“Golgota”, deur WEG Louw (1913–1980), vorm deel van sy gedig “Die passie van ons Heer”.
Met rooi, gewonde voete en die pyn
van dorings wat sy hoof in spot ontsluit,
het Hy – gelaaf met mirre en bitter wyn –
teen Golgota sy droewe gang gestuit.
Soldate het sy klere uitgetrek
en luid getwis oor kleed en lendedoek;
sy naakte liggaam het hul oopgevlek
oor stam en balk en dit met smaad vervloek.
Die wrede spykers word deur vlees en been
met felle slae ingejaag: sy hande,
verstrak in laaste, goddelike seën,
het Hy wyd uitgebrei oor álle lande…
Die vroue roep in duisternis en treur
Die aarde beef… Die tempelvoorhang skeur.
- Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.