Sheila Cussons (1922 – 2004)
Hoe maklik kan net die trek
van ʼn mond se woord jou blus
as jy nog beginnend is, vuur.
Hoe maklik skud ek die druppel af
wat ʼn stad kan oorweldig.
Wat ʼn omvang van nouliks iets
tot armageddon.
En die brein ook: van ʼn inkstippel,
ʼn enkele noot, tot Londen, die Mattheus-Passie.
Die ontsaglikste dinge het die kleinste beginne,
en God so heeltemal nie
dat Hy nie van gepraat kan word
in verlede, teenswoordige of toekomstige tyd nie,
Hy van die ligste aanraking
wat as Hy sou wil
vuur, vloed, brein oombliklik kan ontskep.
Die lieflikste, mooiste laaste drie reëls….