit alle wêrelddele waarmee die vertrekke tot oorlopens toe gevul is, slaan my asem weg. Sy huis laat geen twyfel dat hy ʼn belangrike man op sy dag was nie.

Engelenburg se nalatenskap

Met sy koerant De Volksstem het Engelenburg joernalistiek as ʼn professionele beroep in Suid-Afrika gevestig. Hy het ook vir museums gestry en tot geskiedskrywing, argeologie, museum- en argiefwese in Suid-Afrika en die historiese bewussyn van die Afrikaner bygedra. Deur sy belangstelling in die bevordering van argitektuur, die visuele en uitvoerende kunste het hy die Afrikaner se kulturele identiteit help bevorder.

(Foto: Verskaf)

Sy belangstellings was wyd. So was hy ook aktief betrokke by die ontwikkeling van lugvaart in Suid-Afrika en aanvanklik die ondervoorsitter van die burgerlugvaartkomitee. Die Suid-Afrikaanse Lugmag en ook die kommersiële lugvaart het hieruit voortgevloei. Hy was ook lid van die Royal Society of South Africa, wat in 1908 tot stand gekom het. Hy het waardevolle voorstelle gemaak oor hoe die polisiediens en die staatsartillerie in die ZAR-tydperk moes funksioneer, asook vir rampbestuur en dorpsontwikkeling in dié tydperk.

Engelenburg was familievriend en raadgewer vir generaal Louis Botha, wat die eerste minister van Suid-Afrika was. Hy was ook bevriend met Herbert Baker, Gerhard Moerdijk, Gustav Preller, Erich Mayer en ander bekendes van sy tyd.

Hy het saam met Botha en generaal Jan Smuts ʼn rol gespeel tydens die vredesonderhandelinge in Versailles, Frankryk, met die beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog in 1919. Na die oorlog het hy in 1922 ʼn reuse-aandeel gehad in die ontwerp van die Suid-Afrikaanse muntstelsel. Deur sy werksaamheid het Engelenburg ʼn groot bydrae gelewer om die destydse ou ZAR, maar veral ook die Unie van Suid-Afrika, tot ʼn staat te help ontwikkel.

Engelenburg is in 1938 in sy huis oorlede. Omdat hy en sy vrou Lorraine nie self kinders gehad het nie, het hy sy kontant aan sy broerskinders in Nederland bemaak. Maar sy kultuurskatte is vir ons in Suid-Afrika nagelaat.

In sy testament het hy die huis aan die destydse Unieregering bemaak en die inhoud daarvan is deur die regering uit die boedel aangekoop met die doel om die huis as ʼn museum in te rig. Die SA Akademie is daarna aangestel as die kuratore van die Engelenburghuismuseum en is dit vandag nog. Van 1942 af kon besoekers die museum besoek.

Vandag, 80 jaar later, was ek ook ʼn besoeker aan dié uitsonderlike museum. Die huis en sy eienaar se storie is ʼn legkaartstukkie waarsonder ons land se geskiedenislegkaart nie volledig gebou kan word nie. So, as jy jou weer in Arcadia bevind, bel die SA Akademie en gaan verken die Engelenburghuis – dis beslis ʼn besoek werd!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.