Gedig: Laaste oase

Argieffoto (Foto: Republica/Pixabay)

Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek . Om dié biblioteek van meer as 18 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.

“Laaste oase” deur Anna Green   

As ek vroegoggend oor my lyf tas
Herken ek dit skaars as myne –
Dié woestyn van skete en pyne
Karoobossies waar dit eens so welig was

Van hupse heuwels is net vlaktes oor
Vlak are soos kaal karees teen die lig
En daar’s skurwe skalieklip op my rug
Die stryd teen die son is vlek-vlek verloor

Drade wat my grond moes omhein
Lê slap in die barre sand
My lyf is nou ʼn niemandsland
Wat niemand meer wil kleim

ʼn Honger hiëna lag daagliks om die draai
En die wind is teen my
Hy sal my reuk kry
Ek weet dié lyf gaan my nog verder verraai

Maar daar’s koelte teen al dié ontbering
Waar gedagtes soos ʼn koel waterval
In my uitgestrekte hande val –
ʼn Laaste oase van malse herinnering

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.