Digters stroom weer na gewilde gedigtefees

Digters stroom weer later vandeesmaand na McGregor naby Robertson in die Wes-Kaap vir die sewende McGregor-gedigtefees wat van 23 tot 25 Augustus plaasvind.

Die McGregor-gedigtefees word aangebied deur die MAC Project en is een van die gewildste literêre feeste in Afrika.

Vanjaar is die fees nóg groter met sowat 150 digters wat hul woordkuns in dié lieflike Wes-Kaapse dorpie met sy intieme, gesellige fees-atmosfeer gaan deel.

Die tema vir vanjaar se fees is “Die hart van die maan”.

Jennifer Johnson, die feesdirekteur, verduidelik dat hulle in die vormingsjare van die fees gewerk het met “sonenergie”, oftewel die direkte fokus om hul visie in werklikheid te omskep. “Noudat die gedigtefees op soveel vlakke gerealiseer het, kan ons ook tyd maak om ʼn bietjie meer te droom en dieper te kyk. Die maan as tema het daarom vir ons gepas gevoel,” sê sy.

Die fees bied ’n vol program met van die land se bekende gevestigde én jong digters wat hul werke gaan voorlees. Ontluikende digters kry ook die geleentheid om by die oop mikrofoon-sessies hul poësie met ander te deel.

Aanbiedings deur digters soos Joan Hambidge, Douglas Reid Skinner, Luna Paige, Willem Fransman Jr, Kobus Moolman, Pieter Odendaal, Dominique Botha, Peter Fox, Patricia Schonstein, Dorian Haarhoff, Marguerite Van der Merwe, Diana Ferrus, Andries Walter Oliphant en vele meer kan verwag word.

Bill Kennedy, stigter van die McGregor-gedigtefees, sê digkuns is iets wat hom nog altyd baie na aan die hart lê.

My Engels-onderwyseres op skool was baie passievol oor die geskrewe woord en sedertdien loop poësie soos ʼn goue draad deur my lewe. Poësie kan ons bring by oomblikke van ongeëwenaarde skoonheid en lei tot ʼn buitengewone bewustheid wat verband hou met ʼn magdom dinge,” sê hy.

Die wenners van vanjaar se gedigteskryf-kompetisie word op Vrydag 23 Augustus by die opening van die fees in die boeketent aangekondig.

Kaartjiepryse wissel van R50 tot R200 en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

Sien die volle program by www.poetryinmcgregor.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.