Gedig: Dorp in die Boesmanland

Argieffoto (Foto: Pam Patterson/Pixabay)

George Weideman (1947 – 2008)

Die dorp lê en slaap. Teen drie-uur
lê die huise
soos baksels brood in die maanlig;
ʼn skaduwee kry vorm
en ʼn kat kom te voorskyn, gly behoedsaam
oor die straat, word in ʼn skaduwee opgelos.

ʼn Hond skrik haarself orent en blaf
vertwyfeld; sug
en smelt weer saam met die stowwerige sak
waarop sy lê;
ʼn haan misreken hom kortstondig
en kraai Mauritius wakker.

ʼn Dowwe lig langs ʼn deurkosyn
verraai ʼn flikkerkers –
miskien het iemand koliek of tandpyn;
of dalk is dit die weduwee,
slaaploos
op soek na ʼn penning of floryn,

Dan wals ʼn windvlaag deur die dorp
en skud
die droë peule wakker: rinkel-rinkel tamboeryn,
die bome gesluierde buikdansers;
ʼn kleuter skreeu
in haar slaap, kort duskant zero-lyn.

Die dorp se duisend windpompe
raak oorstuurs
en draai ʼn lied van droefnis en van pyn
die vlaktes oor.
Maar die dorp se kinders is vêr,
veels te vêr om die lied te hoor.

Weg is die wind. Woerts op pad.
na die volgende plek.
Skaduwees bly skaduwees.
Onder die emaljewit maan
die dorpsheks
wat haar huise toerol in gesifte meel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.