Entrepreneurskompetisie bied hupstoot vir Afrikaanse sakelui

Sanderien van der Walt gesels met deelnemers van vanjaar se entrepreneur van die jaar-kompetisie. (Foto: Philip Robinson/Verskaf)

Afrikaanse sakelui wat graag vir hul onderneming ʼn behoorlike voordeel wil gee, moet hul entrepreneuriese vere regskud.

Inskrywings vir die AfriForum Sakenetwerk se entrepreneur van die jaar-kompetisie is onlangs tydens ʼn sakeontbytgeleentheid in Pretoria geopen.

Sedert sy ontstaan in 2017 is dié unieke kompetisie daarop ingestel om Afrikaanse entrepreneurs met vaardighede en pryse te bemagtig en te bemoedig om ʼn merkwaardige verskil in hul direkte omgewing en gemeenskap te maak.

“Dit is ʼn onbetwisbare feit dat entrepreneurs die hartklop van die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Die lewe van ʼn entrepreneur kan egter eensaam wees en daarom is dit vir ons belangrik dat entrepreneurs deel van ʼn sterk netwerk en gemeenskap moet voel, selfs al stap hulle nie met die topprys in die kompetisie weg nie,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk.

Die AfriForum Sakenetwerk is ʼn unieke gebruikersgids waarop Afrikaanse, of Engelse ondernemings wat hul dienste of produkte óók in dié taal aanbied, gelys word.

Volgens Van der Walt is die AfriForum Sakenetwerk soos ‘n gemeenskap vir Afrikaanse sakelui. (Foto: Philip Robinson/Verskaf)

Die entrepreneur van die jaar-kompetisie word aangebied in samewerking met Akademia, die Afrikaanse private hoëronderriginstelling, met die regsfirma Steyn IP en die digitale agentskap Kwikstert as hoofborge.

Noemenswaardige voormalige wenners sluit in Louis Loubser, ʼn sitrusboer en brein agter die unieke Tree Hog-besproeiingstelsel, Alita du Plessis van die Purple Carrot-juweliersreeks, asook die susters Christine Buchanan en Louiza Rademan se organiese Oh Lief-babavelsorgreeks.

Maroela Media het vroeër berig dat Bertha Lewis, skepper van die unieke Afrikaanse Ling-sagtespeelding, in 2022 met die louere by dié kompetisie weggestap het.

Lewis, ʼn gekwalifiseerde spraak-en-taalterapeut, is die eienaar van die Ethnic Works-maatskappy wat Lingi, ʼn sagtespeelding wat 4 000 woorde in Afrikaans kan sing en praat, ontwikkel het.

Inskrywings sluit 24 Julie, waarna die publiek dan die toptien gunsteling-entrepreneurs deur ʼn aanlyn stemproses kan bepaal. Hierdie finaliste sal ʼn portefeulje moet inhandig en ook die geleentheid gegun word om hulself aan ʼn uitgesoekte paneel beoordelaars voor te stel.

Bertha Lewis, skepper van die unieke Afrikaanse sagtespeelding, Lingi. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die beoordelaars sal dan op grond van dié indrukke en portefeulje ʼn finale groep finaliste aanwys wat in die laaste rondte dinge sal uitspook om as die entrepreneur van 2023 aangewys te word.

Die wenner sal in Oktobermaand aangekondig word en ontvang onder meer ʼn R50 000 kontantprys, ʼn keuse van mentorskappe, nuwe promosiemateriaal en hope blootstelling.

Sedert 2017 het meer as 350 entrepreneurs vir dié kompetisie ingeskryf en meer as 16 000 lede van die publiek het vir hul gunstelinge gestem.

“Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie uniek maak is die platform wat dit vir die wenner bied. Ons wil entrepreneurs beloon, want ons sien hulle harde werk raak en ons weet wat dit verg om in Suid-Afrika sukses te bereik,” voeg Van der Walt by.

Volgens Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia, skep dié kompetisie die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n hupstoot benodig. “Boonop bied dit vir deelnemers ’n kans om uitstekende advies van ʼn verskeidenheid kundiges te ontvang.”

  • Klik hier om in te skryf.
  • Klik hier en hoor wat vorige jare se wenners te sê het.

Kyk Maroela Media se video oor Bertha Lewis se oorwinning tydens 2022 se kompetisie:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.